Landbou
Gars van alle kante bekyk
AMELIA GENIS

Wat het die bevolkingsgroei in Gauteng, die prys van ru-olie, Chinese drinkgewoontes en die Regering se waterbeleid te doen met vooruitsigte vir die moutgarsbedryf? Garsboerdery is meestal nog winsgewend, maar wat hou die toekoms in? Hoe moet die bedryf en boerderye aanpas by 'n veranderende wêreld?

Die winsgewendheid en mededingendheid van die garsbedryf in Suid-Afrika in verskillende omstandighede word onder die vergrootglas geplaas in 'n omvattende verslag wat die Bureau for Food and Agricultural Policy (BFAP) van die Universiteit van Pretoria pas uitgereik het. Die verslag ontleed die bedryf binne wêreldverband tot op plaasvlak en toon hoe verskillende plaaslike en wêreldgebeure boerderye se vermoë om finansieel te oorleef en groei, kan beïnvloed. Suid-Afrika se garsbedryf is klein in wêreldterme - die 248 600 ton gars wat jaarliks hier verbou word, is skaars 0,2 % van die wêreldproduksie - en het min of geen invloed op die wêreldmark, dog dis sensitief vir internasionale veranderinge soos ru-oliepryse, wisselkoerse, die ekonomiese groei van groot lande en wêreldgraanpryse.

'n Vergelykende ontleding van die winsgewendheid van moutgarsproduksie in Suid-Afrika en ander garsproduserende lande, soos Amerika, Frankryk, Kanada, Argentinië en Australië, toon dat gars plaaslik winsgewend verbou kan word, terwyl dit in Kanada, Amerika en Frankryk net winsgewend is danksy regeringshulp.

Die verslagskrywers meld dat plaaslike winssyfers te danke is aan produsentepryse wat hoër is as dié van hul oorsese eweknieë, nie aan die produktiwiteit van garsboerdery hier nie. Produsentepryse in Suid-Afrika is min of meer dubbel soveel as dié in ander lande omdat Suid-Afrika 'n netto invoerder van gars is en gars derhalwe rondom invoerpariteit verhandel.

Soos in die ander lande is kunsmis en landbouchemikalieë, gevolg deur saad, brandstof en meganisasiekoste, die grootste uitgawes met garsverbouing. Aangesien 'n groot deel van die produksiemiddele ''ingevoer'' word, is die impak van veranderinge in ru-oliepryse en die wisselkoers beduidend. Die navorsers het ook gevind dat die toepassing van bewaringsboerdery op SAB se plaas by Caledon en die verteenwoordigende plaas in die distrik Swellendam meganisasiekoste verlaag het.

Strategieë om die winsgewendheid en mededingendheid van die bedryf te verseker, sal in 'n opvolgverslag bespreek word.

In die verslag word gesê aandag moet gegee word aan die ontwikkeling van moutgarskultivars wat groter opbrengste van beter gehalte lewer, 'n waterbeleid wat die behoeftes van mense en die landbou bestuur, ander prysvasstellingsmeganismes en, op boerderyvlak, in die verlaging van insetkoste en die bestuur van skuld.

Die verslagskrywers merk op dat ''voorkomende betrokkenheid by die formulering en bestuur van waterbeleid noodsaaklik is vir die oorlewing en groei'' van besproeiingsplase waar gars verbou word.

Veranderinge in wêreldkommoditeitsmarkte spoel oor in die plaaslike mark vanweë die integrasie van Suid-Afrika in wêreldmarkte. 'n Model is ontwikkel om die verband tussen gebeure op die globale, bedryfs- en plaasvlak na te boots om die uitwerking van verskillende wêreldmarkscenario's op die Suid-Afrikaanse kommoditeitsmarkte en boerderye te bepaal.

Die mate waartoe die verskillende scenario's (lees ''Dors maar een faktor'' hierby) in die toekoms afspeel en watter uitwerking elkeen op plase in die verskillende gebiede het, sal afhang van die belangrikheid van gars in die bedryfstaksamestelling, die bydrae van veevertakkings, die skuldlas van die boerdery, produksiepraktyke en, in die geval van garsboerdery in die noorde, die beskikbaarheid van besproeiingswater.

Plase wat as verteenwoordigend van plase in die distrikte Swellendam, Bredasdorp-Napier, Caledon, Douglas, Vaalharts en Taung beskou kan word, asook SAB se plaas buite Caledon is gebruik om die werklike jaareind-kontantsurplus (wat die plaas se finansiële oorlewingsvermoë aandui) en werklike jaarlikse netto batewaarde (wat die plaas se finansiële groei meet) te bepaal.

Benewens scenario-ontledings ondersoek die verslag die uitwerking van bestaande ekonomiese aanduiders op die finansiële oorlewings- en groeivermoë van die verteenwoordigende plase vir vyf jaar (2006 tot 2010). Die resultate vir Caledon, Bredasdorp-Napier en Vaalharts word aangetoon in grafieke 1, 2 en 3 en toon die waarskynlikheid dat die jaareind-kontantsurplus of netto batewaarde bo of onder sekere bedrae sal wees.

Die finansiële oorlewingsvermoë van die verteenwoordigende Caledon-plaas in 2007 is relatief goed (grafiek 1, links), met 'n waarskynlikheid van 87 % (geel en groen waarskynlikhede) dat die plaas 'n kontantsurplus gaan genereer. Daar is egter 'n kommerwekkende neiging dat die rooi kolom - die waarskynlikheid dat 'n kontantverlies gemaak kan word - stadigaan groter word. Dié neiging word voortgesit by die vermoë van die boerdery om te groei (grafiek 1, regs), wat dui dat daar druk op die oorlewingsvermoë van die plaas is.

Die verteenwoordigende Bredasdorp-Napier-plaas (grafiek 2, links) se finansiële oorlewingsvermoë is eweneens goed, dog die waarskynlikheid van 'n kontantverlies is groter as dié van die Caledon-plaas. Tog bly die waarskynlikheid van 'n kontantverlies amper konstant en kan dit selfs afneem. Hoewel die plaas se vermoë om te groei, baie laag is, het die plaas 'n besonder hoë waarskynlikheid om op dieselfde finansiële vlak te bly.

By die verteenwoordigende plase in die besproeiingsgebiede Douglas en Taung, maar veral Vaalharts, verander die prentjie drasties. Grafiek 3 toon dat die Vaalharts-plaas onder ernstige finansiële druk verkeer, hoofsaaklik omdat die vaste koste van die plaas hoog is in vergelyking met die grootte en inkomste van die plaas.

Klik hier om die volledige verslag te lees. Kyk ook op die webwerf vir die onderskeie grafieke waarna verwys word.

Dors maar een faktor
Bierverbruik en die verandering in die vraag na verskillende soorte bier is beslis 'n faktor om mee rekening te hou wanneer vooruitsigte vir die plaaslike moutgarsbedryf bespreek word.

Scenario's wat in 'n omvattende ondersoek deur die Bureau for Food and Agricultural Policy van die Universiteit van Pretoria oorweeg is, maak aannames oor ekonomiese groei en die gevolge daarvan in China, die wêreldpryse vir moutgars, die olieprys, plaaslike rentekoerse en inflasie, die besteebare inkomste en die vraag na bier, asook die weersomstandighede in die Suid-Kaap en die beskikbaarheid van besproeiingswater in die noorde. By alle scenario's is die verwagting dat reënval in die Suid-Kaap wisselvallig sal wees.

Scenario 1 - ''Dorstige draak'': In hierdie scenario groei die Chinese ekonomie sterk, met 'n gepaardgaande toename in besteebare inkomste. Die vraag na bier styg, maar China se produksie en gehalte van moutgars verbeter nie.

Moutgarsinvoer neem toe en dit laat wêreldpryse styg. Sterk ekonomiese groei in China, Indië en Thailand hou oliepryse hoog.

In Suid-Afrika styg insetkoste en inflasie. Rentekoerse word verhoog, maar die rand bly stabiel. Suid-Afrika se ekonomiese groei is 4 % tot 5 %. Die verbruik van Castle daal, maar die verbruik van duurder bier neem toe. Die vraag na tipe A-moutgars neem toe, en die vraag na tipe B (wat in die vervaardiging van Castle gebruik word) daal, wat die invoer van gars uit Australië en Kanada laat toeneem. Plaaslike garspryse styg en die oppervlak onder gars neem toe in die Suid-Kaap. Minder word in die noorde geplant vanweë die koste van besproeiingswater. Scenario 2 - ''Vervaardig in China'': Die Chinese ekonomie groei voort, maar die land se moutgarsgehalte en -produksie verbeter en garsinvoer uit Australië, Kanada en die Europese Unie daal drasties. Wêreldgarspryse daal en plaaslike pryse daal ook. Suid-Afrika kan moutgars goedkoper invoer.

Die Suid-Afrikaanse ekonomie groei en duurder bier kan goedkoper geproduseer word met goedkoper gars, dog ten koste van bier soos Castle. Die vraag na tipe B-moutgars daal. Vanweë die hoë olieprys bly insetkoste hoog. 'n Toename in garsinvoer en laer pryse laat plaaslike produksie met 10 % daal teen 2012.

Scenario 3 - ''Local is lekker'': Ekonomiese groei in China spoed voort en veroorsaak hoë olie- en kommoditeitspryse. China sluit handelsooreenkomste met verskeie lande in Suider-Afrika om die voorsiening van kommoditeite wat noodsaaklik is om hul ekonomiese groei te handhaaf, te verseker.

Dit laat die ekonomieë van heelparty Afrika-lande groei. Besteebare inkomste en die vraag na bier gemaak van tipe A- en B-moutgars styg. China voer die meeste van sy moutgars in en die wêreldprys styg stadig. Die vraag na Suid-Afrikaanse moutgars neem toe.

Insetkoste bly hoog vanweë die hoë olieprys. Besproeiingswater sal duurder wees. Plaaslike bierverbruik styg met 18,5 % teen 2012 vanweë groter besteebare inkomste. Minder gars word in die noorde geplant weens duur besproeiingswater.

Scenario 4 - ''Verbrokkelende ryk'': Ekonomiese groei in China daal vanweë internasionale politieke onrus, olie is baie duur, skeepsvervoerkoste is duur en wêreldhandel verbrokkel. Besteebare inkomste en bierverbruik in China daal. Garsuitvoer na China neem af en garspryse daal. Politieke onrus en lae ekonomiese groei laat oliepryse wissel. Insetkoste, wisselkoerse en graanpryse is wisselvallig en veroorsaak onsekerheid by boere.

Onstabiele garspryse en vervoerkoste bemoeilik biermakers se langtermyn-beplanning. Verbruikers slaan oor na bier wat meer bekostigbaar is, soos Castle en Black Label, en die vraag na tipe B-gars verhoog. Plaaslike ekonomiese groei neem af en armoede neem toe. Die Regering word gedwing om beleid aan te pas om die openbare mening te dien. Besproeiingswater word skaars en duur. Plaaslike garspryse is wisselvallig en plaaslike verbruik van gars daal weens dalings in besteebare inkomste.

Met alle scenario's neem die waarskynlikheid dat plase in die Suid-Kaap finansieel sal oorleef, toe, maar die waarskynlikheid dat die plase gaan groei, bly redelik konstant of verbeter net in die geval van Swellendam en SAB se plaas by Caledon.

In die geval van gars onder besproeiing bly die vermoë om 'n kontantsurplus te genereer, by Douglas redelik konstant, maar die plaas se vermoë om te groei, verbeter nie juis nie. Onder alle scenario's word 'n donker prentjie vir die plaas by Vaalharts geskilder: Ten opsigte van die waarskynlikheid om 'n kontantsurplus te genereer en netto batewaarde te laat styg.

Landbouweekblad, 22 Junie 2007