Landbou

Die rooi, pitlose waatlemoen met ferm vlees.
Pitlose waatlemoene: Maak mark-seker
JEAN-MARIE DE WAAL (jdewaal@landbou.com)

Pitlose waatlemoene neem wêreldwyd in gewildheid toe. Plaaslik vind dieselfde plaas, maar sukses hang af van werklike markbehoeftes en die vestiging van 'n premieprys vir hierdie vrugte.

'n Waatlemoen is soos 'n "kleintjie", vertel mnr. Willie Wiese van die plaas Dwars-In-Die-Weg, Piketberg. Hy soek eintlik baie meer aandag, voeding en sorg as wat boere in die algemeen bereid is om vir hom te gee.

Verlede jaar het hy sy vaderlike aandag ook op pitlose waatlemoene begin toespits en rooi, geel en oranje kultivars geplant. 'n Ware vrugteslaai van kleure, want dit is ál meer wat die visueel ingestelde verbruikersmark wil hê.

Wiese het in 2004 sowat 13 rye (0,3 hektaar) van die pitlose kultivars STAR 9981, STAR 9982 en WM 556 as deel van 'n proef vir 'n nasionale groentesaadmaatskappy geplant. Hy was só tevrede met die vraag na dié waatlemoene dat hy in die afgelope produksiejaar 3,2 hektaar geplant het. Hy meen die geel kultivar WM 556 het die beste smaak.

Sy kommersiële pitlosewaatlemoen-boerdery op sy plaas van 780 hektaar, in die hart van die Wes-Kaapse koringgebied, is tans een van die grootstes in die land.

Ten spyte van die hoër prys van die saad, meen hy pitlose waatlemoene is betalend omdat daar werklik 'n mark daarvoor is. Verder produseer die pitlose kultivars slegs vroulike blomme. Dit het 'n deurlopende oes tot gevolg, mits 'n mens natuurlik volhou met die regte produksietegnieke.

Hy meen die sleutel tot sukses is om op aanvraag van kleinhandelaars te produseer, want só kan jy 'n premieprys vir jou pitlose waatlemoene kry.

Mnr. Pieter van Zyl, direkteur vir aankope en verskaffing by Freshmark, een van die grootste verskaffers van groente en vrugte aan kleinhandelaars in Suid-Afrika, meen produksie en proewe is nog van só 'n aard dat hierdie kultivars nie ten volle benut kan word nie. Daar is egter 'n groot potensiaal.

Volgens wat hy verneem het, kan boere binne een produksiejaar hul aanplantings van pitlose kultivars verdubbel. Hy meen ook daar is 'n mark daarvoor in Suid-Afrika.

Van Zyl het pas van Amerika teruggekeer en sê dáár word bykans net pitlose waatlemoene verkoop. Die verbruik daarvan neem wêreldwyd toe. Hy voorspel dat dieselfde in Suid-Afrika gaan gebeur sodra boere die gespesialiseerde produksietegnieke onder die knie kry en hul produksie verhoog.

Sy maatskappy benodig weekliks sowat 200 ton pitlose waatlemoene om in sy mark se behoeftes te voorsien. Dit is gelykstaande aan die hoeveelheid wat hy meen nodig is om die plaaslike mark binne die volgende drie jaar behoorlik aan die gang te kry. Op grond van die internasionale neigings meen hy dit is baie moontlik dat Suid-Afrikaners oor tien jaar byna net pitlose waatlemoene gaan eet. Tans lewer sy maatskappy nog sowat 1 000 ton konvensionele waatlemoene per week aan kleinhandelaars.

In die afgelope produksiejaar het Wiese 'n opbrengs van sowat 50 ton per hektaar met sy pitlose waatlemoene behaal teenoor 90 ton per hektaar met sy gewone waatlemoene.

Goeie bestuur en grondvoeding is deurslaggewend vir 'n goeie opbrengs. (Lees Kry só optimale opbrengs hiernaas.)

Hy begin in Oktober plant wanneer die warm klimaat gunstig vir groei is en hou gewoonlik middel April op pluk.

Voor hy begin plant, maak hy, soos gebruiklik, 'n voor in die grond en werk hy 'n mengsel van kalk, gips en kunsmis in. Sodra sy plantjies sterk begin groei, dien hy ses dae per week 120 kg kunsmis per blok van 0,66 hektaar deur drupbesproeiing toe.

Hy sê sy gebalanseerde bemestingsprogram lei tot groter waatlemoene en 'n hoër opbrengs. Voeding is noodsaaklik, want die vruggie ontwikkel vanaf week ses. "Ek oes sowat drie maal meer waatlemoene as die gemiddelde weens die groter hoeveeldheid voeding wat ek gee."

Die boer moet, soos by die kultivars mét pitte, teen witroes waak. Dit kan 'n oes binne twee weke vernietig indien dit onbehandeld bly. Daarom spuit Wiese vanaf week ses daarteen.

Van week een tot week drie besproei hy sy waatlemoene daagliks vir een uur tot twee uur. Sodra die plante begin dra, besproei hy daagliks vier uur lank. In hierdie stadium waak hy ook teen vrugtevlieë en ander plae, soos snywurm, want dan is die vruggies op hul kwesbaarste.

Hy vervang die plante elke ses jaar ingevolge die grond se russiklus. Sy plante word in rye van 160 meter lank en 2,5 meter uit mekaar geplant. In die afgelope produksiejaar was elke vierde plantjie in die ry 'n bestuiwer. Hy gebruik nie 'n spesifieke kultivar as bestuiwer nie.

Wat die Piketberg-streek ideaal vir waatlemoene maak, is die min koue en baie hitte.

Hy lewer glad nie waatlemoene op die mark nie en produseer net volgens kleinhandelaars se vraag. Hy onderhandel dus voor die tyd met voornemende kopers. "Die dae van net plant is verby."

'n Verdere uitdaging wat hy opmerk, is dat verbruikers ál meer vol giere raak. Kleinhandelaars soek 'n vrug van 'n sekere grootte. Dit moet mooi lyk, van 'n goeie gehalte en sonder barste wees en boonop sappig en soet wees.

Wiese verhuur sy saaigrond weens die min reën en afgelope paar jaar se teleurstellings met koring. "Met ander gewasse kan ek meer beheer uitoefen."

Hy meen diversifikasie is die pad vorentoe. Hy meen elke boerdery moet omtrent ses vertakkings hê om winsgewend te kan wees. Hy boer met 15 hektaar waatlemoen, 140 hektaar rooibostee, 3,3 hektaar spanspek, 30 hektaar aartappels en 500 Merinoskape.

Hy hoop sy pitlose "kinders" sal in die toekoms 'n belangrike bydrae tot sy boerdery-sukses lewer.

Verbruik neem toe
'n Goeie bemarkingsveldtog en samewerking met kleinhandelaars is die rede waarom die Nederlandse saadmaatskappy Nunhems Zaden groot sukses met pitlose kultivars in Europa behaal, sê 'n woordvoerder, mnr. Francisco López. Spanje produseer sowat 40 % van die waatlemoene wat in Europa vir eetdoeleindes verkoop word.

Die idee is om geleidelik 'n volledige reeks pitlose waatlemoenkultivars vir alle tye van die jaar te ontwikkel.

Mnr. Nico van Rensburg, nasionale verkoopsbestuurder van die saadmaatskappy Starke Ayres, wat dié kultivars na Suid-Afrika gebring het, meen die geel en oranje pitloses sal aanvanklik as 'n aantreklike afwisseling in vrugteslaaie gebruik word. Só sal die verbruiker aan die nuwe kleure gewoond gemaak word.

Kry so optimale opbrengs
Pitlose waatlemoene het verskeie voordele: Dit is fermer (wat 'n voordeel vir verwerkers is), het 'n langer raklewe en is soeter, sê me. Julia Thorpe, gewasspesialis van die saadmaatskappy Starke Ayres.

Die raklewe is beter omdat die etileenproduksie laag is weens die afwesigheid van pitte. Etileen word in die pitholte vervaardig en is deel van die proses wat die suiker afbreek. Die lae etileenvlak beteken hierdie vrugte kan later geoes word.

Pitlose kultivars produseer slegs vroulike blomme, wat opbrengsvoordele inhou.

Die opbrengs kan verder verhoog word deur die korrekte bestuiwerkultivar te kies en dit op die regte tydstip uit te plant. Deur die saaidatum te beheer, kan die boer die bestuiwing met twee weke tot drie weke uitstel. Dit gee die plante kans om sterker te word en sodoende bykomende vrugte, wat nie deel van die aanvanklik geraamde opbrengs was nie, groot te maak.

Dit is moontlik dat 'n boer wat vir die eerste keer pitlose waatlemoene op 'n kommersiële skaal plant, aanvanklik 'n laer opbrengs daarmee kan behaal as met konvensionele kultivars. Soos sy ervaring toeneem, behoort sy opbrengs egter te verbeter. In lande waar pitlose waatlemoene reeds 'n paar jaar lank geplant word, is hierdie kultivars se opbrengs hoër as dié van konvensionele waatlemoene.

Die rye vir pitlose kultivars kan tot 3 meter wyd gemaak word omdat hierdie kultivars meer groeikrag het. Dit sal ook 'n groter opbrengs teweegbring.

Die saad moet in saailaaie in beheerde temperatuur- en vogtigheidstoestande ontkiem. Die ontkieming word gewoonlik deur kwekerye gedoen weens die streng temperatuur- en vogtigheidsvereistes. Wanneer saad regstreeks in die grond gesaai word, ontkiem slegs 50 % tot 80 % daarvan. In behoorlike ontkiemingstoestande in 'n ontkiemingskamer kan produsente 'n ontkiemingskoers van 85 % tot 99 % bewerkstellig.

Thorpe se maatskappy het die volgende wenke vir ontkieming in kweekhuise:

  • Gebruik so ver moontlik saailaaie met vierkantige selle en 'n seldiepte van minstens 50 mm. Die laai behoort sowat 340 mm by 670 mm groot te wees. Hoe kleiner die sel se deursnee, hoe meer aandag moet die produsent aan die plant gee. Ronde selle laat die wortels omgord.
  • Die groeimedium moet grof wees. Met 'n fyn medium kan 'n mens maklik te veel water gee, wat minder suurstof vir die wortels beteken. Die laai moet 24 uur voor die saaityd met die medium volgemaak word. Maak die laai nat. Indien warm water nie beskikbaar is, plaas die laai in 'n plek waar die temperatuur van die medium net onder 30°C sal wees teen die tyd wat jy saai. Die saailaai moet 24 uur staan sodat die oortollige water kan dreineer.
  • Plaas die saad minstens 25 mm diep, verkieslik met die wortelkant boontoe. Bedek die laai met 'n warm, klam mengsel of knyp die gebied rondom die saadjie toe. Moenie water by die klam mengsel voeg nie. Plaas die laaie dan so gou moontlik in die warm ontkiemingskamer. Jy kan die laaie op mekaar stapel, mits daar lugvloei is. Verwyder die laaie 48 uur ná die saad geplant is uit die ontkiemingskamer. As jy die saad langer los, sal dit buitensporige hipokotielgroei bevorder.
  • Die gebruik van 'n ontkiemingskamer bevorder ontkieming en die spoed daarvan met tot 10 %.
  • By kweekhuisontkieming moet die nagtemperatuur 18 °C wees. Die verkoelingstelsel moet gestel wees om aan te skakel as die temperatuur 21°C tot 24°C is. As die temperatuur te hoog is, kan die hipokotiel uitrek. Dieselfde geld vir te veel water.
  • Moenie bemes voor die verskyning van die eerste ware blaar nie. Sodra die eerste ware blaar sigbaar is, bemes deurlopend met 50 dele per miljoen stikstof of dien 100 dele per miljoen stikstof twee keer per maand toe. Hoe stadiger die plante groei, hoe beter is die gehalte.
  • Ná vier tot ses weke kan jy die saailinge oorplant.

    Meer keuses vir boere
    Waatlemoen- en spanspekboere het in die nuwe produksiejaar 'n groter kultivarkeuse. Die maat-skappy Starke Ayres het verskeie nuwe kultivars beskikbaar gestel, waaronder rooi, geel en oranje pitlose waatlemoene.

    1: STAR 9981. Dit is 'n rooi, pitlose waatlemoen met ferm vlees. Die plante dra vrugte van 6 kg tot 8 kg. Die kultivar het 'n hoë opbrengspotensiaal en is 'n kragtige groeier met goeie blaarbedekking. Dit neem in die hoofproduksietyd 85 dae om volwassenheid te bereik.

    2: Jenny. Hierdie klein, rooi waatlemoen (2 kg tot 3 kg) het baie klein saadjies en ferm, bros vlees. Die kultivar het 'n hoë opbrengspotensiaal en bereik vroeg volwassenheid. Dit kan buite en in 'n kweekhuis verbou word. Die kultivar het weerstand teen Fusarium (ras 0 en ras 1).

    3: Glossy. Dit is 'n klein, rooi waatlemoen (2 kg tot 3 kg) met baie klein saadjies en ferm, bros vlees. Dit het 'n hoë opbrengspotensiaal en bereik vroeg volwassenheid. Die kultivar kan buite of in 'n kweekhuis verbou word. Dit het weerstand teen Fusarium (ras 0 en ras 1).

    4: WM 556. Dié semi-kommersiële, pitlose waatlemoen het helder geel vlees met 'n bros tekstuur en 'n hoë suikerinhoud. Die vrugte kan baie klein, bykans onsigbare pitte bevat. In die hoofproduksietyd neem die kultivar sowat 85 dae om volwassenheid te bereik.

    5: STAR 9982. Dit is 'n oranje, pitlose waatlemoen wat vroeg volwassenheid bereik (75 dae in die hoofproduksietyd). Die vrugte het 'n hoë brix-waarde.

    6: WM 646. Hierdie rooi, pitlose waatlemoen het digte, ferm vlees, wat dit veral vir verwerking geskik maak. Die kultivar het 'n hoë opbrengspoten-siaal en bereik laat volwassenheid. Dit het weerstand teen antraknose (ras 1).

    7: Magritte. Dié mediumgroot spanspek het 'n goeie raklewe en 'n diep oranje vleeskleur. Die vlees is ferm en het 'n hoë suikerinhoud. Die kultivar bied weerstand teen Fusarium (ras 0, ras 1 en ras 2).

    8: Goldino. Dit is 'n spanspek met 'n aantreklike voorkoms. Die vrugte het 'n lig oranje vleeskleur, 'n klein saadholte en word besonder soet. Die plante is sterk en bied goed weerstand teen Fusarium (ras 0, ras 1 en ras 2).

    9: Magenta. Hierdie spanspekkultivar se vrugte is die grootste van die Magenta-lyn. Die vrugte is soet. Die skil het 'n mooi netpatroon met prominente nate. Die kultivar het goeie weerstand teen Fusarium (ras 0, ras 1 en ras 2).

    10: Magisto. Dié spanspek is die kleinste van die Magenta-lyn en het 'n goeie raklewe. Die vrugte is ferm, soet en smaaklik en het 'n diep oranje vleeskleur. Die kultivar bied goeie weerstand teen Fusarium (ras 0, ras 1 en ras 2).

    11: Honeydew STAR 8812. Hierdie soet spanspek het 'n besonderse smaak. Dit is gewild op die varsproduktemark én is geskik vir verwerking. Die saadholte is klein.

    11 Augustus 2006