Landbou
Bio-pad lê nou oop
JOHAN WILLEMSE

In Suid-Afrika word die moontlikheid van alternatiewe brandstof druk bespreek. In die nuusmedia verskyn gereeld berigte en artikels oor wat haalbaar is en wat nie asook oor die impak van 'n biodieselbedryf op graanboerdery en op die landsekonomie in geheel.

Die wêreld is volstoom op die biobrandstofpad. In die jongste verlede was die nuwe Amerikaanse landboubeleid gereeld in die nuus. As die nuwe beleid, wat die volgende vyf jaar gaan geld, ontleed word, is dit duidelik dat die landbou in Amerika nou amptelik gesien word as 'n verskaffer van voedsel, vesel én hernubare energie.

'n Al hoe groter deel van die Amerikaanse mielie-oes word vir die maak van biobrandstof gebruik.

Ook in China is daar groot projekte aan die gang om energie uit landbouprodukte te voorsien. In sommige Europese lande word biobrandstof al 'n geruime tyd gebruik.

Ongeag wat die Suid-Afrikaanse Regering se standpunt oor alternatiewe brandstof is en of dit in regeringsbeleid ingesluit gaan word, Suid-Afrika gaan deur die ontwikkelinge elders ter wêreld geraak word. Hierdie invloed is reeds sigbaar en ek voorspel dat dit gaan toeneem. Dit is 'n nuwe tegnologie wat gekom het om te bly, ongeag wat die kritici sê.

Die tegnologie om wind- en sonenergie bekostigbaar in 'n bruikbare vorm om te sit, ontwikkel ook vinnig.

Die skerp styging in die koste van ru-olie die afgelope paar jaar het die ontwikkeling van hernubare energie 'n groot hupstoot gegee.

'n Aantal lande het al ooreenkomste onderteken waarmee besoedeling deur die verbranding van fossielenergie teengewerk word, maar Amerika was tot dusver nie besonder gretig om deel te neem nie. Die openbare mening verander egter vinnig en pres. George Bush het onlangs aangekondig dat die doel is om Amerika se petrolverbruik met 20 % in die volgende tien jaar te laat daal. In dié proses sal etanolproduksie tot sowat 35 miljard gelling (sowat 160 miljard liter) per jaar opgestoot word. Ander energiebesparende maatreëls sal ook ingestel word.

Motorvervaardigers is aan die woel om die energiedoeltreffendheid van hul produkte te verbeter en om motors op die mark te plaas wat hernubare energie gebruik. Sowat een derde van alle state in Amerika bevorder reeds die gebruik van hernubare energie en energiedoeltreffendheid - vanaf huise se ontwerp tot brandstof.

In Amerika se nuwe landboubeleid word voorsiening gemaak vir $1 600 miljoen dollar om die bio-energiebedryf te ondersteun en veral vir nuwe navorsing op dié gebied. Daar is ook nuwe waarborglenings van sowat $2,1 miljard beskikbaar.

Internasionale ontleders is nie heeltemal eens oor wat die ru-olieprys in die volgende paar jaar gaan doen nie. Sommiges verwag dat die pryse aansienlik gaan daal, natuurlik tot nadeel van die biobrandstofbedryf. Die oorwig van getuienis dui daarop dat daar nog heelwat olie- en gasreserwes in die wêreld is. Die verbruik groei egter aansienlik vinniger as wat bronne ontgin word.

Die meeste oliebronne is in lande wat geneig is om politiek onstabiel te wees. Enige ontwrigting van die aanbod laat die pryse styg. Hoewel dit lyk asof niks in die pad van betekenisvolle dalings staan nie, het die moontlikheid van verdere prysstygings nie verdwyn nie. Hou hiermee saam in gedagte dat klimaatverandering die druk op die ontwikkeling van hernubare energiebronne sterk bevorder en dat Amerika polities verbind is om hierdie bronne vinnig te ontwikkel.

Daar kan dus met redelike sekerheid aanvaar word dat biobrandstof uit landbouprodukte gekom het om te bly, afgesien van die koste van aardolie, veral in Amerika. Gegewe die feit dat Amerika nog die grootste landbouland en 'n belangrike uitvoerder van graan en oliesade is, beïnvloed dit die verloop van landboumarkte, ook in Suid-Afrika.

Aan die een kant is dit waar dat baie graan en oliesaad deur die biobrandstofbedryf opgeslurp gaan word. Aan die ander kant gaan groot hoeveelhede goeie veevoer beskikbaar raak as 'n neweproduk van die biobrandstofbedryf. Dit sal intensiewe veeboerdery in die omgewing van sulke aanlegte 'n hupstoot gee.

Ek voorspel 'n toename in intensiewe veeboerdery in die volgende paar jaar in die gebiede waar biobrandstofaanlegte in Suid-Afrika opgerig gaan word.

In Amerika raak die verbruik van mielies vir die maak van etanol groter as die hoeveelheid wat uitgevoer word. Die verbruik van mielies vir etanol word in die nuwe jaar op bykans 80 miljoen ton geraam. Dit beteken dat die Amerikaanse boere in die nuwe planttyd sowat 3,5 miljoen hektaar meer mielies sal moet plant net om die land se eindvoorraadvlakke te stabiliseer.

Hierdie ontwikkeling het 'n rimpeleffek.Die boere sal meer produksiemiddele, soos kunsmis en chemiese middels, benodig. Die sterk groei in die vraag het die mielieprys reeds met sowat 65 % laat styg

Die beleidmakers is nie bekommerd oor die nuwe druk op die voorraad nie. Met doelgerigte navorsing gaan kultivars ontwikkel word wat meer produseer asook meer droogtebestand is.

Ek hoef nie te sê dat hierdie voordele ook na Suid-Afrika sal oorspoel nie.

Oliesaadpryse het ook begin styg om die groter vraag te weerspieël en om produksie aan te moedig.

Die biobrandstofbedryf het gekom om te bly en is op 'n skerp groeipad in Amerika. Dit het 'n wye rimpeleffek op die graan- en oliesadebedrywe soos wat pryse styg en al hoe meer grond aan die bepaalde gewasse afgestaan word. Nuwe produksietegnologie, ook op plaasvlak, trek groot bedrae nuwe beleggings soos wat in die Amerikaanse landboubegroting weerspieël word. Die voordele hiervan sal ook in die volgende paar jaar na Suid-Afrika oorspoel.

In Amerika raak hope nuwe veevoer beskikbaar. Aan die nadeelkant het veevoer aansienlik duurder geword. Dit gaan veeboere, veral dié wat baie gekoopte voer gebruik,vir 'n jaar of wat onder druk plaas. Mettertyd sal die groter aanbod van veevoer pryse weer in balans bring.

As ek die saak moet opsom: Ons gaan 'n nuwe era tegemoet wat sterk deur biobrandstof aangevuur gaan word.

Landbouweekblad, 23 Februarie 2007