Landbou
Bemes reg vir kanola en opvolggewas
AMELIA GENIS (agenis@landbou.com)

Die meeste boere in die winterreëngebiede besef reeds die waarde van kanola as 'n wisselbougewas. Hulle kan egter nog beter vaar deur bemesting, plae en onkruid beter te bestuur.

Geen boer het nog ryk geword uit kanola nie; tog het dit 'n onvervreembare plek in veral Suid-Kaapse wisselboustelsels gevind, veral omdat dié gewas se grootste voordeel in sy uitwerking op opvolggewasse lê.

"Meer en gesonder koring en minder grondsiektes is die belangrikste voordele van kanola in 'n wisselboustelsel," sê mnr. Dirk van Papendorp van die plaas Voorstekop, Heidelberg, en voorsitter van Graan Suid-Afrika se kanola-bedryfskomitee.

Kanola het 'n "sekondêre berokingseffek" op swamsiektes in die grond en is 'n belangrike instrument in die stryd teen grasonkruid met weerstand teen chemiese middels, sê Van Papendorp. Ná kanola kan boere meestal 'n groter oes verwag, maar ervaar dat die proteïeninhoud van koring ná kanola daal. Hoewel kanola 'n peulplant is, bind dit nie stikstof nie en verbruik self baie daarvan. Dit beteken dat 'n goeie bemestingsprogram noodsaaklik is om die opvolggewas vir kanola se voordele ontvanklik te maak.

Om te verseker dat die proteïeninhoud van graan nie laer is as dit ná kanola geplant word nie, verg 'n noukeurige begrip vir veral stikstofbemesting in die opvolggewas, sê mnr. Jannie Bester van die onderneming Kynoch op Somerset-Wes.

"Stikstof is nodig vir die groei en ontwikkeling van graan en beïnvloed die opbrengs. Tekorte sal die chlorofilinhoud in plante verlaag, groei vertraag, opbrengs verlaag en die vervaardiging van proteïen en olie benadeel." Bester sê om slaafs volgens riglyne te bemes, is meestal nie 'n oplossing nie, omdat vele ander faktore ook bepaal of genoeg stikstof beskikbaar is vir proteïensintese.

Die stikstofbehoefte van verskillende kultivars verskil byvoorbeeld, so ook die potensiaal van die kultivars op verskillende plase of lande. Dit is nie moontlik om met die oog akkuraat te bepaal of 'n stand koring genoeg stikstof het nie. Daarom is blaarontledings die regte ding.

Bewerkingspraktyke kan 'n uitwerking hê op die hoeveelheid stikstof wat beskikbaar is. "Ons bewerk al minder, maar dit is tog bewerking wat die afbreek van organiese materiaal deur mikro-organismes en die omskepping daarvan tot mineraalvorme, soos ammonium en nitraat, wat deur die plant opgeneem kan word, bevorder."

Grondvog en suurstof is noodsaaklik vir mikrobe-aktiwiteite en dit moet dus reg wees.

Bester sê as die pH van die grond nie neutraal (5,5 tot 6,5) is nie, sal min van die makro- of mikro-elemente volledig beskikbaar wees. "Wat makro- en mikro-elemente betref, geld Justus von Leibig se wet van 1872 steeds: Die oes word bepaal deur die element waarvan die tekort of beperking die grootste is. Jy kan dus stikstof gee tot jy blou in die gesig is, maar as daar byvoorbeeld 'n swaeltekort is, is dit die beperkende faktor wat jou oes gaan bepaal."

Kanola is 'n doeltreffende gebruiker van mikro-elemente en het dus meer nodig as graan. "As die kanola dus te min swael gekry het, kan dit maklik gebeur dat die koring wat in die volgende seisoen op daardie land gesaai word, 'n swaeltekort kan ondervind wat tot 'n laer proteïeninhoud kan lei."

Bester sê boere moet die volgende in gedagte hou:

  • Die uitloging van kunsmis word beïnvloed deur reënintensiteit asook die sand-, klip- en klei-inhoud van die grond.
  • Kanolastoppels is houtagtiger as graanstoppels en breek stadiger af. Daarom moet die stikstoftoediening aangepas word om voorsiening te maak vir die verwerking van stoppels én die behoefte van die daaropvolgende koringplant.
  • Boere moet die patroon waarvolgens stikstof deur graan opgeneem word, ken. Stikstoftoediening tot laat in die koring se groeiseisoen kan nog 'n uitwerking hê op die opbrengs. "Wanneer ons dus genoeg of te veel stikstof te vroeg toedien, skep ons groot potensiaal wat later in die seisoen weens ongunstige vog- en bemestingstoestande nie volgehou kan word nie."
  • Vogstremming teen die einde van die seisoen, soos meestal in die wintersaaigebiede ondervind word, is ook nie bevorderlik vir die vervaardiging van proteïen nie.
  • Die potensiaal van koring ná kanola is gewoonlik groter as koring ná koring, hoofsaaklik as gevolg van minder onkruid en die gesonder groeitoestande. "As ons dan nie die stikstof-bobemesting aanpas nie, gaan ons baie aan die gehaltekant inboet."
  • Boere moet ook let op die verdunningsfaktor. Dit beteken dat die beskikbare stikstof in geval van groter produksie verdeel moet word tussen meer graan. Die groter potensiaal vereis meer stikstof-bobemesting omdat te min stikstof en ongunstige klimaatstoestande katrastrofies kan wees vir proteïensintese.

    Om te verseker dat die regte hoeveelheid stikstof beskikbaar is wanneer die plant dit nodig het, moet die grond gereeld en deeglik ontleed word om te sorg dat die pH reg is, sê Bester. Dit sal verseker dat die regte hoeveelheid van die ander elemente wat die opname of beskikbaarheid van stikstof beïnvloed, beskikbaar is.

    Oesreste vereis 'n bepaalde benadering. Brand is nie die antwoord nie. As alternatief moet alle reste bo-op die grond bly.

    Stikstoftoediening moet aangepas word na gelang van die potensiaal van die kultivar, die land en die jaar. Die stikstof moet oordeelkundig geplaas word: Die regte hoeveelheid moet teen planttyd toegedien word en die regte hoeveelheid op die regte tyd gedurende die groeiseisoen met inagneming van die sake wat vroeër genoem is.

    Die enigste manier om akkurate bemestingsbestuur te verseker, is gereelde grondontledings, kundige hulp en toewyding tot gehalte.

    "Boere se mikpunt is die beste produk, maar ons hanteer bemesting soos 'n kommoditeit deur rond te smous vir lae pryse. Op die ou end bespaar ons 'n bietjie, maar verloor baie meer deur te min stikstof of die verkeerde stikstofbron op die verkeerde tyd toe te dien," sê Bester.

    Die prys is onder druk
    Boere kan nou R1 680 per ton op 'n vastepryskontrak vir kanola kry, sê mnr. Kellie Becker, die bedryfsdirekteur van Southern Oil Limited (SOILL) op Swellendam.

    Hy meen die boere verwag dat die prys gaan styg omdat die meeste van hulle minimumpryskontrakte teen R1 600 per ton met SOILL gesluit het. Kragtens dié kontrakte is R1 600 per ton die minimum prys wat boere kan kry. Indien die prys tot 10 November styg, is dit tot hul voordeel.

    Boere meen dit is nog te vroeg om te sê hoe vanjaar se oes gaan wees, maar in die Suid-Kaap (Heidelberg en Swellendam) het boere meer as verlede jaar gesaai: 46 000 ha teenoor 44 200 ha in 2003.

    Becker sê hulle kan alle kanola wat plaaslik geproduseer word, verwerk. Hulle is besig om 'n stelsel te ontwikkel waarvolgens kanola se olie-inhoud vinnig en op koste-doeltreffende wyse getoets kan word om mettertyd 'n premie vir hoër olie-inhoud te betaal.

    SOILL is optimisties oor die plaaslike bedryf, en is besig om sy verwerkingsaanleg se kapasiteit van 25 000 ton in die volgende jaar te verdubbel. Die bestaande volpers gaan 'n voorpers word en 'n chemiese ekstraksie-eenheid wat olie doeltreffender kan onttrek, sal geïnstalleer word. Ongelukkig is hulle baie kwesbaar vir die optrede van olie-invoerders en ongesofistikeerde spelers in die mark. Becker sê dit sal help as invoer beter gereguleer word en hulle die stryd teen die verkopers van nagemaakte kanola-olie kan wen.

  • Die regstreekse produksiekoste is sowat R1 600/ha in die Suid-Kaap en net meer as R1 000/ha in die Swartland. Dit sluit net brandstof- en masjinieriekoste, saad, kunsmis en spuitstof in. Die sewe beste boere in die Suid-Kaapse kanolakompetisie het verlede jaar gemiddeld 1,9 ton/ha geoes, maar slegs enkele lande het hierdie opbrengs gegee. In die Swartland is die gemiddelde opbrengs 1,4 ton/ha.

    Slakke slurp wins op
    Naakslakke, wat die afgelope drie jaar groot verwoesting saai in gesaaides in die Caledon-omgewing, het vanjaar na ander dele van die Suid-Kaap uitgebrei. Dit is die volgende groot plaag wat graanboere die hoof sal moet bied, sê mnr. Robert Bosch van die onderneming Viking op Caledon.

    Boere rondom Caledon het die slakke drie jaar gelede die eerste keer opgemerk. Die vermoede is dat hulle deur minimumbewerking bevoordeel word.

    Die slakke hou van koelte en klamheid, sê Bosch, soos in swaar, kleierige grond, of grond waar die ysterklip opgebreek is, teen suidelike hellings en op die kante van lande waar daar min versteuring van grond is.

    As 'n graan- of kanolaland feitlik oornag begin kaal raak, of daar skielik kaal kolle verskyn, kan 'n boer maar die kenmerkende blink slak-slymspore oral op klippe of kleigrond gaan soek. Bosch sê in redelik gevestigde kanola vreet die slakke ook ronde gate in die middel van blare.

    Dit sal boere wat nie slakke in hul lande het nie, of in 'n gebied bly waar slakke 'n plaag is, die moeite loon om voorsorgmaatreëls te tref.

    Slak-lokaas is die enigste manier om die slakke te bestry. Bosch sê lokaas met metaldehied as aktiewe bestanddeel en wat nie so vinnig blus ná 20 mm tot 30 mm reën nie, werk die beste. Die lokaas moet ook nie te veel ander aktiewe bestanddele bevat wat voordelige insekte sal laat vrek nie.

    Die aanbevole dosis is 5 kg tot 10 kg per hektaar.

    Bosch sê die meeste pille wat beskikbaar is, werk goed, maar boere moet die koste en die omvang van die slakbevolking goed opweeg. Vir 'n groot slakprobleem is die duurste en sterkste middel nie noodwendig die kostedoeltreffendste nie. Nadat die slakpille uitgestrooi is, moet die lande nagegaan word. As 'n boer sien die slakpille word vinnig minder, moet hy weet daar is 'n groot slakprobleem. Volgens Bosch is dit goed om voor opkoms weer pille te strooi en ook te sorg dat daar lokaas is as die plantjie opkom. "Jy moet maar daarmee aanhou as jy jou oes wil red."

    20 Augustus 2004