Wat verg dit van 'n koringboer om op die plaas te bly? 'n Totaal ander benadering tot koringverbouing as dít wat tot dusver as die norm aanvaar is, glo dié Kaapse boer.
Eers was dit moeilik om trekkers en werktuie in die waenhuis te laat staan as hul bure ná die eerste winterreën begin ploeg het. Later was dit ewe moeilik om nie honderde kilogramme stikstof uit te strooi vir koring wat Julie-Augustus blougroen op die lande blink nie.
Deesdae kla mnr. Junior Herholdt van die plaas Uitkyk, Philadelphia, nie te veel nie. Hy het immers in 2005 sowat R1 000 per hektaar aan insetkoste gespaar en steeds gemiddeld 2,85 ton koring per hektaar geoes. Deesdae boer hy vir die grootste wins, nie noodwendig vir die grootste opbrengs nie, en ook nie meer téén die natuur nie.
Hy en sy broer, Dirkie, loop al 'n lang pad met verandering en hulle het goeie en duur lesse geleer. Hul toepassing van boerderystelsels en bewerkingspraktyke wat meer bewaringsgerig is, het in 1987 begin toe hulle van monokultuur na 'n wisselboustelsel met koring en medics (Medicago sativa) oorgeslaan het. Hulle volg sedert 1990 'n stelsel van minimumbewerking en het vier jaar daarna begin om die strooi op die lande te los.
Toe wou hulle nog hul oeste "koop". In 1996 het hulle 130 kg stikstof toegedien en 'n "geweldige groot" oes gehad. Toe hulle dié resep die volgende jaar herhaal het, was hul oes die helfte kleiner en van 'n lae graad. "Van toe af het ons besluit om aansienlik minder stikstof toe te dien."
In 2004 was hul opbrengs net onder die gemiddeld, naamlik 2,7 ton per hektaar. "Ons het een helse groot verlies gemaak deur alles te doen. Ons het 'n groot oes probeer koop. Deesdae redeneer ons oor hoekom ons meer moet betaal om meer per hektaar af te haal."
In 2005 het hulle net R140 per hektaar aan onkruid- en plaagbestryding bestee. "Ons spuit al tien jaar lank nie insek- of swamdoder teen omvalsiekte nie. Teen roes spuit ons net as daar 'n epidemie is." Hulle spuit nog 'n vooropkoms-onkruiddoder teen grasse en na-opkomsmiddel teen breëblaaronkruid.
Nadat hulle in 2004 nagenoeg 30 kg stikstof en 15 kg fosfaat per hektaar "uit die sak" toegedien het, en bobemesting van 200 kg Neutrog Rapid Raiser (gekomposteerde en verpilde hoendermis, wat 2,5 % stikstof, 2,5 % fosfaat en spoorelemente bevat) toegedien het, het hulle in 2005 groot gewaag en nie 'n korreltjie kunsmis toegedien nie; net 300 kg Rapid Raiser. Hulle het 200 kg vóór planttyd gestrooi en 100 kg saam met die pitte in die planter. Teen R1 350 per ton - oftewel sowat R400 per hektaar - is dit nie goedkoop nie, maar Herholdt glo op die duur sal die voordele groter as die koste wees.
Boere is dikwels versigtig om hoendermis as misstof te gebruik, in die eerste plek omdat 'n mens sulke groot hoeveelhede moet toedien om resultate te kry, en omdat dit ongewenste parasiete, patogene organismes, onkruidsade en antibiotikum kan bevat. Die gekomposteerde hoendermis-misstof wat by die Neutrog-aanleg naby Philadelphia vervaardig word, en waarin die Herholdts aandeelhouers is, is 'n skoon, aktiewe produk. Aan die woord is mnr. Wouter Vorster, nasionale verkoopsbestuurder van dié Australiese franchise. "Naas die rotsfosfaat wat ons by Rapid Raiser voeg, word niks anders bygevoeg nie. By ons aanleg word die hoendermis teen 50 °C tot 60 °C gekomposteer, met stoom behandel en verpil om die ongewenste elemente te verwyder, en 'n gekonsentreerde, geaktiveerde organiese misstof beskikbaar te stel."
Hulle het nog nie regtig weerstand teen onkruiddoders ervaar nie, vermoedelik omdat hulle die graanlande se onkruidstatus al jare lank bestuur. "Aangesien 'n Australiese konsultant ons raad gee, bekamp ons onkruid in die weidingsjaar deur weidinggewasse én onkruid in die lente straf te bewei ("pasture topping") voordat die onkruid saad skiet, of saai ons later ("delayed seeding"), en wissel ons glifosaat met ander middels af."
Herholdt is vol lof vir die navorsing wat in Australië gedoen word, maar is bekommerd dat Suid-Afrikaanse navorsing grootliks daarop gemik is om koringkultivars te teel wat bestand is teen siektes. "Maar wat is die oorsaak van al die siektes? Die toestand van die grond is die grondslag van alles wat verkeerd gaan."
Junior sê hul biologiese boerderymetodes pas goed in by hul gemengde boerdery van melk- en vleisbeeste, skape en graan. Hawer vir kuilvoer, medics vir weiding en lupiene vir bruin bemesting ("brown manure") vorm deel van die wisselboustelsel.
In dié stadium plant hulle bitterlupiene wat hulle in September doodspuit, en die reste dan op die land los. In Mei plant hulle die koring in dié plantreste. Vir oppervlakte-kompostering ná die koringoes strooi hulle in Januarie, Februarie of Maart 'n dun lagie beesmis op die stoppellande. Daarop plant hulle later hawer vir kuilvoer of medics vir weiding.
Herholdt glo biologiese boerdery is 'n geïntegreerde stelsel. "Dis nie genoeg om 'n planter te koop of net minimumbewerking toe te pas nie. Die metode van bewerking, bespuiting en bemesting is alles instrumente om meer volgens die wette van die natuur te boer. Ons voer dit deur na ál ons ander boerderyvertakkings, soos die melkery. As die koeie opdroog, spuit ons byvoorbeeld nie meer die antibiotikum vir droë koeie nie, want ons kan nie bekostig dat spore daarvan agterbly in die mis wat ons op die lande strooi nie."
Hy glo die natuur word op baie plase misbruik. "Ons verniel ons grond. Dan wil ons alles uit die sak haal, en die situasie met chemikalieë probeer red. Die natuur moet eerder 'n hulpmiddel wees om ons insetkoste te verlaag, maar die biologiese boerdery-som moet werk. Dit moet lewensvatbaar wees.
"Die hele idee is om die grond te voed, nie die plant nie. Dit gaan alles oor die hoeveelheid en verskeidenheid lewende mikro-organismes in die boonste 70 mm van die grond. Daarom is dit belangrik om te probeer om alles bo-op die grond te hou."
Aangesien kompaktering in die ondergrond deur minimumbewerking en biologiese boerderymetodes opgehef is, is die indringing van water in die grond tot 60% beter as voorheen, en kon hulle van die meeste van hul kontoerwalle landery maak omdat daar haas nie meer afloop is nie.
Dit verg 'n groot verandering in denke om oor te slaan van 'n stelsel waarin die aanbevelings van die verteenwoordigers van kunsmis- en plaagdodermaatskappye amper as evangelie aanvaar word, na 'n stelsel waar 'n boer die wisselwerking tussen die grond en plante moet ken en verstaan.
Herholdt glo die landbouchemiese bedryf moet ook hul denke verander. "Hulle gaan nog altyd sake doen - al dink hulle anders - maar soos dit nou gaan, gaan hulle hul kliënte van die plase af help as hulle net goed van die rak af haal en aanbeveel."
Goeie boere het 'n fyn talent om waar te neem. Hulle weet wat op hul plaas aangaan en dié wat hul sout werd is, probeer antwoorde kry. Herholdt sê hulle soek ook al die afgelope 20 jaar lank antwoorde. Wat hy oor biologiese boerdery geleer het, was soos 'n venster wat oopgemaak is en die lig wat ingelaat is. "Dit het my 'n ander perspektief op boerdery gegee. Ek het goed begin raaksien, en begin verstaan hoekom sekere dinge gebeur."
Een van die interessantste goed wat hy die afgelope paar jaar geleer het, was om onkruid te leer "lees", met ander woorde, om te weet watter wanbalanse daar in die grond is as sekere soorte onkruid daarop groei, en wat gedoen kan word om dit reg te stel. Hy sê 'n mens se kennis van die verwantskap tussen onkruid en die chemiese wanbalanse in die grond kan mettertyd só ontwikkel dat jy amper die onkruid kan sien en weet hoe die grondontleding van daardie grond lyk. Wat hy tot dusver gevind het, was dat die hoogste onkruiddruk meermale daar is waar daar 'n tekort aan kalsium is.
Biologiese boerdery is egter nie 'n kitsoplossing vir jare van meganiese en chemiese boerdery nie. Herholdt sê dit verg groot geduld en 'n lang leerproses. "Hoe gou jy resultate gaan sien, hang af van wat die toestand van jou grond was toe jy oorgeslaan het." Hoewel hy meen dat dit moontlik is om biologiese boerdery oral toe te pas, sal veranderinge gouer gesien word in gebiede wat meer reën kry.
Hulle kan reeds veranderinge aan die grond sien, maar daar is nog veel om te leer, veral as 'n mens dink dat slegs 'n klein fraksie van wat in die grond aangaan, aan wetenskaplikes bekend is.
Lesse uit Zimmer se boek
Biologiese boerdery verbeter die omgewing, verminder erosie, en verlaag siekte-, insek- en onkruiddruk, predik Gary F. Zimmer in sy boek The Biological Farmer. Dit is sekerlik ideale wat die meeste boere nastreef, maar dit is by die "hoe?" wat die knoop lê.
Zimmer se wenke vir beginnerboere is kortliks die volgende:
20 Januarie 2006