Landbou
Kies regte weilusern
KOBUS VAN TONDER (lbw@landbou.com)

In die Suid-Kaap word lusern veral in droëlandtoestande verbou en regstreeks deur hoofsaaklik wolskape bewei. Juis daarom is dit nodig dat boere die regte kultivars vir beweiding kies.

SA Standaard, daardie jarelange staatmaker-lusernkultivar, het minder goed gevaar in weidingproewe wat die afgelope twee jaar in die Suid-Kaap gedoen is.

Die benutting van lusern in Suid-Kaapland se kleingraanstreke verskil hemelsbreed van dié in die res van die land. Lusern word elders hoofsaaklik vir hooiproduksie en boonop meestal onder besproeiing verbou, maar in die Suid-Kaap word dit in droëlandtoestande verbou en regstreeks deur hoofsaaklik wolskape bewei.

Só sê dr. Johann van Heerden, 'n weidingkundige van die Landbounavorsingsraad (LNR) se Instituut vir Veld en Weiding (VWI), onder wie se beheer die lusernproewe gedoen word. Met dié proewe wil hy boere help om die regte kultivars vir beweiding te kies. In die Suid-Kaap is graanboerdery sonder lusern as wisselbougewas haas ondenkbaar.

As 'n weigewas word lusern reeds in 'n vroeë stadium bewei. Dit verg daarom 'n ander benadering tot navorsing vergeleke met lusern onder besproeiing. Die resultate wat met snyproewe verkry word, is nie altyd 'n goeie aanduiding van wat prakties op die plaas met lusern onder beweiding gebeur nie.

Hy meen die ideaal waarna met weiproewe gestreef behoort te word, is om vee so vroeg moontlik by die proewe te betrek. Sodoende kan die ware produksie van 'n betrokke weigewas onder toestande van beweiding gemeet word. Verliese as gevolg van vertrapping en die druk wat die weidende diere op die gewas plaas, word sodoende in ag geneem - iets wat nie altyd die geval by snyproewe is nie. Kultivarverskille onder weidingdruk sal dus beter in sulke proewe uitgewys word, sê Van Heerden.

SA Standaard was feitlik ál kultivar wat tot in die 1970's kommersieel beskikbaar was. Hoewel dit as 'n kultivar beskou word, is dit eintlik net 'n mengsel van genotipes. Dit sou waarskynlik meer korrek wees om na SA Standaard as 'n landras te verwys wat sy ontstaan op plase gehad het deur die samevoeging van 'n groot aantal spesies, lyne en moontlik ook ingevoerde kultivars.

Alles dui daarop dat lusern sy beslag op Oudtshoorn gekry het, waar dit hoofsaaklik as weiding vir volstruise aangewend is. In daardie toestande het 'n mengsel van geharde, weibestande en wyd aangepaste tipes ontstaan wat uiteindelik as SA Standaard bekend sou raak en só bemark is.

'n Ernstige luisplaag in die sewentigerjare sou egter vir 'n groot ommekeer in die Suid-Afrikaanse lusernbedryf sorg. Die produksie en oorlewing van SA Standaard is erg hierdeur benadeel. As oplossing vir die probleem is die saadbedryf toegelaat om oorsese kultivars vir die plaaslike mark in te voer.

Baie van die ingevoerde kultivars was egter meer winteraktief, wat hulle gevoeliger vir beweiding gemaak het. Dit het gelei tot navorsing waarvolgens daardie tipes lusern geëvalueer kon word wat meer geskik was vir beweiding en ook beter teen luise bestand was as SA Standaard.

Van Heerden se proef word sedert Mei 2001 op Roodebloem, die CRK-proefplaas naby Caledon, gedoen. Altesame 11 kultivars van ál die belangrikste saadhandelaars is betrek. Dié kultivars, asook hul klas van winteraktiwiteit, word in die tabel hieronder gegee.


Nege van die kultivars word as "weitipes" deur die bedryf bemark, terwyl twee kontrolekultivars, naamlik PAN 4956 ('n winteraktiewe of hooitipe) en SA Standaard, ook ingesluit is.

Om beweiding moontlik te maak, is groot persele (53 m x 5 m) gebruik. 'n Saaidigtheid van 20 kg/ha is toegepas. Ál die proewe is drie keer herhaal. Die kampe is afgekamp en word straf bewei. Om die meet van produksie moontlik te maak, word van uitsluitingshokke gebruik gemaak.

Persele is sowat elke ses tot agt weke gemonitor deur monsters binne en buite elke hok te neem. Die materiaal word vervolgens skoon gewas, gedroog en geweeg. Die produksietempo (kg/ha per dag) van die onderskeie kultivars word beraam as die verskil tussen die hoeveelheid materiaal buite die hokke met die vorige oes en die hoeveelheid materiaal binne die hokke met die huidige oes, gedeel deur die aantal dae tussenin.

In September 2002 is 'n beraming van die plantestand gemaak deur vierkante met 'n rooster op die persele te plaas en die aantal blokkies te tel waarin lusernplante of dele daarvan voorkom. Op dié manier kon 'n indeks van standdigthede bereken word.

In die figuur word die geakkumuleerde produksie van die 11 kultivars oor twee seisoene weergegee. Die data in die grafiek is die som van die gemiddelde opbrengs van elke kultivar op die opeenvolgende oesdatums. Veral die kultivars WL 414, WL 320 en PAN 4546 het baie goed gevaar. SA Standaard en Genesis het die swakste gevaar.


Die kultivars WL 320, PAN 4546 en Alfagraze het die digste plantpopulasies gehad, terwyl die stande van Genesis, PAN 4956 en SA Standaard die swakste was.

Volgens Van Heerden toon hierdie voorlopige resultate ongetwyfeld daarop dat verskeie kultivars beskikbaar is wat aansienlik beter as SA Standaard vaar. Hy het veral na WL414, PAN 4546 en WL 320 verwys ten opsigte van opbrengs en oorlewing. Die proef bewys ook hoe noodsaaklik dit vir boere is om die regte kultivars vir weidoeleindes te kies.

30 April 2004