Landbou
Aartappelbedryf vaar nie sleg, maar . . .
CHARL VAN ROOYEN (cvanrooy@landbou.com)

Aartappelboere ploeg heelwat tyd, energie, geld en idees in hul bedryf in. Dit is daarom geen wonder nie dat hierdie bedryf so 'n belangrike rol in die ekonomiese groei van die landbousektor en die land se ekonomie speel.

Die aartappelbedryf se suksesse is volgehoue groei, 'n verbetering in produksietegnieke, innovasie, bemarking, uitvoer, gehalteversekering, voedselveiligheid, navorsing en bedryfs-kommunikasie.

Aan die woord is mnr. Frank Lawrence, uittredende voorsitter van Aartappels Suid-Afrika (ASA). Hy het in sy voorsittersverslag op die afgelope ASA-kongres in Pretoria gesê aartappelboere was nog altyd blootgestel aan die giere van die vrye mark en het lank gelede reeds geleer om hulle by die veranderende markomgewing aan te pas.

"Daar is vandag nuwe uitdagings en geleenthede wat die boere en die bedryf in die gesig staar, maar ek glo ons sal hierdie uitdagings die hoof kan bied en dit in voordelige veranderinge omskakel," het hy gesê.

Die grootste uitdaging is die vermoë om globaal mededingend te bly. Dit is egter noodsaaklik dat boere beskerming teen onregverdige mededinging kry, veral wat betref die storting en invoer van produkte vanaf lande wat uitvoer subsidieer. Operateurs het vindingryke maniere om produkte in die land in te kry, soos om produkte onder verkeerde tariefkodes of per pad deur buurlande in te voer. Onregverdige invoer skaad die aartappelbedryf permanent. Die gevolg is 'n inkrimping in plaaslike kapasiteit en groei.

Die bedryf moet nuwe maniere vind om mededingender te raak, produksiekoste te verminder, produkte te differensieer en markaandeel in stand te hou en uit te brei.

Nogtans het die aartappelbedryf sover nie sleg gevaar nie. Vanaf 1981 het produksie met 2,8 % per jaar gegroei. In 1981 was die produksie 100 miljoen sakkies van 10 kg en in 2004 was dit 172 miljoen sakkies - 'n indrukwekkende syfer vir volhoubare groei in enige bedryf.

Suid-Afrika, met 1,72 miljoen ton aartappels per jaar, is die grootste produsent in Afrika ná Egipte (1,8 miljoen ton). Suid-Afrika se gemiddelde opbrengs van 33 ton/ha is egter die hoogste in Afrika en heelwat hoër as Egipte se 24 ton/ha, wat alles onder besproeiing verbou word. Daarna volg Marokko (22 ton/ha). Kenia, Nigerië en Ethiopië se opbrengs is minder as 10 ton/ha.

Lawrence het gewaarsku hierdie lande het die natuurlike hulpbronne om baiebeter te vaar, en dit sal in die toekoms gebeur. Suid-Afrika kan nie net sterker mededinging van ander Afrika-lande verwag nie, maar moet ook met lande soos Nederland, Indië, Australië en veral Argentinië en Brasilië meeding. Hierdie lande se gemiddelde opbrengs en eenheidskoste is heelwat beter as dié van Suid-Afrika. In Nederland is die gemiddelde opbrengs byvoorbeeld 70 ton/ha. Die vervoerkoste vanaf dié land na Suid-Afrika is minder as die vervoerkoste vanaf die Vrystaat na Kaapstad.

Wat die verbruik van aartappels betref, is daar 'n groot verskil tussen ontwikkelde en ontwikkelende lande. Die Iere is die grootste aartappel-eters teen 140 kg per kop per jaar. Duitsland, Engeland, Frankryk, Nederland en Amerika se verbruik per persoon is almal hoër as 60 kg per jaar. Suid-Afrika en China se verbruik is albei sowat 30 kg. Die verbruik in Uganda, Kenia en Egipte is 20 kg en in die res van Afrika minder as 5 kg.

Die Westerse wêreld se verbruik het egter afgeplat en daal selfs, terwyl die ontwikkelende lande se verbruik toeneem. Afrika toon die grootste toename in verbruik ná Indië. "Hierdie is geleenthede wat boere moet benut, maar dit sal nie vanself gebeur nie. Ons moet seker maak ons ontwikkel en gebruik dit," het Lawrence gesê.

Afrika se bevolkingspiramiede toon 'n sterk, jong basis, terwyl Europa 'n "ou" bevolking het. Dit skep uitvoergeleenthede vir Suid-Afrika, maar hou ook 'n bedreiging in. Namate Europeërs minder aartappels eet, gaan hulle harder na uitvoermarkte soek. Daar gaan dus groot druk van buite op Suid-Afrikaanse aartappelboere wees.

Volgens hom moet daar in Suid-Afrika aan verbruikers se houding teenoor aartappels gewerk word. In die tradisionele swart mark beweeg talle verbruikers weg van tradisionele kossoorte, soos mieliemeel. Hulle beskou aartappels egter nog as 'n groente en nie as stysel nie. Daarteenoor beskou gesofistikeerde verbruikers aartappels as "swaar" kos wat vet maak. Hierdie verkeerde indrukke moet verander word.

Die 2,8 %-groei in produksie in Suid-Afrika was waarskynlik weens groei in die bevolking (1 %), uitvoer (6 %) en die verwerkingsbedryf (18 %). Die verwerkingsektor het die sterkste groei van ál die segmente van die aartappelbedryf gehad - gemiddeld 6,7 % per jaar. Na verwagting sal dit nou afplat. Dit is egter 'n belangrike sektor en die bedryf se groei is grootliks daarvan afhanklik.

Die versnellende tempo waarteen bevrore aartappelskyfies ingevoer word, is egter kommerwekkend. 'n Fabriek op Viljoenskroon het reeds gesluit en die fabriek op George werk teen 50% van sy kapasiteit.

"Dit is nie in belang van die bedryf sover dit groei of werkskepping betref nie," sê Lawrence. As invoer teen die huidige tempo voortgaan, sal dit veroorsaak dat groter volumes aartappels op die varsproduktemarkte beland, wat druk op die prys sal plaas.

Twee ander bedreigings vir die aartappelbedryf is die krimpende rol wat varsproduktemarkte speel en probleme met volhoubare moerproduksie.

Die persentasie van die aartappeloes wat op varsproduktemarkte verkoop word, het van 75 % in 1980 tot 52 % gedaal. Die markstelsel speel 'n belangrike rol en verskaf 'n deursigtige prysvormingstelsel. Die vraag is of hierdie markte hul relevansie kan handhaaf en hul belangrike rol in die toekoms kan vervul.

Die sektor wat aartappelmoere produseer, ervaar toenemend probleme met virusse. 'n Geïntegreerde aanslag is nodig om hierdie probleem aan te pak en op te los. Moerkwekers, kommersiële aartappelprodusente, die Aartappelsertifiseringsdiens, die Onafhanklike Sertifiseringsraad en die Departement van Landbou moet betrokke wees.

Skyfie-invoer wek kommer
Daar is groot kommer in die aartappelbedryf oor die groot hoeveelheid verwerkte aartappelprodukte wat ingevoer word.

Volgens mnr. Jan Boshoff, voorsitter van ASA se verwerkingskomitee, het 'n risiko-ontleding op ingevoerde aartappels en aartappelprodukte (Januarie 2003 tot Desember 2004) deur Agri Inspec gewys dat 7 570 ton bevrore en 769 ton droë verwerkte aartappelprodukte in hierdie tyd ingevoer is.

In die eerste sewe maande van vanjaar is reeds 8 933 ton bevrore en 456 ton droë produkte ingevoer.

Aartappelproduksie het sedert 1995 op gemiddeld 1,6 miljoen ton per jaar gestabiliseer. In dié tyd was daar 'n sterk groei in die verwerkingsbedryf. Die 150 000 ton verwerkte aartappels in 1995 het tot 330 000 ton in 2004 toegeneem - 'n groei van 120 %. Sedert 2000 is die jaarlikse groei 6,7 %. Sowat 22 % van die totale oes word dus verwerk.

As hierdie neiging voortduur, sal die verwerkingsbedryf teen 2007 25 % van die tafelaartappeloes gebruik. Om dit te bereik, moet die bedryf homself plaas om nie net uitdagings die hoof te bied wat deel van die groeiproses is nie, maar ook om geleenthede aan te gryp.

Navorsing kry hupstoot
'nProgram vir aartappelnavorsing gaan in die Universiteit van Pretoria se fakulteit natuur- en landbouwetenskappe tot stand kom. Vier departemente van dié universiteit is reeds by aartappelnavorsing betrokke. Die voordeel is dat ASA toegang het tot die kapasiteit en kundigheid van die universiteit en dat die geleentheid geskep word vir studente om aartappelnavorsing te doen. Só word kundigheid geskep wat in die toekoms vir die aartappelbedryf beskikbaar sal wees.

As deel van die navorsingstrategie is alle virusnavorsing by die Universiteit van Stellenbosch gesetel.

Die navorsingsprogram by die Landbounavorsingsraad (LNR) gaan ook voort. Die LNR en ASA is besig met onderhandelinge om die lisensie-ooreenkoms vir nuwe kultivars te hersien as deel van 'n poging om die kommersialisering van die teelprogram te hersien.

Projekte op streekvlak het ook aansienlik gegroei.

Intussen het die huurvrye termyn wat beding is met die verkoop van die Aartappelgebou einde Julie verstryk. Aangesien ASA voldoende geld gehad het en dit finansieel beter is, is 'n nuwe gebou in Persequor Technopark, Pretoria, gekoop. ASA en die Aartappelsertifiseringsdiens se aandeel in dié gebou is onderskeidelik 74 % en 26 %.

ASA bevorder vraag oorsee
Die vraag na Suid-Afrikaanse aartappels gaan verhoog word deur nuwe uitvoermarkte te ontwikkel en bestaande uitvoermarkte uit te brei.

Mnr. Gary Vorster, voorsitter van die bemarkingskomitee van ASA, het gesê dit is 'n gesamentlike optrede deur sy komitee en die uitvoerdersforum.

Hierdie strategiese plan, wat met die hulp van die Departement van Handel en Nywerheid opgestel sal word, sluit die identifisering en evaluasie van lande in om Suid-Afrikaanse aartappels in Afrika en oorsee te bevorder.

Daar is ook talle geleenthede om verbruik plaaslik te verhoog. Die huidige verbruik per persoon is 32 kg per jaar. As elke Suid-Afrikaner net een aartappel meer per week eet, sal die vraag met 500 000 sakkies per week styg. Die huidige gemiddelde verkope is 1,7 miljoen sakkies per week.

Die uitdaging sal dan wees om uiterstes te vermy, naamlik 'n lae aanbod en hoë bruto inkomste aan die een kant en 'n hoë voorraad en lae inkomste aan die ander kant. Albei gevalle dui op 'n ongesonde toestand. Aan die een kant verloor die bedryf verbruikers en aan die ander kant verloor hy produsente. Produksie moet dus gekoördineer word om hierdie uiterstes te vermy.

28 Oktober 2005