Met presisieboerdery kan 'n boer sy winsgewendheid aansienlik verhoog, sy risiko's sinvol bestuur en die klein jakkalsies wat ongemerk sy geld opvreet, doeltreffend hokslaan.
As die mielieprys aanstaande seisoen net so laag is as nou, kan 'n boer wat 'n stelsel van presisieboerdery volg, deurdag besluit of hy net die grond met 'n hoë opbrengsvermoë vir mielies gaan benut. Hy kan ook besluit wat hy met die res van sy lande gaan doen om in sulke ekonomiese toestande steeds geld te maak.
Die boodskap dat sulke boere risiko's aan die hand van betroubare gegewens beter kan bestuur, het duidelik deurgekom op 'n boeredag wat onlangs deur Mapco by Jonkersdam, buite Standerton, aangebied is. Dié onderneming bied 'n volledige diens aan boere wat presisieboerdery toepas.
Mnr. Christoff Joubert, landboukundige van Sonskyn-kunsmis, het gesê waar die beginsels van presisieboerdery vir een jaar doelgerig toegepas is, was die rendement op die belegging wat in die stelsel gemaak is, 99 %. Al sou ander boere net die helfte van dié welslae behaal, is dit steeds genoeg rede om só 'n stelsel ernstig te oorweeg.
Maar, het mnr. Boet van Tonder van TL Precise gewaarsku, die welslae van só 'n stelsel hang grootliks af van die toewyding waarmee die boer dit aanpak en beoefen. Dit behels ekstra werk en 'n goeie begrip van landboukundige beginsels.
Dr. Piet le Roux het gesê met 'n stelsel van presisieboerdery skep die boer vir hom oor 'n tydperk van etlike jare data wat vir hom inligting daarstel waarmee hy risiko's akkurater kan voorspel en beter besluite kan neem. Só kan hy sy onderneming fyner en suksesvoller bestuur.
Le Roux is verbonde aan die departement grond-, gewas- en klimaatwetenskappe aan die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein.
Volgens hom het 'n groep wetenskaplikes wat hulle besig hou met die optimale benutting van die grondhulpbron die Suid-Afrikaanse Grondopnemersorganisasie gestig om beter inligting aan boere te verskaf oor die grond se vermoë vir gewasproduksie.
Een van die deurslaggewende aspekte waarop nou gefokus word, is om sulke inligting aan boere te voorsien sodat hulle kan besluit wat hulle gaan doen as die mielieprys aanstaande seisoen op dieselfde lae vlak as nou is.
Die boer moet weet watter van sy grond het 'n lae risiko vir mielieverbouing. Op hierdie grond het hy die beste kans om steeds geld te maak. Terselfdertyd moet hy besluit wat hy met die grond gaan doen waarop hy waarskynlik nie met mielies 'n wins kan maak nie.
Die eerste stap in presisieboerdery is om deur 'n grondopname bestuurseenhede met homogene permanente grondeienskappe te identifiseer en deur die neem van grondmonsters in 'n ruitpatroon die bemesting te optimaliseer sodat dit eenvormige resultate sal lewer.
Permanente grondeienskappe kan van land tot land en selfs binne een land verskil, wat die opbrengs laat verskil. Permanente grondeienskappe is die enigste sekerheid wat die boer het.
As die boer weet wat die vermoë van die bestuurseenhede is, kan hy daaruit afleidings maak oor wat in sekere toestande verwag kan word. As die prestasie nie na die vermoë is nie, kan hy die oorsaak soek.Die enigste manier om permanente grond-eienskappe te identifiseer, is deur 'n goeie grondopname.
Naas permanente grondeienskappe speel ander faktore, soos grondvrugbaarheid, klimaatsfaktore, bewerkingspraktyke, kultivarkeuse, bemesting en onkruidbestryding, 'n rol in die wisselende prestasie van grond.
Die afgelope sowat 50 jaar het die permanente grondeienskappe dieselfde gebly, maar grondvrugbaarheid het dramaties verander. Grondvrugbaarheidopnames wys dat daar in ou lande 'n omgekeerde verband tussen vrugbaarheid en opbrengsvermoë is. Waar die opbrengsvermoë die hoogste is, is die grondvrugbaarheid die laagste.
Wat skynbaar gebeur het, is dat boere met konvensionele boerderymetodes bemes het volgens die gemiddelde opbrengs van die lande. Op die grond met 'n hoë vermoë is te min misstof toegedien en die gewasse het meer voedingstowwe onttrek as wat toegedien is. Gevolglik het dié grond verarm. Só is roofbou op dié dele toegepas. Op die swakker dele is meer voedingstowwe toegedien as wat onttrek is.
Ál hierdie fisiese en chemiese eienskappe en die opbrengsverskille kan met metings en vertolking saamgevat word op grond- en opbrengskaarte. Le Roux glo opbrengskaarte wat oor etlike jare heen geteken is, sal uiteindelik ten nouste met die grondkaart van die betrokke land ooreenstem.
Presisieboerdery lewer inligting wat oor verskeie jare ingesamel word. As dit sinvol vertolk word, kan die boer beter besluite neem. Hy kan dan meer doelgerig bestuur om, ten spyte van wisselende klimaatstoestande en onseker graanpryse, winsplanne te beraam.
Joubert het gesê dit is betreklik maklik om die regte inligting te versamel, maar die vangplek lê daarin om dit sinvol te interpreteer en op 'n praktiese manier aan die boer oor te dra om dit op die plaas toe te pas. Hy glo egter die welslae wat in die praktyk behaal word, behoort talle boere aan te spoor om dié stelsel te gebruik.
Om die inligting van 'n blok land van 150 hektaar in te samel en die nodige kaarte te teken, het 'n spesifieke boer sowat R28 500 gekos. Die regstellings ten opsigte van bemesting, bewerking en plantestand het 'n verdere R65 084 gekos. Die totale koste was dus R93 584.
In die seisoen voor die regstellings gemaak is, was die opbrengs op dié land gemiddeld 2,8 ton per hektaar. Omdat 'n oorlêstelsel gebruik word en dieselfde bestuurspraktyke gevolg is, glo Joubert die toestande binne die beperkings van die droëlandproduksiestelsel was in die seisoen ná die regstellings byna dieselfde.
Die opbrengs het egter dramaties verhoog tot gemiddeld 5,3 ton per hektaar - 2,5 ton per hektaar meer as voor die regstellings. Teen 'n mielieprys van R500 per ton was die ekstra inkomste van die hele blok dus R187 500. Dit is behaal met 'n belegging van R93 584. Die boer het dus 'n opbrengs van 99 % op sy belegging behaal.
Joubert beklemtoon dat dit syfers van net een jaar is en weliswaar van toepassing is op 'n spesifieke stel toestande vir dié grond en dié boer. Op 'n ander plaas wat deur 'n ander boer bestuur word, kan die resultaat anders wees. Maar al sou dit net die helfte so geslaagd wees, is dit steeds 'n uitstekende opbrengs op die belegging.
Hy glo ook daar is kortpaaie om die koste te verlaag - byvoorbeeld gerigte toedienings.
Die inligting op die kaarte kan ook gebruik word om 'n gelykspeelpunt in bepaalde toestande vas te stel. Daarvolgens kan 'n boer dan besluit watter grond hy kan plant en watter dele hy tydelik aan produksie moet onttrek, of vir ander gewasse moet benut.
Van Tonder het gesê die enigste rede hoekom 'n boer 'n stelsel van presisieboerdery sal toepas, is om ekstra geld te maak. Dit behels die insameling, verwerking en bestuur van ingesamelde data. Dit vereis ekstra werk en as dit nie met toewyding gedoen word nie, gaan dit geen verskil maak nie.
Opbrengsdata alleen kan misleidend wees as die boer nie weet wat die fisiese en chemiese eienskappe van die grond is nie. As die boer ál die data het, is die volgende stap om dit in toepasbare inligting te verwerk. Om presisieboerdery te laat slaag, is 'n goeie boer met landboukundige kennis noodsaaklik. As die inligting waarop besluite gegrond word nie landboukundig reg is nie, kan die besluite totaal verkeerd wees.
As die boer nie dié kennis het nie, moet hy 'n raadgewer kry. Die welslae van presisieboerdery lê nie in die kennis van ysters en moersleutels nie, maar in kennis om die inligting te vertolk en toe te pas.
Presisieboerdery stel 'n mens in staat om besluite te neem wat ekonomies volhoubaar is en die omgewing beskerm. Dit is die proses om produksiemiddele teen wisselende hoeveelhede toe te dien volgens die toestande wat in 'n spesifieke deel van 'n land voorkom. Dit word gedoen met behulp van rekenaarbeheerde toerusting. Dit stel die boer in staat om die verskille wat in 'n land bestaan volgens 'n akkurate voorskrif te bestuur en só winsgewender te boer.
Aanvanklik vereis dit gewoonlik meer misstof om die regstellings te doen. Die besparing wat bewerkstellig word deur minder kunsmis op die kolle met 'n laer opbrengsvermoë toe te dien, vergoed egter deels vir die meer misstof wat nodig is om die roofbou op die kolle met 'n hoë opbrengsvermoë reg te stel.
Uiteindelik is net onderhoud nodig en is die bemestingskoste in ooreenstemming met die oes wat die vorige seisoen afgehaal is.
Dié stelsel maak dit ook moontlik om onkruid doeltreffender te bestry en só een van die klein jakkalsies wat aan die wins knaag, uit die weg te ruim.
Verskillende dosisse van onkruiddoders word aanbeveel vir sand- en kleigrond en dit word op die etiket aangedui. Boere is egter geneig om deurgaans dieselfde dosis toe te dien. Op verskillende plekke kan dit dan die regte dosering of 'n oor- of onderdosering wees. Met laasgenoemde twee ly die boer skade. Op talle plase is dié verlies groter as wat die invloed van die swak mielieprys op die boer se wins is.
Met die tegnologies gevorderde werktuie wat nou beskikbaar is, soos satellietbeheerde planters, kunsmisstrooiers, spuite en selfstuurtrekkers, raak dit ál makliker om 'n stelsel van presisieboerdery te volg en die volle voordele daarvan te pluk. As dit reg gedoen word, is die belegging in sulke toerusting die geld werd.
20 Mei 2005