Landbou
Biologiese boerdery op die wenpad
JOHN FAIR

Biologiese en organiese boerdery kan op groot skaal teen lae koste én lae risiko bedryf word. Dié tipe boerdery kan ook baie betalend wees. Hierdie gevolgtrekking was duidelik tydens 'n besoek van 'n groep Suid-Afrikaanse boere aan biologiese en organiese boerderye in Amerika.

'n Groep Suid-Afrikaanse boere het onlangs 'n toer na Amerika onderneem om verdere kennis oor die praktyke van biologiese en organiese boerdery op te doen. Die belangrikste indruk van dié groep is dat biologiese boerdery onbetwisbaar op die wenpad is. Besoeke aan boere wat geregistreerde organiese produkte verkoop — organiese boere is inderdaad biologiese boere — het ook dié boodskap opgelewer.

Die besoekers uit Suid-Afrika het plase in twee gebiede met uiteenlopende klimate besoek, naamlik die koue noorde (Wisconsin en Iowa) en die warm, orkaangeteisterde suide (Florida).

Ek wil vandeesweek op drie leersame aspekte van die toer wys. Dit is my persoonlike waarnemings.

Waarom sal Suid-Afrikaanse boere heelwat geld in die opdoen van kennis oor biologiese boerdery in Amerika belê, veral as dit in die noordelike state met 'n hoë reënval en vrek koue winters gesoek word?

Die antwoord is eenvoudig: Die mikpunte en beginsels van biologiese boerdery is universeel. Die basiese beginsels van biologiese boerdery is: Gesonde grond gee gesonde plante, gesonde plante gee gesonde diere, en gesonde plante/diere gee volhoubare winste.

Biologiese boerdery word op drie hoofpilare gebou. Die eerste is om die grond se makro- en mikro-minerale in die mees voordelige balans te bring. Die tweede is om grondbewerkingspraktyke toe te pas wat sorg dat die grond los is. Die grond moet ook 'n goeie water- en lughouvermoë hê sonder dat dit oorbelug en in 'n kwesbare toestand vir wind- en water-erosie is. Die derde pilaar is om grondlewe te herstel en op 'n hoogs aktiewe vlak te hou.

Hierdie komponente van biologiese boerdery is natuurlik, interaktief en interafhanklik. Só kan die toediening van kalsium die grondstruktuur verbeter en terselfdertyd ook as voeding vir mikro-organismes dien. 'n Verbeterde grondstruktuur is 'n beter "huis" vir mikro-organismes, wat dan meer minerale (plantvoedingstowwe) vir plante beskikbaar kan stel. Bowendien skei mikro-organismes gom af wat die grond se krummelstruktuur verbeter.

Dit was vir die groep Suid-Afrikaanse boere besielend om te sien dat biologiese boerdery op plaas ná plaas suksesvol bedryf word. Dit was ook hoogs prikkelend vir hul kreatiewe denke oor hoe die beginsels van biologiese boerdery in Suid-Afrika toegepas kan word.

Die eerste leersame aspek van die toer was dat biologiese boerdery op groot skaal bedryf word en dat dit teen lae koste en lae risiko én met hoër winste gebeur. Die tweede is dat organiese boerdery hoogs betalend kan wees.

Kort voor ons vertrek na Amerika het ek 'n oproep gekry van 'n boer vir wie ek baie respek het. Hy het gesê hy wil organies boer, maar nadat hy nie daarin kon slaag om een suksesvolle organiese boer — dit is een wat volhoubare winste maak — kon opspoor nie, het hy besluit om eerder biologies te boer. As hy saam met ons op die toer gegaan het, sou hy nou beslis anders gedink het.

Ek moet erken dat my voorbehoude oor organiese boerdery uit die weg geruim is. Die groep het boere wat organiese geproduseerde melk, groente en sitrus produseer, besoek.

Wat duidelik is, is dat dit makliker is om organies te boer as daar eers biologies geboer word. Soos 'n organiese boer onlangs aan my gesê het: "Biologiese boerdery is 80 % op die pad van organiese boerdery". Dit kom daarop neer dat gesonde grond eers geskep moet word, want dán is plante meer bestand teen siektes, plae en onkruid.

Anders gestel: Dit is bitter moeilik om organies te boer op grond waarin 'n ernstige tekort en/of oormaat van makro- en mikro-plantvoedingstowwe voorkom.

Die siekste grond wat ek nóg gesien het, was by 'n organiese olyfboerdery in die Kaap. Behalwe 'n ernstige tekort aan kalsium en 'n hoogs giftige oormaat van boor, was daar feitlik geen mineraal wat op die gewenste vlak was nie. Dié organiese boer het enorme produksieprobleme en van wins is daar geen sprake nie.

Een van die suksesvolste organiese boerderye in Amerika wat deur die Suid-Afrikaanse boere besoek is, is dié van die familie McLean, wat met sitrus in Florida boer. Hul insetkoste is heelwat laer en hul produksievlakke sowat 25 % hoër as dié van konvensionele boere in hul omgewing. Die boerdery verdien ook 'n premie van tot 100 % vir hul organiese produk.

Om alles te kroon, voeg hulle waarde toe deur 'n besonder heilsame en smaaklike organiese lemoensap te produseer en te bemark. Dit is beslis die lekkerste lemoensap wat die lede van die toergroep nóg gedrink het.

Soos alle boere weet, gaan dit egter nie altyd voor die wind nie. Net voor die groep die plaas besoek het, het 'n orkaan groot skade aangerig. Ons het self gesien hoe 'n pomelo-oes met 'n waarde van R300 000 op die grond lê. Hoewel dit beslis hul winste vanjaar 'n ernstige knou sal gee, bly hierdie organiese boerdery inherent baie sterk.

Mnr. Neal Kinsey, medeskrywer van die insiggewende boek Hands-on Agronomy wat oor die balansering van minerale in die grond handel, het met ons besoek aan die McLeans by die groep aangesluit. Hy is al byna 15 jaar lank die McLeans se konsultant. Die feit dat die grond op sy aanbeveling volgens die Albrecht-stelsel bemes word, is sonder twyfel 'n sleutelfaktor in die sukses van hierdie organiese boerdery.

Toerlede het besef dat stereotipiese landbounavorsing en -voorligting vir hulle as biologiese boere net 'n beperkte waarde inhou.

Die groep se grootste teleurstellings was besoeke aan formele landbou-opleidingsentrums. Die probleem is dat konvensionele "landboukundiges" fragmentaries dink en optree, en sodoende perspektief verloor. Die grootste enkele probleem is dat hulle feitlik geheel en al die lewe in die grond buite rekening laat.

Biologiese boere moet holisties dink en optree. Elke aksie wat hulle uitvoer, moet oorweeg word in die lig van hoe dit die ongelooflike grond-ekostelsel beïnvloed. Hoe biologiese boere die kloof tussen die wetenskaplikes wat fragmentaries dink en hulself kan oorbrug, sal later in die artikels oor biologiese boerdery bespreek word. Vir eers moet lesers egter die Amerikaanse toer saam met ons geniet. Ry dus saam op die toer soos dit in volgende uitgawes bespreek sal word.

  • Mnr. John Fair is 'n raadgewer oor biologiese boerderypraktyke.

    Leer grond bestuur
    Lesers van Landbouweekblad wat meer kennis oor biologiese boerdery wil opdoen, kan twee grondkursusse van mnre. Neal Kinsey en John Fair oorweeg. Die doel van dié kursusse is om boere in staat te stel om sinvol oor hul bemestingspraktyke te besin en kostedoeltreffende besluite daaroor te neem.

    Kinsey is 'n meester op die gebied van grondmineralisasie, wat die eerste stap in die rigting van suksesvolle biologiese en organiese boerdery is. Sonder die korrekte balans van plantvoedingstowwe sal die produksiepotensiaal van gewasse altyd gestrem bly en sal plante aan plae onderhewig wees. In teenstelling daarmee lewer gesonde grond gesonde plante en diere.

    Twee kursusse word by Maselspoort, Bloemfontein, aangebied — 'n basiese kursus oor twee dae op 1 en 2 Maart, en 'n gevorderde eendagkursus op 3 Maart.

    Twee toere word vir April en Augustus beoog om biologiese en organiese boerdery in Australië te bestudeer. Tydens die toer in April sal die klem op die verbouing van subtropiese gewasse en peulplante val, terwyl daar in Augustus meer na wisselboustelsels van wintergraan en peulplante gekyk sal word. Biologiese melk-, bees- en skaapboerderye sal ook besoek word. Die maak van kompos en die aanwending daarvan, asook die toevoeging van biologiese stimulante, sal baie aandag tydens albei toere geniet. Skakeling met die beste grondkundiges en biologiese raadgewers sal die toere soveel waardevoller maak.

    Navrae kan gerig word aan: John Fair Biofarm Institute, Heidi of Mandla by tel. 058 622 3585, Robert by sel 083 226 2750, John by sel 082 376 5227, of per e-pos: fair@kingsley.co.za..

    4 Februarie 2005