Suid-Afrika se tabakbedryf glo hy het die regte resep om opkomende boere op die been te help. Te oordeel na die jongste oes op die lande is hierdie grootse poging dalk net die ware Jakob.
Tabak is 'n hoëwaardegewas waaruit 'n bestaan op klein stukkies grond gemaak kan word. Daarom is dit waarskynlik een van die geskikste gewasse waarmee opkomende boere tot onafhanklike landbouvolwassenheid gelei kan word.
Mnr. Francois van der Merwe, voorsitter van Tabak RSA, het op 'n onlangse inligtingsdag by die Hereford-gronde, naby Groblersdal, gesê meer as 90 % van alle tabak in Afrika word deur kleinboere geproduseer. Tabak kan dus 'n belangrike rol speel in grondhervorming en die sosiale opheffing van gemeenskappe in Suid-Arika.
Juis daarom het betrokkenes in die plaaslike tabakbedryf die Hereford-tabakprojek in 2001 tot stand gebring. Die instansies wat daarby betrokke is, is Tabak RSA, SA Golden Leaf (SAGL), British American Tobacco (Bat), die nasionale Departement van Landbou asook Mpumalanga s'n en die boerevereniging Hereford-Tafelkop.
Die oorhoofse projekleier is Tabak RSA, terwyl Bat die projek finansier. SA Golden Leaf is verantwoordelik vir die verskaffing van voorligting aan die opkomende boere en die Departement van Landbou het 'n besproeiingsdam teen R6 miljoen gebou om elke hoewe van water te voorsien, sê Van der Merwe.
Mnr. Deon Meyer, tabakvoorligter by die SAGL, is sedert 2003 die bedryfsbestuurder van die Hereford-tabakprojek. Hy sê die tabak is aanvanklik deur individuele boere verbou, maar om verskeie redes wou hierdie produksiestelsel nie behoorlik op dreef kom nie.
Vóór die afgelope seisoen is herbesin en is besluit om die strategie te verander en die produksie binne groepsverband aan te pak. Vir hierdie doel is drie produksiegroepe gevorm uit die 19 boere wat onderneem het om tabak te plant. Die Hereford-gronde huisves 33 boere. Die groepvorming het die onderskeie bestuursaspekte, soos grondvoorbereiding, plant, onkruidbestryding, top en chemiese plaagbestryding, aansienlik vergemaklik.
Meyer sê weens die droë voorseisoen is altesame 20,5 ha eers van 4 tot 13 Januarie beplant met drie kultivars, naamlik OD 3, OD 272 en LK 33/60. Die plantestand van hierdie aanplantings het van 20 000 tot 26 000 plante per hektaar gewissel met 'n gemiddelde topdiepte van 16 blare.
Sedert planttyd tot einde Maart het 442 mm reën oor die Hereford-gronde uitgesak. Dit was nooit nodig om uit die nuwe opgaardam te besproei nie. Bemesting het bestaan uit 85 kg stikstof, 40 kg fosfaat en 120 kg kalium per hektaar. Die gemiddelde opbrengs word beraam op 2 500 kg per hektaar.
"Vir die onmiddellike toekoms moet gekyk word na 'n wisselboustelsel met mielies en katoen. Oor vyf jaar moet al hierdie boere op gevestig wees en onafhanklik met hul boerderye kan voortgaan," sê Meyer.
Mnr. Jerry Sefoloshe, voorsitter van die boerevereniging Hereford-Tafelkop, sê lede van hierdie vereniging wil niks anders doen as om te boer nie. "Ons wil nie praat-praat-praat, of net agter 'n rekenaar sit en tik, of net vergaderings hou nie, want daardie dinge maak nie werk nie, dit mors sommer net tyd," sê Sefoloshe.
Van der Merwe sê hierdie projek illustreer die tabakbedryf se verbintenis tot die toekoms van tabak in Suid-Afrika, asook die rol wat die bedryf speel om die Regering te help met die heropbou van die land. Dit is wêreldwyd bewys dat tabak die ideale gewas is vir opkomende boere. Grondhervorming is 'n werklikheid in Suid-Afrika waarmee die tabakbedryf die Regering kan help.
Nogtans is die Regering baie anti-tabak en plaaslike tabakbeheerwetgewing is van die beperkendste ter wêreld. Die Regering behoort die tabakbedryf se hand te vat omdat die bedryf groot finansiële en sosiaal-ekonomiese voordele bied. Die Regering is trouens die grootste aandeelhouer in die tabakbedryf, want 52 % van die kleinhandelprys van tabakprodukte beland uiteindelik in die staatskas in die vorm van aksynsbelasting en BTW, terwyl al die ander betrokkenes in die bedryf die oorblywende 48 % onder mekaar moet verdeel.
Die tabakbedryf bied werkgeleenthede vir 25 000 mense, en met die realistiese moontlikheid om opkomende boere te ontwikkel en gemeenskappe op te hef, is dit duidelik dat die Regering sy siening van die bedryf moet aanpas. Daarby behoort insetverskaffers asook finansiële instellings betrokke te raak by hierdie en soortgelyke projekte.
Omdat daar risiko's en koste by betrokke is, kan sulke projekte net slaag as 'n gesamentlike onderneming as beginsel nagestreef word. Die tabakbedryf het hierdie projek om die regte redes aangepak. Die ontwikkeling van só 'n projek behels kapitale besteding, uitgawes vir die opheffing van die gemeenskap en die finansiering van produksiekoste. Die opleiding van mense in verskillende vaardighede is die kern van die belegging in mense op lang termyn.
Meer projekte van hierdie aard word binne die volgende drie tot vyf jaar voorsien. Daarom is dit belangrik dat die bedryf, die Regering, finansiële instellings én insetverskaffers almal hul kragte, hulpbronne en kundigheid verpoel om 'n sukses daarvan te maak.
"Die Suid-Afrikaanse tabakbedryf is 350 jaar oud en niks sal ons verhoed om ons besigheid op 'n verantwoordelike wyse voort te sit om vir onsself en ons mense 'n lewe te maak en om te help om hierdie land op te bou nie. Die Regering moet hiervan kennis neem en eerder die tabakbedryf koester as om dit te kasty," is Van der Merwe se boodskap.
Vereistes vir sukses
Daar is 'n paar belangrike voorvereistes vir die vestiging van suksesvolle landbouprojekte vir opkomende boere, sê mnr. Louis Smit, besturende direkteur van SA Golden Leaf. Dit is die volgende: