Die kweek van spesialiteitsampioene op die platteland is nie net moontlik nie, maar kan ook maklik en goedkoop wees, bewys hierdie Overbergse plaasvrou.
Op 'n dag het 'n vreemdeling in 'n ewe vreemde gewaad en haardos die grondpaadjie langs die plaashuise van Sky Farm in die Botriviervallei afgestap gekom - heeltemal ongenooid. Aangekom by me. La Verne Robinson, juis op daardie oomblik met haar sampioene doenig, het hy oorgeleun en saggies verneem waar sy die tower-sampioene versteek.
Maar die werklikheid is dat daar niks geheimsinnigs aan sampioene en die kweek daarvan is nie. Soos met enige ander boerdery, bepaal kennis, ondervinding, aanvoeling en markvernuf die sukses daarvan. En tog - so baie probeer, misluk en verdwyn weer in die niet, net soos die vreemdeling wat daardie dag onaangekondig sy opwagting gemaak het.
Robinson kweek al meer as 10 jaar lank sampioene. Nie die kommersiële knopiesoorte nie, maar petit eksotiese gourmetsampioene, soos die oestersoorte (Pleurotus spp.).
Volgens haar wou sy maar altoos met sampioene boer. Die bekende knopie- en groot bruin sampioene is verreweg die gewildste keuse vir verbruikers, maar verg gewoonlik heelwat aanvangskapitaal. Dit was buite haar bereik (en is dikwels ook buite ander kleinboere se bereik).
Gelukkig het gourmetsampioene in daardie stadium in gewildheid onder verbruikers begin toeneem. Dit is betreklik maklik om hulle te kweek, 'n mens benodig minder kapitaal en hulle groei op haas enige soort plantreste wat op plase beskikbaar is. Geen dieremis is nodig nie.
Dit is haar eerste raad aan voornemende kwekers: Gebruik wat in jou onmiddellike omgewing beskikbaar is, hetsy strooi, suikerriet- of mieliereste of Karoo-bossies.
In haar geval is die strooi van kleingrane in die Overberg volop. "Strooi en oester-sampioene laat jou met heelwat foute wegkom. Dit is hoekom talle toetreders tot die gourmet-sampioenbedryf met dié kombinasie begin," sê Robinson.
Die strooi word met 'n hamermeul in kort stukkies van 20 mm tot 60 mm gekap om die opname van water te bevorder. 'n Hamermeul is ook nie werklik nodig nie, veral vir die beginner wat sy of haar aanvanklike uitgawes wil beperk. 'n Boer moet in tye van ontbering 'n plan kan maak. Sy het die strooi doodluiters op die grasperk oopgesprei en met 'n grassnyer fyn gesny.
Die volgende stap is om die gekerfde strooi in water te week vir solank as wat dit nodig is om net genoeg water op te neem. Jy weet dit is genoeg wanneer die water net-net uitsypel as jy die strooi in jou hand druk - gewoonlik binne 24 uur.
Daarna word die pH-vlak reggestel (dit moet verkieslik 7,5 wees) deur kalk by te voeg. Sy voeg ook lusernmeel by om die stikstofgehalte effens te verhoog. Ook hier geld die reël van gebruik wat goedkoop en maklik beskikbaar is.
Wat dan volg, is 'n produksiemetode wat in die Ooste ontwikkel is. Die voedingsmedium word in spesiale hittebestande plastieksakke geplaas. Hierdie sakke is omtrent so groot soos 'n plastiekkoeldrankbottel van twee liter en hou sowat een kilogram van die klam strooi.
Vervolgens word die gevulde sakke met herbruikbare plastiekproppe verseël en sowat twee uur lank teen 80 grade Celsius tot 100 grade Celsius gepasteuriseer. Hier is eweneens verskeie opsies beskikbaar. 'n Watergevulde metaaldrom is die gewildste keuse by beginners wat geld wil bespaar. Die water in die drom word van onder af verhit en die strooi word in 'n tuisgemaakte draadmandjie binne-in geplaas.
Met haar neus altyd op die grond vir 'n winskoop, het Robinson 'n groot outoklaaf bekom. Sy beskou dit as omtrent die beste tegniek vir pasteurisering. 'n Outoklaaf is 'n stewige staalhouer waarin materiale onder stoomdruk gepasteuriseer of gesteriliseer word.
"Koue" metodes, met behulp van chemiese middels, lewer ook goeie resultate.
Na afloop van die pasteurisasie word die sakke met rus gelaat tot dit tot sowat 20 grade Celsius afgekoel het.
Daarna word die swamspore ingeënt. Vir nuwelinge is die beste uitweg om aanvanklik die betrokke swamkulture te koop. "Wanneer jy meer vaardighede en kennis opgedoen het, kan jy jou eie spore kweek," sê Robinson.
Ná inenting neem dit gewoonlik drie weke vir die swamdrade om deur die sak te versprei. Die hele sak vertoon dan wit.
Vervolgens word die sakke, soos wynbottels, op rakke teen die mure van spesiale groeikamers gestapel en die proppe verwyder. Twee weke later kan jy die eerste oes versamel. Die sampioene groei deur die prop se opening. Een sak sal tot drie maande lank produseer.
Volgens Robinson is een van die groot voordele van dié kweekmetode dat dit vir die goeie benutting van vloerruimte sorg. Die sakke kan in tot 10 lae (en selfs soveel as 13 lae) op die rakke gestapel word. Hulle word teen 'n effense helling gepak, met die onderste ry effens weg van die muur en die opeenvolgende rye al hoe nader daaraan. Dit is omrede die sakke se gewig met 200 gram tot 300 gram daal namate die voedingsmedium uitgeput raak. Dit is wanneer hulle begin aftuimel as jy te veel lae gepak het. Pleks van rakke gebruik sy appelkratte, wat volop in haar omgewing is.
Ná opstapeling in die kweekkamers het die ontluikende sampioene 'n behoefte aan genoeg lig en vars, vogtige lug. Hierdie is 'n deurslaggewende aspek van sampioenproduksie en kan nie genoeg beklemtoon word nie.
Nogtans is dit nie nodig om duur toerusting, soos 'n suigwaaier, aan te skaf nie. Robinson gebruik 'n tuisvervaardigde verdampingstoestel wat bestaan uit 'n waaier en vier panele waaroor water spoel. Die handige boer kan self een bou.
Van 'n Taiwannees het sy geleer dat sampioene natgemaak word soos wanneer jy 'n motor was. Met 'n tuinslang en 'n fyn spuitkop spuit sy die sakke nat. Na gelang van die toestande word die vloere ook tot drie keer per dag nat gemaak. Nat sakke kan ook werk.
Die kweker kan verskeie planne maak, solank die vereiste vloei van vars, vogtige lug gehandhaaf word. Droë lug veroorsaak lang stele en klein koppe, wat onaanvaarbaar vir die handel is. Die sampioene sal selfs uitdroog en vrek.
Vir genoeg lig gebruik sy vier gewone buisligte van 1,2 m lank per 20 m² vloeroppervlakte.
Verskillende soorte gourmetsampioene kan verskillende behoeftes ten opsigte van die temperatuur hê. Sommige groei in warmer en ander in koeler toestande. Die kweekkamers moet daarvolgens toegerus en behandel word.
Verhitting en verkoeling is duur produksiefaktore wat die beginner nie altyd kan bekostig nie, sê Robinson. 'n Logiese oplossing is om sampioensoorte wat van hitte hou in die somer te produseer en soorte met koueverdraagsaamheid in die winter. Sy verhit nie haar kweekkamers nie.
Siedaar, alles lyk heel maklik. "Maar moenie dink jy gaan uit die staanspoor baie geld maak nie. Hou daardie ander inkomste tot jy goed aan die gang is," sê Robinson. Vir 'n groot inkomste sal jy groot moet produseer - minstens ses tot agt kweekkamers, elkeen sowat 120 m² groot.
Met elke sak behoort jy in teorie en in ideale toestande tussen R300 en R500 te verdien. Sy verkoop 'n bakkie oestersampioene van 200 gram vir R10. Vir bemarking maak sy van die diens van twee agente gebruik om restaurante, hotelle en 'n groot supermark te voorsien.
Volgens haar voorspel die huidige vraag na spesialiteitsampioene 'n goeie toekoms vir die bedryf. Plattelandse gebiede kan ook groot voordeel uit die verdere ontwikkeling daarvan trek. Baie plase het geboue wat goedkoop vir die kweek van sampioene ingerig kan word.
Sy beveel die boek Growing Gourmet and Medicinal Mushrooms (ISBN 1-58008-175-4) - geskryf deur Paul Stamets en uitgegee deur Ten Speed Press - as 'n goeie bron van inligting vir beginners aan.
7 Julie 2006