Landbou
Geenbewerking is die antwoord
Deur CHARL VAN ROOYEN (cvanrooy@landbou.com)

Insetkoste wat te hoog is om volhoubare boerdery moontlik te maak, het 'n graanboer in Noordwes genoop om eers konvensioneleploegbewerking vir spoorverkeer te verruil en nou na geenbewerking oor te skakel.

In 'n vorige era was ploegbewerking die in-ding en dit het destyds gewerk, maar mnr. Hannes Otto het gou agtergekom hy moet iets aan die hoë insetkoste van sy boerdery doen as hy wil oorleef. 'n Nuwe bewerkingstelsel wat minder kos, was een van die moontlikhede.

Otto boer in die distrik Ottosdal met Korannafontein as sy en sy vrou, Ilse, se woonplaas. Hy is een van drie finaliste in Graan Suid-Afrika se wedstryd vir 2007 se graanprodusent van die jaar. Ottosdal, ongeveer 45 km noord van Wolmaransstad en 70 km wes van Klerksdorp, is op die familieplaas van sy oupagrootjie gestig.

Die toekenning word op 19 Oktober op Bothaville gedoen. Die ander boere in die pylvak is mnre. Jaco van Niekerk van Luckhoff en Kobus Wessels van Caledon. Die egpaar word deur hul seun, ook Hannes, in die boerdery bygestaan. Hulle boer met graan (wat 60% van die inkomste uitmaak) en beeste (15%), en het onlangs begin braaikuikens produseer (wat vir 25% van die boerdery-inkomste verantwoordelik sal wees wanneer dit volstoom aan die gang is).

Toe Hannes in 1982 met 'n B.Sc.Agric-graadsertifikaat teen sy studeerkamer se muur en vier jaar ondervinding as landboukundige vir Omnia Kunsmis begin boer het, het hy genoeg van sy nuwe beroep geweet om te besef hy moet iets doen om stabiliteit aan sy inkomste te gee. "Toe was 2,5 ton mielies per hektaar genoeg om wins te maak, maar produksiekoste het deur die jare weggehardloop. Nou het 'n boer geen keuse nie as om die opbrengs per hektaar te verhoog, insetkoste te verlaag en waarde tot sy produkte toe te voeg ter wille van oorlewing en vooruitgang," vertel hy.

Een manier om inkomste te verhoog, is om waarde toe te voeg. Dit is hoekom hulle twee eenhede gebou het om braaikuikens groot te maak, elk met plek vir 50 000 kuikens. Sodoende voeg hulle waarde tot hul mielies by, want hulle het 'n ooreenkoms met hul voerverskaffers om mielies vir voer te ruil.

Laer insetkoste is vir Hannes egter die sekerste manier om te verseker dat hy as boer kan voortbestaan. Sy keuse was om bewerkingskoste te besnoei. Hy kom nog uit die era toe dit algemene praktyk was om te ploeg. Diesel is egter duur. Daarom het hy jare gelede begin met bytelploegbewerking, wat minder trekkrag en brandstof verg. Dit het egter nie goed gewerk nie. Die jare se geploeg het 'n ondeurdringbare ploegblad geskep wat nie met 'n bytelploeg stukkend gebreek kon word nie.

Dit was ook te duur om algehele diep ploegbewerking te doen. Hy het toe na spoorverkeer oorgeslaan, waarvolgens hy net op die planterry 'n ripbewerking doen.

Daar waar dit saak maak, dring die plantwortels dus lekker diep in om die grondvog te gaan uitpomp.

Met spoorverkeer het die mielie-opbrengs heelwat gestyg, danksy die beter wortelindringing en vogbewaring. Nuwe kultivars speel ook 'n rol, want die nuwe basters hanteer droogtetoestande beter en is nie so vatbaar vir siektes en veral kopvrot nie. Bygesê, Hannes verseker dat hy die regte kultivars plant deur plaasproewe te doen, bygestaan deur saadmaatskappye en die Departement van Landbou. Dus het hy die geleentheid om te sien wat die beste by hom aard.

Sewe jaar gelede het Hannes met 'n ruslandstelsel begin om vog nóg beter te bewaar. Nadat die mielies gestroop is, hou hy die lande vir 'n jaar skoon van onkruid met chemiese en meganiese onkruidbestryding sodat die onkruide nie vog gebruik nie.

Dit alles het groter stabiliteit in die Ottos se boerdery gebring. "Ons weet nooit wanneer dit weer droog gaan word nie. Daarom laat rus ek elke jaar 20% tot 30% van die lande," sê hy.

Steeds was die baas van die plaas nie tevrede nie, want die insetkoste het nog seer geknyp, veral brandstof en die vervanging van werktuie. Ander lede van die Ottosdal-studiegroep het dieselfde gevoel. Hulle is toe Argentinië en Brasilië toe om te kyk hoe daardie boere geenbewerking toepas.

Hulle het met goeie kennis en 'n nuwe visie vir die toekoms teruggekom. Hannes is een van die boere wat besluit het om na geenbewerking oor te skakel. "My kop het geswaai. Ek is spyt ons het nie al jare gelede gaan kyk nie," sê hy. Toestande daar is nie veel anders as in Suid-Afrika nie en die Argentynse en Brasiliaanse boere pas byna deur die bank geenbewerking toe en die opbrengs styg steeds.

Hy besef dit gaan 'n moeilike pad wees as hy dit suksesvol wil stap. Daarom het hy dié projek "met groot omsigtigheid" aangepak. Otto is egter oortuig dit gaan by hom werk en dat hy groot waarde uit geenbewerking se talle voordele sal put. Die grootste voordeel is dat elke druppel reën met hierdie stelsel optimaal benut word.

Dit word in die grond opgeneem en met die regte praktyke om onkruide te bestry, is alles tot die oeste se beskikking.

Die oesreste wat altyd bo-op die grond bly, is bedoel om die wind en water te stuit en dus wind- en watererosie teen te werk. Dit laat die water beter indring. In hierdie distrik is daar normaalweg van Augustus tot Oktober baie stof in die lug wanneer die wind oor die kaal mielielande waai. As dit dan reën, spoel baie water weg, met gevolglike verlies aan bogrond.

"Met geenbewerking boer 'n mens tot 'n groter mate saam met die natuur," sê hy. "Ek is bevoorreg om te kan boer, maar ek wil hê my nageslag moet ook daardie voorreg hê. Daarom moet ek volhoubaar boer. Ek is seker geenbewerking is die antwoord."

Nóg 'n voordeel is dat die boer minder trekkers, werktuie en arbeid nodig het en dus geld bespaar. Feitlik al spesialis-werktuig wat hy moes aanskaf, was 'n planter; 'n swaar werktuig wat deur die oesreste moet dring om die saad te plant.

Die ruslandstelsel in die omgewing werk goed en om dit by geenbewerking te laat inpas, word 'n voergewas (voersorghum) of akkerbone vroeg in die rusjaar geplant ? teen Oktober of November. Hierdie gewas word dan in Februarie met 'n onkruiddoder doodgespuit sodat die najaar se vog opgegaar kan word. " 'n Goeie bedekking is belangrik," sê Otto. Die volgende planttyd word mielies of sonneblomme geplant. Wisselbou is noodsaaklik om siektes en plae te beperk. Met geenbewerking is 'n gebalanseerde voedingstatus belangrik om mikrobiese bedrywigheid in die grond te verbeter.

Intussen voer hy stelselmatig ook presisieboerdery in. Die grondontledings en -kartering is reeds gedoen. Nou kan Otto met behulp van 'n opbrengsmonitor op die stroper bepaal wat elke deel se opbrengs is sodat hy kunsmis volgens die opbrengspotensiaal kan toedien. Dan kry die beste dele genoeg kunsmis en die swakker dele word nie onnodig swaar bemes nie. Terselfdertyd verander hy die planterrye van die gebruiklike 2,13m tot 0,91m om 'n beter verspreiding en bedekking van oesreste te kry, wat danksy beter vogbewaring en oordeelkundige bemesting die opbrengs per hektaar kan verhoog.

Hy besef hulle gaan in die eerste deel van die pad met geenbewerking baie leer en raad moet vra, maar is oortuig dit is die beste stelsel om insetkoste te verlaag en grondgesondheid te verbeter.

Otto sê graanboerdery in Suid-Afrika het 'n rooskleurige toekoms danksy die koms van die biobrandstofbedryf. Hy dien nie net in die hoofbestuur van Graan SA nie, maar is ook 'n direkteur van die SA Biobrandstofvereniging. "Die vraag na graan sal styg, wat vir graanboere 'n goeie geleentheid is," sê hy.

  • Navrae: Mnr. Hannes Otto, sel 082 774 3993; e-pos: hankor@lantic.net.

    Landbouweekblad, 24 Augustus 2007.