Landbou
Son sak vir besproeiingsboere
JOHAN NORVAL (jnorval@landbou.com)

Meer as twee dekades gelede was die staatswaterskema by Koppies in die Noord-Vrystaat die heenkome vir tientalle boere. Hul besproeiingsboerderye het in die Renosterrivierskema gedy. Maar nou is net enkeles oor en hulle voer 'n sukkelbestaan.

Die voortbestaan van die Renosterrivier-waterskema is in die gedrang en die toekoms van die handjievol oorblywende boere in die Koppies-nedersetting, asook die nabygeleë Rooipoortdam, is allesbehalwe rooskleurig.

Die Departement van Waterwese en Bosbou bestudeer intussen die aanbevelings van 'n onpartydige landbou-ekonoom wat pas 'n lewensvatbaarheidstudie oor die gebied afgehandel het.

Die boere som die situasie self goed op: Die toestand van die skema is 'n nasionale verleentheid. Hulle sê dit is belaglik dat die deelnemers aan 'n besproeiingskema vir droogtehulp moet aansoek doen.

Die skema is maar een van die projekte wat skipbreuk ly sedert die staat sy geldelike steun in 1994 aan kommersiële boere onttrek het.

Mnr. Willie Liebenberg van die Potchefstroomse kantoor van die Departement van Waterwese en Bosbou was vroeër jare ten nouste by die Koppies-skema betrokke. Hy sê in die tydperk voor 1996 het die staat van sy waterskemas met tot 66 % van die bedryfskoste gesubsidieer. Daarna is besluit dat die deelnemers aan die skemas self die werklike koste moet betaal en dit is oor 'n tydperk van vyf jaar ingefaseer.

Mnr. Hansie Crafford, voorsitter van die Renosterrivier-waterverbruikersvereniging, en mnr. Hans van Schalkwyk, 'n lid van die vereniging, hou vol hul penarie kan nie toegeskryf kan word aan 'n onvermoë om suksesvol te boer nie en ook nie aan die opbrengspotensiaal van die grond nie.

Crafford sê die probleme met die instandhouding van die skema die afgelope vier jaar is dieselfde: Die kanale is verwaarloos, die sluise is uitgehaal, stukkend en met sement verseël.

Die kanale is so oorgroei dat 'n mens skaars die kanaal kan sien. Op party plekke is dit so vlak dat dit nie water kan hou nie. Sodra water losgelaat word, oorstroom dit die walle en lei tot die versuiping van die naasliggende landerye.

"Al vra jy water aan, kom dit nie by jou landerye uit in die stroomsterkte soos dit behoort te wees nie en dan versuip die gewasse van die mense langs die pad. Hoekom moet die boere betaal as Waterwese geen diens lewer nie? Sal u iemand betaal wat die hele dag sit en niks beteken nie?"

Hy sê intussen was die dam ook droog weens 'n tekort aan reën in sy opvangsgebied. Tog het die boere rekeninge gekry vir water wat hulle nooit ontvang het nie.

Van Schalkwyk sê die boere wil hê dat hulle agterstallige skuld afgeskryf en dat die skema herstel word tot die werkende skema wat dit was. "Dan kan ons weer water ontvang. Dan kan almal 'n nuwe blaai omslaan en onderhandel oor 'n billike prys vir water, want die huidige tarief is die hoogste van al die skemas."

Nog 'n belanghebbende die afgelope twee jaar is die De Beers-myngroep wat in die proses is om watertoekennings uit die Koppiesdam te verkry vir sy Voorspoed-diamantmyn, sowat 30 km noord van Kroonstad.

De Beers sê onomwonde hy wil nie self die infrastruktuur van die Koppies-skema as deel van die Voorspoed-projek verbeter nie, maar sy bydrae vir die waterverbruik en die tarief kan hiervoor aangewend word. Een van die probleme wat die myn ondervind, is die administratiewe rompslomp wat met die verkoop van die waterregte gepaard gaan.

Mnr. Manie Groenewald, hoofingenieur van die Departement van Waterwese in Bloemfontein, wat regstreeks met die Koppies-skema werk, sê die departement se bestuurspan oorweeg die jongste verslag oor die skema. Groenewald sê dit sal nou met belanghebbendes, soos die gemeenskap, die georganiseerde landbou, De Beers en staatsdepartemente, bespreek word.

Die verslag, wat deur 'n span konsultante van die Universiteit van die Vrystaat onder leiding van prof. Giel Viljoen opgestel is, lui onder meer dat die ekonomiese lewensvatbaarheid van die Koppies-besproeiingskema reeds jare onder verdenking is.

Meer onlangse probleme bevestig die stryd wat die boere ondervind. Dit het byvoorbeeld meegebring dat die eienaars van die besproeiingsreg vir 854 ha in 1998 besluit het om daarvan afstand te doen en dat die De Beers-myngroep die opsie het om die waterregte op 'n bykomende 886 ha besproeiingsgrond te bekom.

Die boere is in die algemeen ontevrede met die instandhouding van die kanale en die watervoorsiening uit die skema. Hulle sê ook die watertarief is te hoog. Die opskorting van die watervoorsiening, die ontevredenheid met die bestuur van die stelsel en die siening dat die jaarlikse watertarief van R1 364 per ingeskrewe hektaar onder vloedbesproeiing te hoog is, word weerspieël in die feit dat ses van die agt boere in die gevallestudie in 2006 nie die beskikbare besproeiingswater gebruik het nie.

Die finansiële verslae van dié agt boere toon 'n mistroostige prentjie. Hoewel sewe van hulle se bates meer as hul laste is, ervaar almal 'n kontantvloeikrisis. Ses van die boerderye toon 'n verlies en al die boere ervaar 'n tekort nadat hul huishoudelike uitgawes afgetrek is.

Die ondersoekspan het drie moontlike scenario' geskets. Die eerste is dat al die deelnemende boere besproei en 'n tarief betaal wat hulle as billik beskou, die tweede is dat al die boere besproei en die huidige tarief betaal, en die derde dat boere ophou besproei en weier om die tarief te betaal.

Die eerste moontlikheid is die wenslikste vir die boere omdat ses van die boere in die gevallestudie 'n hoër netto boerdery-inkomste, wins en surplusse kan kry as met die tweede moontlikheid. Nie een sal baat vind by die laaste moontlikheid nie.

In die ondersoek is bevind dat dit nie ekonomies wenslik is om beginnerboere op die huidige persele in die Koppies-skema te probeer vestig nie.

In sy aanbevelings sê Viljoen 'n grondiger ondersoek is nodig om 'n holistiese, volhoubare langtermyn-oplossing aan die hand te doen. Van die probleme wat hy in sy ondersoek teëgekom het, is:

  • Van die grond is nie geskik vir besproeiing nie, wat lei tot versouting en 'n beperkte besproeiingsleeftyd. Die meeste gewasse het 'n betreklik lae opbrengspotensiaal en die persele is oor die skemagebied versprei.
  • Die hooftoevoerkanaal word nie behoorlik in stand gehou nie. Dit lei tot ondoeltreffende watertoevoer.
  • Vloedbesproeiing is ondoeltreffend op turfgrond.
  • Boere ondervind geldelike probleme weens agterstallige waterskuld, probleme met kontantvloei en die hoë watertarief.

    Ten spyte daarvan is van die boere bereid om met die skema voort te gaan as die haakplekke oor die agterstallige water?skuld, die hoë watertarief, die instandhouding van die kanale en die watertoevoer reggestel word. Viljoen beveel aan dat die Departement van Waterwese en die besproeiingsboere 'n ooreenkoms oor die skuld aangaan sodat die watertoevoer herstel kan word. Van sy ander aanbevelings is:

  • Die waterverbruikersvereniging (WVV) moet die groen lig kry om die bedryf en die instandhouding van die skema oor te neem, met die voorbehoud dat die WVV dié taak volhoubaar kan uitvoer.
  • Die moontlikheid om die watertarief te verlaag, moet ondersoek word. Dit sal meebring dat individuele boere van die bedryfs- en instandhoudingskoste van die watertoevoerstelsel moet dra.
  • Die Departement van Waterwese en Bosbou moet die nodige steun verskaf om die gladde en doeltreffende oorname van die nuwe bedeling te verseker.
  • Die voorgestelde steun deur die departement behels onder meer die opknapping van die Koppies-waterskema, wat teen Maart vanjaar sowat R8,25 miljoen beloop het, die vergoeding van Waterwese-personeel gemoeid met die projek vir 'n tydperk van minstens drie jaar ingevolge die oordragooreenkoms en die toepassing van bestuurs- en tegniese hulp tydens die oordragtydperk.
  • Die departement moet verantwoordelik wees vir droogtehulpmaatreëls in jare van watertekort.
  • Die WVV moet die verantwoordelikheid aanvaar om die hooftoevoerkanale in stand te hou en die water betyds op aanvraag aan die verbruikers lewer.
  • Die individuele besproeiers moet op hul beurt onderneem om dele van die toevoerstelsel te onderhou en die watertarief betyds te betaal.

    Viljoen se aanbevelings oor aspekte wat ondersoek moet word vir die volhoubaarheid van die skema op langer termyn, is:

  • Die vasstelling van die huidige pH-vlakke van die grond en, indien nodig, die volhoubaarheid van behoorlike dreineringstelsels.
  • Die moontlike hergroepering van die besproeiingspersele wat nou oor die skema heen versprei lê.
  • Die opknapping van die verouderde besproeiingstelsels. Vloedbesproeiing kan by-voorbeeld deur sprinkelbesproeiing vervang word.
  • Die kanaalstelsel moet moontlik deur 'n meer doeltreffende verspreidingstelsel vervang word wat waterverlies en die instandhoudingskoste beperk.
  • Die oordrag van watertoekenning na besproeibare grond met 'n hoër potensiaal vir die vestiging van 'n nuwe geslag beginnerboere.

    Agtergrond van die skema
    Die Koppies-nedersetting-besproeiingskema het sy ontstaan gehad ná voltooiing van Koppiesdam in die Renosterrivier in 1912. Die grond is in persele van 10 morg (8,65 ha) ingedeel wat altesaam 1 214 ingelyste hektaar beslaan. Op daardie tydstip was dit 'n staatskema.

    Toeslikking het in 1951 tot die eerste fase van die vergroting van die dam gelei. Toe was die bestuur van die dam in die hande van die plaaslike nedersetting-bestuursraad wat uit verkose besproeiingsboere bestaan het.

    In 1967 is begin om die dam tot sy huidige kapasiteit te vergroot.

    In 1968 het die nedersettingbesproeiingsraad verval en die Departement van Waterwese het die Koppies- en die Rooipoort-waterskema oorgeneem. Die skemas het onder die Vaalrivier-seksie met Potchefstroom as hoofkantoor geval. In die 1990' het die skema oorgegaan na die Sand-Vetrivier-seksie in Welkom.

    Die aktiewe boere het sedert 1985 verminder van 56 tot 'n skrale 18 vandag. Die boere wyt dit aan die drastiese verhoging van die watertarief, ten spyte van herhaaldelike skriftelike besware.

    Die skema bestaan uit 'n swaar tipe grond wat van besproeiingswater afhanklik is. Die volgende gewasse word hoofsaaklik hier verbou: lusern (sowat 100 bale per ha), mielies (sowat 8 ton per ha) en graansorghum (sowat 6 ton per ha).

    Die vloedbesproeiing van die skema vind hoofsaaklik uit twee toevoerkanale plaas, naamlik die noord-kanaal (aanduidend van die rigting waarheen die water vloei) wat in geheel 'n grondkanaal is, en die suid-kanaal, wat gedeeltelik uit beton bestaan. Al die ander kanale en leivore is grond.

    Landbouweekblad, 29 Junie 2007