Hoewel geenbewerking nie kinderspeletjies is om by 'n boerdery in te skakel nie, is dit 'n werkbare wyse om grond te verbeter en produksiekoste te bespaar. Die boer moet egter deeglike aandag aan die basiese beginsels van geenbewerking gee. 'n Boer verduidelik hoe dit werk.
Geenbewerking gaan daaroor om volhoubaar te kan boer sodat die volgende geslag ook die voorreg sal hê om op daardie plaas te boer.
Mnr. Willem van der Walt is 'n boer van Settlers en mede-eienaar van Eco Till Africa, 'n onderneming wat werktuie vir hierdie boerderymetode vervaardig en invoer. Hy het op 'n boeredag op Settlers breedvoerig, maar lekker prakties en op die man af verduidelik waaroor geenbewerking alles gaan. Hy het onder meer verduidelik waar die slaggate lê, watter aspekte die meeste aandag verg en watter toerusting die boer nodig het.
Die redes
Die basiese redes hoekom 'n boer geenbewerking behoort te kies, is volgens Van der Walt die volgende:
Die reëls
Geenbewerking het 'n handvol basiese reëls:
Erosie
Van der Walt sê erosie kan goed deur geenbewerking bekamp word. Aangesien die grond nie omgeploeg word nie, bly die gewasse se wortels in die grond agter, wat spoelskade keer wanneer dit baie reën. Dié verbouingsmetode keer ook winderosie omdat die oesreste op die grond gelos word nadat die boer sy gewas geoes het. Dit keer dat die bogrond wegwaai.
Die teendeel is waar wanneer die boer sy lande elke keer voor planttyd ploeg. Dan verspoel die lande maklik en die bogrond waai weg omdat daar nie oesreste is om die wind te rem nie. Met erosie gaan vog en voedingstowwe saam met die bogrond verlore, hetsy deur weg te waai of weg te spoel.
Grondverdigting is nóg 'n gevolg van konvensionele bewerking weens die swaar voertuigverkeer wat daarmee gepaardgaan - en dít is sekerlik die belangrikste rede hoekom boere geenbewerking moet oorweeg. As die grond verdig, benadeel dit die gewasse se wortelontwikkeling, groei én opbrengs.
Van der Walt sê hy het oor 'n aantal jare by die Nampo-oesdag op Bothaville waargeneem dat skeurploeë se tande gaandeweg langer word om die grond dieper los te maak, terwyl trekkers groter word en ander toerusting van dubbele buitebande voorsien word om verdigting te beperk.
"Baie kere is boere nie eens bewus van hul grond wat gaandeweg verdig nie. Dan boet hulle in aan opbrengs en dus inkomste, want die plantwortels kan nie deur die keerlae dring om water en voedingstowwe te gaan uithaal nie," sê hy.
Een van die belangrikste doelwitte met geenbewerking is om die grond te red in gevalle waar dit fisies, chemies en biologies weens konvensionele bewerking agteruitgegaan het. Hierin speel 'n biologiese benadering 'n belangrike rol. "Dink goed voordat jy chemiese plaagbestryding toepas, want saam met die doodspuit van 'n plaag bly ander goeie organismes ook in die slag," sê Van der Walt.
Erdwurms speel 'n belangrike rol in grondvrugbaarheid. Hulle maak tonnels in die grond terwyl hulle op soek is na organiese materiaal, wat hulle kos is. Die tonneltjies wat hulle só skep, maak die grond los en sag. Dan dring die plantwortels maklik in en groei die gewasse welig.
'n Stoppelbedekking (as die gewasse net bokant die grond afgesny word wanneer die oes ingesamel word en die oesreste op die grond agtergelaat word) speel dus nie net 'n belangrike rol in erosie nie, maar ook in die opbou van die organiese materiaal in die grond.
Spoorverkeer
Spoorverkeer speel 'n kernrol in geenbewerking. Daarvolgens beweeg die trekker altyd op dieselfde spore wanneer daar geplant en onkruidbestryding gedoen word. Die ideaal is dat die stroper ook daardie spore volg, maar 'n stroper loop wyer as 'n trekker. Daar is dus minstens hierdie voertuigbeweging wat nie die spore van die spoorverkeerstelsel volg nie. Die alternatief is om die trekker se wiele wyer te laat loop deur wielspasieerders aan die trekker aan te bring. Dan is dit baie belangrik om die voorwiellaers gereeld te versorg, aangesien die trekkervervaardiger se waarborg nie noodwendig eerbiedig sal word as die boer aan die trekker verander het nie. "Die vervaardigers sal egter in die toekoms aan hierdie behoefte van hul klante moet voldoen," sê hy.
In 'n proef oor die uitwerking van spoorverkeer op oesopbrengste het dié dele van die landery waarop absoluut geen wiele geloop het nie, 'n opbrengs van 3,59 t/ha sorghum gegee, teenoor 2,99 t/ha waar spoorverkeer net een keer langs die ry plaasgevind het en 2,4 t/ha langs die ry waar spoorverkeer meer as een keer plaasgevind het.
Die boer begin met spoorverkeer deur eers die spore uit te meet waar die trekker moet beweeg. Daarna volg alle voertuie so ver moontlik daardie spore, met ander woorde wanneer die boer die land beplant, chemiese onkruidbestryding doen en oes. Die spore van die land verdig dus, maar die dele tussenin - waar die gewasse verbou word - verdig nie.
Die spore word uitgemerk volgens die aantal rye wat die planter dek.
Die toerusting
Mnr. Willem van der Walt, 'n boer van Settlers, het ook vertel van die basiese toerusting wat benodig word om geenbewerking te doen. Dit behels 'n planter, 'n gewasspuit, 'n skermspuit en 'n stroper.
Die planter moet spesiaal vir geenbewerking ontwerp wees. Die werktuig moet in staat wees om déúr die oesreste te plant ten einde die saad en die kunsmis diep genoeg in die grond te plaas sodat dit behoorlik met die grond kontak maak.
Die gewasspuit moet deeglik gekalibreer word, aangesien geenbewerking baie swaar op onkruidbestryding steun. Die spuit moet dus presies die regte hoeveelheid spuitstof toedien om onnodige koste te vermy. Die boer moet die regte grootte en tipe spuitkoppe gebruik om te voorkom dat die spuitstof wegdryf en die doeltreffendheid van die bespuiting sodoende verminder word. Hy moet dus ook op die hoogte van druppelgrootte en wegdrywing wees, naamlik wanneer dit voorkom en wanneer die kans daarvoor op sy laagste is. Wind en atmosferiese toestande speel 'n rol.
Maak seker alle spuitkoppe is oop ten einde te voorkom dat dele van die land oorgeslaan word.
Twee tipes spuite word gebruik. Eers word 'n balkspuit gebruik vir die toedien van 'n vooropkoms-onkruiddoder, en 'n skermspuit, wat afskortings rondom die spuitstukke het om tussen die gewasrye te spuit wanneer onkruid doodgespuit moet word sonder dat die spuitstof op die gewas beland.
Met die toediening van 'n vooropkoms-onkruiddoder moet die boer nie huiwer om selfs in die nag te spuit wanneer die toestande reg is nie. Dit is baie noodsaaklik om 'n middel te spuit wat onkruid uitknikker sodra dit begin groei.
Dit is natuurlik belangrik dat die boer sy bure in ag neem wanneer hy spuit. "Wees op die hoogte van jou buurman se aanplantings langsaan om skade aan sensitiewe gewasse te voorkom en behou 'n goeie verhouding met hom," gee hy raad.
Die stroper moet in staat wees om die oesreste eweredig oor die land te versprei, want dit het 'n regstreekse uitwerking op die volgende aanplanting se stand en opbrengs. As die reste op een plek dik lê en daar op 'n ander plek min of geen reste is nie, sal dit noodwendig die stelsel in die wiele ry.
Saam met ál hierdie beginsels en die toerusting vir geenbewerking speel die afwisseling van gewasse, soos in enige verbouingspraktyk, 'n belangrike rol om plantsiektes te beperk.
19 Augustus 2005