Danksy vorderinge op die gebied van molekulêre genetika en die toepassing van klassieke genetiese beginsels word siektebestande mielies wat die verwoestende effek van streepsiekte, grysblaarsiekte en noordelike blaarskroei kan uitskakel, nou gekweek.
Swamsiektes, soos grysblaarvlek, noordelike blaarskroei en streepsiekte wat deur 'n virus veroorsaak word, kan 'n verwoestende uitwerking hê op oeste in die natter mielieproduserende gebiede van KwaZulu-Natal, die Laeveld en ook die noordelike buurlande.
Dié probleem kan iets van die verlede wees met mielies wat op 'n natuurlike manier ontwikkel word om siektebestand te wees en wat binne die volgende vier jaar kommersieel beskikbaar sal wees.
Prof. Dries Retief van die Universiteit van Stellenbosch (US), wat in beheer van die projek is, sê die navorsingsprojek wat die Fakulteit Landbou- en Bosbouwetenskappe aan die US saam met vier van die grootste mieliesaad-verskaffingsmaatskappye in die land aangepak het, is 'n poging om bestaande goeie saad wat hoë opbrengste lewer te vervang met dieselfde goeie saad wat boonop siekteweerstand het.
Die Innovasiefonds van die Departement van Wetenskap en Tegnologie (DST) het R4,6 miljoen vir dié projek bewillig. Retief sê daar word verwag dat daar binne twee tot drie jaar saad vir vermeerdering deur Pannar, Linkseed, Afgri en Nelson Genetics hul vennote in die projek beskikbaar sal wees. Die saadhibriede sal mielies lewer wat bestand is teen streepsiekte, grysblaarvlek en noordelike blaarskroei.
In teenstelling met die ou teelprogramme, waar volgens seleksie met behulp van agronomiese evaluering gedoen is en goeie gene dikwels verlore gegaan het, is die tegniek van merker-ondersteunde teling ("marker-assisted breeding") wat Retief en sy span gebruik, gerig en presies.
Retief, wat al meer as 20 jaar navorsing doen in mensgenetika en die laaste sowat 12 jaar ook by plantgenetika en spesifiek mielies betrokke is, sê dat deurbrake in DNS-tegnologie oor die laaste twee tot drie jaar telingsmetodes vir die genetiese verbetering van gewasse dramaties verander het.
"Die beskikbaarheid van uitgebreide molekulêre mieliechromosoomkaarte maak dit nou moontlik om seleksie waarin DNS-merkers gebruik word in mielies te doen. Dit versnel die telingsproses geweldig omdat ons met absolute sekerheid die siekteweerstandseienskappe by die superieure lyne kan inbou."
'n Ander belangrike aspek van die telingtegnologie is dat dit nie-GM is. "Die verskil tussen genetiese modifikasie (GM) en ons tegniek is dat ons natuurlike siekteweerstand in mielies identifiseer en deur middel van genetiese tegnieke hierdie gene terugteel in mielielyne wat hoë opbrengste lewer. Dit is dus nie gene van ander spesies wat gebruik word nie, maar natuurlike siekteweerstand-mutasies in gene van die mielieplant wat benut word," sê Retief.
"Deur die nuutste biotegnologie (molekulêre genetika) in te span, kan ons nou spesifieke DNA-merkers vir siekteweerstandsgene identifiseer. Hierdie tegnologie word in samewerking met die plantetelers gebruik in die teelprogram om mielieplante te identifiseer wat weerstand het teen die siektes."
Hy sê blaarmonsters word deur middel van DNA-merkers in die laboratorium ondersoek vir die teenwoordigheid of afwesigheid van die siekteweerstandsgene. "Hierdie seleksieprogramme wat op DNS-merkertegnologie gegrond is, verseker dat superieur geteelde lyne verkry word met die bykomende voordeel van bestandheid teen die belangrikste siektes." Uiteraard is tegnologie vir merker-gesteunde teling geskik vir enige ander gewas, mits meer oor die genoom bekend is, sê Retief. Die probleem is egter dat kartering van alle ander organismes se genome ver agter dié van die mens is. Boonop is dié tegnologie nie juis goedkoop nie.
Res van Afrika kan ook baat
Mielies is een van die vyf belangrikste gewasse in die wêreld (koring, mielies, rys, aartappels en sojabone). In Suid-Afrika word jaarliks sowat 40 % van die totale bewerkte oppervlakte met mielies beplant.
Siektes, soos grysblaarvlek, noordelike blaarskroei en streepsiekte, wat deur 'n virus veroorsaak word, kan, veral in die natter, meer humiede gebiede, opbrengste met tot 60 % verlaag.
Dié probleem kan iets van die verlede wees met mielies wat op 'n natuurlike manier ontwikkel word om siektebestand te wees en wat binne die volgende vier jaar kommersieel beskikbaar sal wees.
Die Fakulteit Landbou- en Bosbouwetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US) en vier van die land se grootste mieliesaad-verskaffingsmaatskappye pak dié projek saam aan.
Prof. Dries Retief van die US, wat aan die hoof van dié projek staan, sê dit is 'n poging om bestaande goeie saad wat hoë opbrengste lewer te vervang met dieselfde goeie saad, wat boonop siekteweerstand het.
Siektebestande mielies sal ook die uitgawe aan en skadelike uitwerking van chemiese spuitstowwe op die omgewing beperk. 'n Verdere voordeel van die navorsingsprojek is dat bestaande, beproefde mielielyne wat spesifiek vir hoë opbrengs in Suid-Afrikaanse toestande geteel is, verbeter word.
Terwyl die navorsers saam met plantetelers die aanvanklike teling doen, sal die saadmaatskappye die vermeerdering behartig en die saad kommersieel beskikbaar stel in Suid Afrika en moontlik ook aan sekere dele in Afrika. Retief sê as dié projek afgehandel is, sal hulle nie ophou soek na nuwe, natuurlike bronne van nuttige weerstandbiedende gene wat voortdurend deur mutasies plaasvind en bloot nog nie ontdek is nie.
11 Junie 2004