Landbou
Begin biologies boer
AMELIA GENIS (agenis@lndbou.com)

Die eerste winterreën het in die Wes-Kaap geval, maar dis nog nie te laat om dekgewasse tussen wingerdrye te plant nie.

"Waar moet ek begin?" is altyd die eerste vraag wat boere vra wanneer hulle meer volhoubare boerderypraktyke wil toepas. Vir hulle lyk 'n boerdery sonder die gewone chemiese steunpilare na 'n onmoontlike taak.

Landbouweekblad het praktiese wenke gekry by Stellenbosse wingerdboere, wat reeds 'n paar jaar lank die organiese en biodinamiese pad loop.

Mnr. Mike Malherbe, wingerdboukundige van die wynplaas Laibach, waar 18 ha van die 45 ha wingerd reeds as organies gesertifiseer is, en mnr. Johan Reyneke van Reyneke Wyne, wat 'n biodinamiese boerdery met 20 ha wingerd bedryf, sê herfs is die beste tyd om te begin. Die oes is af en aangesien alles van nou tot wanneer die wingerdstokke begin bot, onder die grond plaasvind, is grondontledings die eerste ding wat gedoen moet word. Daarna moet dekgewasse gesaai word (berig hiernaas).

Malherbe het vanjaar korog- en hawersaad in die rye gestrooi en toegedis en weiwieke tussen die wingerdstokke op die bankies geplant. In van die blokke het hy ook medics (Medicago sativa) gesaai. Die medics maak 'n lekker mat en hou onkruid in toom. Hy het 'n ruk lank laventel in die rye geplant. Hoewel dit 'n goeie teenvoeter vir die onkruid was en 'n goeie deklaag gegee het, was die mededinging net te straf vir die wingerd. Malherbe rol in Oktober die deklaag plat.

Reyneke het verlede jaar, toe hawersaad so duur was, korog gesaai, maar het vanjaar weer hawer gesaai. Sowat 10 % tot 20 % van sy dekgewasmengsel is gewoonlik lupiene. Hy plant twee pitte weiwieke by elke stok en aarbeiklawer by elke paal omdat dit 'n goeie habitat vir roofvyande is. Vanjaar het hy 'n mengsel van klawer en wieke op die bankies geplant. Hy het in die verlede fababone geplant. Dit bind baie stikstof in die grond en laat vesel agter, maar die saad is nogal duur.

Biologiese en organiese boerdery is soos 'n tafel wat op drie pote rus; as een van die "pote" nie daar is nie, val die tafel om. Die "pote" is die grond of grondontleding, mikro-organismes en organiese materiaal om as "kos" vir die mikro-organismes te dien.

Nadat die plant en grond in die vorige seisoen alle voedingstowwe in die korrels se sap, geur en kleur gepomp het, moet bemesting toegedien word om dit aan te vul. Malherbe dien Seagro (vloeibaar) op sy droëlandwingerd-bankies toe. Reyneke dien Oceanfert deur die drupperlyne toe.

Reyneke sê dis nog nie ideaal nie, want biodinamiese boerdery vereis dat 'n plaas selfonderhoudend moet wees en so min produksiemiddele moontlik van elders moet kry. Daarom maak hy kompos van alles uit die kelder, tuin en kombuis asook alle bokse en papierverpakkings. Hy het koeie, ganse, eende en hoenders vir mis.

Hy maak die komposhope laag vir laag met wat ook al beskikbaar is. Dan sit hy biodinamiese preparate by om die regte mikro-organismes te kry en hou dit nat. Hy los die hoop tot dit omtrent ná 'n jaar platval.

Van dié kompos word 'n graafvol by elke wingerdstok gegooi om mikro-organismes in die grond terug te kry. Reyneke sê dis net te skaars om wyd uit te strooi. Hulle haal ook die kweek in die wingerd uit en maak kompos daarvan, maar los dit vir ten minste twee jaar om te verseker dat geen saad oorleef nie.

Om die wingerdstokke se weerstand op te bou en hulle 'n hupstoot te gee, spuit Malherbe elke drie weke van Oktober af 'n komposekstrak op die blare. Dié ekstrak kom van 'n mengsel van wurmkompos, humiensuur, fulviensuur, melasse en vismeel, wat alles organies gesertifiseer is. Reyneke sê kruie-kompos is ook waardevol om plante se weerstand op te bou.

'n Gesonde plant met goeie weerstand is een manier om plae weg te hou, maar organiese en biodinamiese boere mag ook sekere vorme van koper en swawel in klein hoeveelhede spuit. Malherbe waarsku egter dat die grond eers in balans moet wees voordat koper gespuit kan word.

Dit is alles die moeite werd, sê Malherbe. Behalwe dat Laibach se wyn baie goed verkoop, is daar 'n balans tussen groei, drag en konsentrasie in die druiwe. "Die konvensionele wingerde groei dat dit klap, maar die organiese wingerde "tip en top" ek nooit. Daar was vanjaar geen oumensgesiggies in die organiese wingerde nie en die organiese wingerde is beter bestand teen droogte."

Boeke, raad van bure en studiegroepe help alles, maar Malherbe en Reyneke sê niks klop die praktiese toepassing en eksperimentering nie - al is dit ook op 'n klein skaal. Helaas, sê Reyneke, sal boere wat nie 'n sukses van konvensionele boerdery kan maak nie, ook met biodinamiese boerdery droogmaak.

Ken jou dekgewasse
Dekgewasse kan die organiese materiaal in die grond verhoog, onkruide in wingerde en boorde onderdruk, erosie verminder, as 'n habitat vir natuurlike predatore dien, grondvog bewaar, die grond koel hou, stikstof in die grond bind en "kos" vir waardevolle mikro-organismes verskaf.

Kennis van die eienskappe van die groot verskeidenheid dekgewasse wat beskikbaar is, is noodsaaklik omdat daar nie 'n enkele ideale dekgewas vir alle toestande is nie, sê mnr. Loubser Wille, bemarkingsbestuurder van Agricol.

Wanneer dekgewasse gekies word, moet die klimaat, grondeienskappe (pH, soutgehalte, persentasie klip en klei, diepte), terrein, die beskikbaarheid van werktuie en die besproeiingstelsel deeglik in ag geneem word.

Hy sê dis belangrik om dekgewasse te kies wat maklik vestig, min onderhoud verg, groeikragtig en gehard is. Mengsels van dekgewasse moet mekaar komplementeer, meng. Verder moet grondontledings voor bemesting gedoen, en peulgewassade voor saaityd geënt word.

Algemene eienskappe van die bekendste dekgewasse is die volgende:

  • Kanola se aggressiewe groeiwyse in die vroeë stadium onderdruk onkruid goed. Dit help om grondstruktuur te verbeter. Kanola is 'n peulgewas, maar bind nie stikstof nie; lupiene, wieke, medics en klawer bind wel stikstof.
  • Lupiene kan op ligte, selfs marginale, grond met 'n lae pH gesaai word, dog goeie dreinering is noodsaaklik.
  • Weiwieke kan op enige grondtipe gesaai word. Dis gehard, maar vanweë 'n lang groeityd moet dit verkieslik in gebiede met 'n hoër reënval gesaai word.
  • Medickultivars is aangepas vir grond-suurheidsvlakke van 5,2+ tot 5,5+, maar werk nie te goed in sanderige gronde nie.
  • Klawer is wyd aangepas, ook in grond met swak dreinering. Die plant se helderkleurige blomme vertoon mooi op plaaswerwe en by proelokale.

    Die voordeel van 'n mengsel van graan en peulgewasse is dat die peulgewasse stikstof in die grond kan bind vir die graan. Wille sê goeie mengsels vir kleigrond is 100 kg hawer (Pallinup) per hektaar en 10 kg tot 15 kg medics of weiwieke per hektaar. Vir droëland-sandgrond is 100 kg Saia-hawer, rog of korog (Rex) en 10 kg serradella (Barbara) of 40 kg lupiene (SSL10) per hektaar 'n goeie mengsel. Dié aanbeveling werk goed vir droëlandwingerde of wingerde onder drupbesproeiing. In die geval van oorhoofse of mikrobesproeiing, kan hoër saaidigthede gebruik word.

    Steek weer hande in grond
    Biodinamiese boerdery neem volhoubaarheid 'n paar stappe verder as biologiese en organiese boerdery. Organiese sertifisering is trouens 'n intreevlak-vereiste vir biodinamiese boerdery.

    Mnr. Johan Reyneke van Reyneke Wyne, buite Stellenbosch, sê 'n plaas word by biodinamiese boerdery as 'n individuele, selfversorgende eenheid beskou. Preparate wat berei word van beesmis en plante, soos kamillebloeisels, nieskruid en valerianusblomme, word in die grond en kompos gebruik.

    Laastens speel sterkaarte en die stand van die maan 'n belangrike rol in besluitneming oor wanneer sekere aktiwiteite plaasvind. "Dit beteken jy moet die plaas holisties beskou en biodiversiteit op alle vlakke bevorder. Selfs op mikrobevlak moet die verskeidenheid so groot moontlik wees. Die uitgangspunt van biodinamiese boerdery is dat bestendigheid deur verskeidenheid verkry word," sê Reyneke.

    "Dis ook belangrik dat die plaas so veel mense moontlik kan onderhou. Plukkers, eerder as oesmasjiene moet gebruik word. Meganisasie word nie aangemoedig nie."

    Reyneke sê boerdery "volgens die stand van die maan" klink dalk primitief, maar daar is 'n wanopvatting oor wat biodinamiese boerdery nou eintlik is. "Mense dink omdat ons terugkeer na ou boerderymetodes en -praktyke, is ons onwetenskaplik. Tog gebruik ons dieselfde wetenskaplike beginsels.

    "Biodinamiese boerdery is moeiliker as konvensionele boerdery, maar jy is meer betrokke. Jy bóér weer."

    Landbouweekblad, 1 Junie 2007