Groenteboere behoort hul huiswerk deeglik te doen en nie sonder meer enige kultivar wat deur verkoopsmanne aanbeveel word, te plant nie. Dié raad kom van een van die grootste kwekerye in die land. Landbouweekblad het gaan hoor wat groenteboere te doen staan voordat hulle plant.
Groenteboere moet hulself vergewis van die fyn druk op die saadhouers wat hulle koop. Hulle moet ook in ag neem dat die opbrengs deur talle faktore, soos grondvoorbereiding en bespuiting, beïnvloed kan word, sê mnr. Rian Moore, mede-eienaar van 'n kwekery by Thornhill.
Dié kwekery lewer bykans 50 miljoen saailinge per jaar aan boere in die Oos-Kaap. Dit is dus onder die elf grootste verskaffers van plantjies aan die groentebedryf. In die afgelope tien jaar het Moore al meermale boere teëgekom wat soos mnr. André Gerber (lees "Boer trap stel af" op bl. 15) ontnugter is. Die saailingkwekersvereniging, waarvan hulle 'n lid is, hou volledig rekord van aanplantings en probleme wat opduik.
Moore verduidelik dat sy kwekery saailinge hoofsaaklik op bestelling van boere kweek. "Ons aanvaar dat wanneer 'n boer sy bestelling plaas, hy sy huiswerk oor die betrokke kultivar en planttyd gedoen het. Die kwekery help boere met raad, soos oor die geskikste kultivar vir 'n bepaalde streek en die plantsiekte-risiko'. Dit sal oneties wees om saailinge te verkoop as jy voor jou siel weet dat dit om bepaalde redes nie in sekere toestande sal gedy nie."
Hy sê die koolkultivar waarmee Gerber probleme ondervind het, is voorheen op sy eie en drie ander plase in die omgewing van Hankey as 'n proef geplant. Nie een van die ander boere het dit daarna kommersieel verbou nie. "Omdat Gerber dit reeds beproef het, is aanvaar dat hy die kultivar ken en daarom is die sowat 32 000 saailinge wat toe beskikbaar was, met sy medewete aan hom te verskaf."
Moore wys daarop dat geen nuwe kultivar versprei kan word voordat dit deur die Departement van Landbou goedgekeur is nie. Hoewel die verspreider dus hierdeur gevrywaar word, sal dit nogtans onverantwoordelik wees om 'n bepaalde kultivar te promoveer as dit nie op groot skaal kommersieel verbou is nie. "Hou egter ook rekening daarmee dat die jokkie baie te make het met die uitslag van 'n wedren. Die een boer kan uitsonderlike welslae behaal en die volgende boer kan heeltemal misluk. Wanneer iemand misluk, soek hy gewoonlik die fout op 'n ander plek. Die kwekery is die eerste wat onder verdenking kom.
"As dit 'n saailingprobleem is, verwag ons van 'n boer om die kwessie so gou moontlik onder ons aandag te bring - verkieslik binne die eerste vyf dae. Sou daar ander probleme wees, soos siekte, is dit eweneens belangrik om so gou moontlik die nodige bespuitingsprogram toe te pas.
Moore, wat met die sewe belangrikste saadverskaffers handel dryf, sê daar is groot mededinging tussen die verskillende handelaars. Daar is maatskappye wat 'n hoë etiese kode handhaaf en boere, waar moontlik, tegemoetkom. Daar is ook individue binne maatskappye wat hoë aansien geniet en wat slegs produkte sal aanbeveel wat 'n goeie kans op sukses het.
Weens die hoë produksiekoste (deesdae sowat R22 000 per hektaar) het saadmaatskappye ook 'n verantwoordelikheid. Hulle het proefplase op verskillende plekke in die land en doen ook by boere proewe.
"'n Goeie verteenwoordiger sal van ál die aspekte kennis dra. As hy 'n goeie verhouding met 'n boer het, sal hy selfs van sy mededingers se kultivars aanbeveel om 'n bepaalde tydgleuf in die mark te vul indien sy maatskappy nie die regte kultivar daarvoor het nie.
"In dié proses dwing die verteenwoordiger respek af en boere ontwikkel gewoonlik 'n lojaliteit teenoor sulke verteenwoordigers. Daar is selfs maatskappye wat nuwe saailinge aan 'n boer sal verskaf as omstandighede dit regverdig. Selfs as hulle in die kwekery met bepaalde saad 'n probleem met ontkieming raakloop, is die maatskappy geneë om sekere van hul verliese te dek aangesien die aanplanting in hoogs gekontroleerde toestande plaasvind en elke proses akkuraat aangeteken word, benadruk Moore.
"Die maatskappy is deur sy verkoopvoorwaardes gevrywaar. Ook die kwekery kan geen verantwoordelikheid aanvaar in geval van gesonde saailinge wat sy terrein verlaat nie.
"In die praktyk is daar groenteboere wat ondanks ál die struikelblokke sukses behaal net omdat hulle deeglik navorsing doen. Dié wat slaag, is dié wat bereid is om met nuwe kultivars te eksperimenteer en wat dit verantwoordelik doen," benadruk Moore.
Boer stel sy saak
Met die aankoms op Groendal, in die Kruisriviergebied van die distrik Uitenhage, is dit duidelik dat jy nie vir mnr. André Gerber (55) veel van kool kan leer nie. Met meer as 35 jaar ervaring in die verbouing van enige denkbare groentesoort wat in dié omgewing aard, lewer sy boerdery jaarliks 1,2 miljoen tot 1,4 miljoen koolkoppe aan die markte in die Oos-Kaap en tot so ver as Lesotho.
Maar toe tref 'n ramp hom vanjaar. Gerber beweer hy het sy ore uitgeleen aan 'n verkoopverteenwoordiger wat hom oortuig het om 'n nuwe kultivar op die proef te stel. Dit is aan hom gestel dat dit 'n uitstekende winterkool is en ideaal vir die losmaatmark sou wees, die mark waarin hy spesialiseer.
"Ek het sommer al vroeg in April gesien hier kom probleme. Die koppies was besonder klein en sommiges het reeds begin oopbars."
Gerber beweer dat sy aanvanklike telefoonoproepe op dowe ore geval het. Eers nadat hy sy lot bekla het by die kwekery waar hy die saailinge aangeskaf het, het verteenwoordigers van die saadmaatskappy Groendal in sy afwesigheid besoek. Drie dae ná die besoek het dit begin reën en het die een na die ander kop oopgebars. In 'n land langsaan was 'n stand winterkool van 'n ander maatskappy waarvan nie 'n enkele kop oopgebars het nie. Dieselfde produsedure is met planttyd vir albei lande gevolg.
Ten einde raad het hy 'n brief per e-pos aan die maatskappy se streekverteenwoordiger gestuur waarin hy sy probleme uitgestippel en ook aangedui het dat hy dit oorweeg om hom tot Landbouweekblad te wend.
In die antwoord wat in Landbouweekblad se besit is, word Gerber gewaarsku dat die maatskappy nie sal "huiwer om met die volle gesag van die regstelsel op te tree indien hy sou probeer om die maatskappy se naam te beswadder of sy besigheid te benadeel nie."
Gerber sê hy wil graag sy medeboere waarsku om nie kultivars te koop wat nie behoorlik in die verskillende dele van die land ook grootskaals kommersieel getoets is nie. "'n Kultivar vaar dalk uitstekend in die Wes-Kaap, maar minder goed in die Oos-Kaap."
Mnr. Dewald Barnard van die mark-agentskap Gouws en Kie., wat al jare met Groendal-boerdery besigheid doen, sê Gerber word as een van die beste koolboere in die provinsie beskou. In die Oos-Kaap is hy die grootste verskaffer van kool aan die mark. "Kopers ken die gehalte van die produkte wat hy lewer. Hy was een van die eerste boere wat kool in los maat gelewer het."
Barnard sê boere van Patensie het ook oor die betrokke kultivar gekla. Hy meen die betrokke saadmaatskappy moet Gerber vir sy skade vergoed. "Dit is nie reg dat saadmaatskappye net in mooi weer met boere saamwerk nie. Hulle behoort ons ook in krisistye by te staan."
Maatskappy stel sy saak
Landbouweekblad het die aantygings van mnr. André Gerber van die plaas Groendal, Uitenhage, na die betrokke saadmaatskappy verwys. Die volgende antwoord is ontvang:
"Enige betroubare saadmaatkappy sal 'n nuwe kultivar toets voordat dit beskikbaar gestel word. Hierdie toetsing geskied op die maatskappy se eie proefpersele in verskillende dele van die land en daarna op klein skaal by boere. Die betrokke kultivar is sedert 2003 in verskillende dele van die land deeglik getoets. Dit is selfs op Groendal beproef - Gerber het dit in die seisoen 2005 as 'n proefneming geplant.
"Dit het so goed gelyk dat hy besluit het om vanjaar 32 000 saailinge te plant. Dit was sowat 1,5 % tot 2 % van sy jaarlikse koolaanplanting. Die saailinge het sowat R850 gekos. Dit was dus 'n klein aanplanting gemeet aan die res van sy boerdery.
"Gewoonlik sal boere wat nuwe kultivars oorweeg, begin met 'n proefaanplanting van 200 tot 500 saailinge van 'n nuwe kultivar. Dit word dan vermeerder tot enigiets van 1 % tot 5 % van sy totale aanplanting. Daarna kan dit tot 10 % tot 20 % en uiteindelik tot 50 % tot 70 % met verloop van 'n aantal jare verhoog word. Dit word as 'n redelike en aanvaarbare praktyk beskou om nuwe kultivars te vestig.
"In die geval van die betrokke kultivar het die aanplanting in die Oos-Kaap en ook op Groendal dus volgens die normale beplanning verloop.
"Dit is korrek dat die betrokke kultivar kleiner koppe lewer as van die ander kultivars. 'n Kultivar soos Megaton kan koppe van 5 kg tot 13 kg lewer na gelang van die toestande. In die geval van die betrokke kultivar weeg die koppe egter net 3,5 kg tot 4,5 kg wat dit ideaal maak vir die sakmark in die meeste dele van die land en die mark vir los kool in sekere gebiede.
"Daar moet rekening gehou word met die feit dat die kopgrootte bepaal word deur die plantgrootte of raamwerk van die plant wat teen die vyfde en sewende week ontwikkel. Dit kan op sy beurt beïnvloed word deur praktyke soos bemesting, besproeiing en omgewingstoestande.
"Ten spyte van die kleiner koppe het Gerber nogtans sowat 85 % eenvormige koppe van die betrokke kool geoes."
Oor die klagte dat die koppe gebars het, sê die maatskappy dat elke kultivar se toleransie verskil. Feitlik alle kultivars sal geneig wees om te bars indien dit baie reën kry of te veel besproeiingswater in 'n laat stadium toegedien word. Die reën toe die kool volwasse geword het, was in hierdie geval die rede. Dit het eers twee weke ná die reën oopgebars, wat dui op 'n aansienlike toleransie.
"Die maatskappy hou by sy standpunt dat die betrokke kultivar goed beproef is. Dit is deur verkoopsmanne aanbeveel waar dit suksesvol verbou kan word. Dit is in niemand se belang om 'n kultivar aan te beveel indien dit nie die potensiaal het om aan die verwagtinge te voldoen nie."
Landbouweekblad, 27 Julie 2007.