Landbou

Repe turksvyblare word in die son gedroog. Foto: Marleen Smith
Soortgelyk
Turksvye - veeldoelig en nuttig
Deur DRIES KRUGER

Turksvye is 'n bekende, maar baie onderwaardeerde gewas. Dit kan dalk die moeite werd wees om deur 'n ander bril na hierdie interessante gewas te kyk. Dries Kruger van Senwes Landboudienste het meer uitgevind.

Die eerste turksvye is meer as 350 jaar gelede die land ingebring, terwyl die doringlose "Burbank" tipes gedurende 1914 die land ingevoer is. Die turksvye met lang dorings op die blaaie is ?n verklaarde onkruid en slegs die doringlose tipes mag geplant word. Tradisioneel word die turksvy gesien as 'n vars vrug in seisoen en die nat blare as droogtevoer vir vee gedurende die swaarkry-tye.

Nuwe inligting en navorsing toon dat daar heelwat aanwendingsmoontlikhede vir die gewas is. In Mexiko word die jong blaaie se dorings afgeskraap en gebruik as groente en in slaaie. Dié dis staan bekend as "Nopalitos". Die vrugte word as vars vrug bemark, maar kan ook verwerk word tot konfyt en stroop Dit kan ook ingelê, versuikerd of gedroog word. Die sade bevat olie (hoewel aan die lae kant) wat voldoen aan die gesondheidsmark se vereistes. Die plaaslike bevolking van die Oos-Kaap brou 'n bier van die vrug deur gebruik te maak van 'n gis wat spesifiek oor die jare vir hierdie doel deur hulle ontwikkel is.

"Cochenille" - 'n bekende insek en 'n pes in turksvyboorde - word ook gebruik om rooi kleurstof mee te vervaardig. Die plant het ook 'n medisinale waarde wat ontgin kan word. Dit word onder andere as 'n raad teen "babalaas" gebruik. In teenstelling hiermee, kan witblits ook van die vrugte gestook word (natuurlik slegs vir dié met die nodige permit).

Gemaalde en gedroogde turksvyblaaie, wat as gedeeltelike vervanging vir lusern in veevoermengsels ingesluit is, het belowende resultate gelewer.

Droogte-verdraagsaamheid
Die plant is by uitstek 'n droogte-verdraagsame plant, wat met sy relatiewe vlak, horisontaal verspreide wortelstelsel selfs ligte reënneerslae effektief kan benut. Navorsing het getoon dat die plant reënwortels ontwikkel binne die eerste uur vandat die grond benat is, na afloop van 'n droë periode. Hierdie wortels groei teen 5 mm tot 6 mm per dag vir drie dae. Watertoediening van 11 mm was voldoende om blaaie wat dubbel gevou was as gevolg van vogstremming, weer op te vul met vog. Die gewas het dus die vermoë om met sy unieke wortelstelsel ligte reënbuie te benut, waaruit ander plante geen voordeel sal trek nie.

Variëteite , groeiwyse en plantdigtheid
Meer as 40 erkende doringlose turksvy-variëteite en -tipes kom in Suid-Afrika. Hulle kan varieer in vrugkleur van persrooi na geel en groen, met skakerings tussenin. Verskille kan ook waargeneem word in bladkleur, vorm en groeiwyse van die bos, grootblad, kandelaar en tussenin tipes.

Hierdie plant- en vrugeienskappe is van belang indien 'n boord aangeplant gaan word. By die Meksikane is die rooigeel vrugtipes gewild, terwyl die groen vleistipes as vars vrug in Suid-Afrika in aanvraag is.

Die groeiwyse is van belang om die ry en tussenry spasiërings te bepaal. As riglyn word bos en grootblad tipes 6 m x 3 m (555) en kandelaar tipes 5 m x 2 m (1000 plante/ha) gespasieer.

Keuse van variëteite en tipes
Die doel van die aanplanting, hetsy vir veevoer- of vrugproduksie (vars vrugte plaaslik of vir uitvoer) of verwerkte vrugte, sal bepaal watter tipes of variëteit geplant moet word. Vir meer besonderhede oor variëteite en plantmateriaal, skakel die Universiteit van die Vrystaat of die Turksvy Kwekersvereniging (TKV).

Vestiging
Bestel blaaie vroegtydig van 'n betroubare leweransier om variëteit-egtheid te verseker. Bewerk die gronde deeglik en kry die grondvoeding op die vereiste vlakke voor plant. Plantrigting is, sover moontlik, noord?suid vir maksimum son-indringing. Die beste planttyd is van Oktober tot November. Dit gee die plante kans om goed te vestig voor die aankomende winter.

Om die inbring van "cochenille" te verhoed is dit raadsaam om die blaaie met 'n geregistreerde plaagdoder teen die plaag te was voor plant. Die blaaie word, met die snoei-wond kant in die grond, ongeveer 'n derde van die lengte van die blaai in die grond geplant en weerskante vasgetrap. Verwyder alle blomme wat die eerste seisoen vorm. Vanaf die tweede seisoen kan 'n ligte drag op die plante gelaat word.

Boordpraktyke
Turksvye het twee belangrike plae, naamlik "cochenille" en turksvymot, om mee rekening te hou. Albei die plae word maklik chemies beheer deur die voorgeskrewe prosedure te volg. Alle blaaie wat afbreek of gesnoei word, moet uit die boord verwyder word om herbesmetting van die plaag te voorkom.

Cochenille:
Die bekende wit, wollerige kolonies wat op blaaie en vrugte voorkom, is eintlik 'n insek. Sou dit stukkend gevryf word, is die kenmerkende persrooi kleur sigbaar. Die volwasse wyfie insek suig sap uit die plant en skei terselfdertyd 'n toksiese stof af wat die plant stelselmatig doodmaak. Die plaag kom reg deur die jaar voor.

Turksvymot (Cactoblastis):
Die volwasse larwes is redelik bekend by turksvy plante wat besmet is. Die oranje wurms met swart strepe word binne-in die blaaie gevind, waar hulle voed op die sagte plantweefsel en die blaar uithol totdat die plant mettertyd ineen stort. Die larwes kom gewoonlik van September tot ongeveer Mei voor. Beheer vind meerendeels plaas gedurende die eierpakkie-periode deur dit te verwyder of chemies te spuit. Blaaie wat wel besmet is, word verwyder en op so 'n manier vernietig dat die larwes gedood word.

Snoei en vrug-uitdunning
Vir varsmark doeleindes word groot vrugte verkies. Deur die plante jaarliks te snoei en vroegtydig uit te dun verbeter vruggrootte.

Die doel van hierdie artikel is om u belangstelling te prikkel. Vir meer inligting, kontak gerus prof. Wijnand Swart (Universiteit van die Vrystaat) by (051) 401-2383 of Johan Potgieter (Departement van Landbou, Polokwane) by (051) 295-7090.

Bronnelys
Snyman, H.A., 2006; Effect of water stress on root dynamics of Opuntia ficus-indica and O. Robusta; Proceedings of the 2006 International Cactus Pear Conference.
Snyman, H.A., 2006; Root distribution of cactus pears Opuntia ficus-indica and O. Robusta; Proceedings of the 2006 International Cactus Pear Conference.
Snyman, H.A., 2006; Influence of water stress on root/cladode ratio and root lenth of Opuntia ficus-indica and O.robust; Proceedings of the 2006 International Cactus Pear Conference.
De Waal, H.O., 2006; A perspective on the wet faeces produced by dried and coarsely ground Opuntia ficus-indica cladodes in sheep diets; Proceedings of the 2006 International Cactus Pear Conference.
Labuschagne, Maryka T., 2006; Oil content and fatty acid variation in seed of commercial cactus pear (Opuntia ficus-indica) in South Africa; Proceedings of the 2006 International Cactus Pear Conference.
Turksvy Kwekersvereneging (TKV); Riglyne vir die verbouing van doringlose turksvye vir vrugteproduksie; Tweede hersiene uitgawe 1997.

  • Geskryf deur Dries Kruger, Senwes Landboudienste - Landboukundige Spesialiteitsafdeling. Kontaknommer 018 464 7543.

    2 Maart 2007