
Die welslae wat met geenbewerking in Brasilië behaal word en die manier waarop dit vir veral kleinboere werk, kan 'n geleentheid wees om opkomende boere in Suid-Afrika makliker in die kommersiële geledere in te trek.
'n Stelsel van geenbewerking is die enigste manier om 'n saaiboerdery te bedryf wat 'n volhoubare inkomste kan gee terwyl die bodem bewaar en goeie opbrengste gehandhaaf word, sê mnr. Martin Adams, takbestuurder van Rovic & Leers in KwaZulu-Natal.
Daarby kan die manier waarop kontrakteurs in Brasilië help om klein boere tegnologies op dieselfde vlak as groot boere te plaas, met welslae in Suid-Afrika gebruik word om opkomende boere vinniger op die pad na kommersiële welslae te plaas, sê mnr. Albert Coetzee, takbestuurder van Rovic & Leers in Johannesburg.
Dié twee het vroeër vanjaar 'n groep verteenwoordigers van landbou-ondernemings as gaste na Kuhn Metasa in Brasilië geneem om nader kennis te maak met die stelsel asook die werktuie wat daar vervaardig en na Suid-Afrika ingevoer word.
"Dié onderneming in Brasilië is een van ons belangrikste verskaffers en stel ons bloot aan die nuutste tegnologie van Europa en Brasilië. Dit is die bron van werktuie en bewerkingsmetodes wat wyd in Suid-Afrika gebruik kan word.
"Die doel van die besoek was om kennis in te win, verhoudings te verstewig en ooreenkomste te sluit wat tot voordeel van boere in Suid-Afrika kan wees, " sê Coetzee.
Adams stem saam en hy sê 'n mens kan gesels en lees oor die stelsel, maar as jy nie sien wat hulle doen en hoe nou hul boere, navorsers en vervaardigers saamwerk om geenbewerking te laat slaag nie, kan jy nie 'n werklike beeld vorm van wat daar aangaan nie.
Die toewyding van almal is die sleutel tot hul welslae. Dit is wat ook in Suid-Afrika nodig is. "As ons dít kan regkry, sal dit die vonk wees wat die stelsel hier ook sal laat vlamvat, want soos daar is hier ook groot ruimte vir die stelsel.
Dit is nie net die enigste volhoubare gewasverbouingstelsel nie, maar dit sorg ook vir goeie vogbewaring, werk winderosie doeltreffend teen en is 'n manier om saam met die natuur te boer.
Met geenbewerking gebruik boere in Brasilië jaarliks 4,8 uur per hektaar minder arbeid; 5,3 uur per hektaar minder werktuig-ure; 59,4 liter per hektaar minder brandstof; 13,8 kg/ha minder stikstof; 9,6 kg/ha minder fosfor en 13,6 kg/ha minder kalium, volgens amptelike syfers van Embrapa, die Brasiliaanse landbounavorsingskorporasie. In Amerika het geenbewerking die produksiekoste van sojabone met $35,18 (sowat R250) per hektaar laat daal.
Hy glo die grootste struikelblok hier is dat die Suid-Afrikaanse boere die stelsel nie goed verstaan nie. Vir die afgelope meer as 100 jaar ploeg ons boere so diep en deeglik as moontlik. Dit is die enigste metode wat hulle ken.
Die gunstige klimaat in groot dele van die land stel boere in Brasilië in staat om vir twaalf maande van die jaar kontantgewasse op die lande te hê. Dit lewer nie net 'n volgehoue inkomste nie, maar hou die grond dwarsdeur die jaar bedek.
Tog is daar ook streke wat nat somers en droë winters het. Hulle slaag daarin om dit só te bestuur dat die grond altyd bedek is met gewasse wat groei of met 'n deklaag oesreste.
Dit was ook interessant om te sien hoe die Brasiliaanse boere vee inspan en groenvoer in die winter benut in 'n wisselboustelsel pleks daarvan om die oesreste te laat bewei. Hulle laat dit eerder op die lande om genoeg organiese materiaal te behou.
Die planters wat hulle in die stelsel gebruik, is ontwerp om die grond so min moontlik te versteur. Kuhn Metasa se planters is byvoorbeeld met die samewerking van Embrapa ontwerp. Só het hulle vorendag gekom met werktuie wat voorheen nie bestaan het nie en wat verfyn is om ten volle te voorsien in die behoeftes van die boere wat 'n stelsel van geenbewerking wil toepas, sê Adams.
Coetzee sê een van die voordele van die besoek was dat die toerlede dié nuwe planters wat na Suid-Afrika gebring gaan word, kon sien werk in landerye met dik lae oesreste op en om by die vervaardiger te kon hoor hoekom sekere onderdele daarvan op 'n spesifieke manier ontwerp is.
Ten opsigte van die landbou was die wisselende grootte van plase opvallend. Met die baie kleinboerderye speel kontrakteurs 'n groot rol. Hulle sorg dat die kleinboere, net soos die groot boere, toegang het tot die nuutste tegnologie van geenbewerkingspraktyke.
Dit is 'n beginsel wat met groot welslae in Suid-Afrika gebruik kan word om opkomende boere vinniger op die pad na kommersiële landbou te help.
"Min Europese werktuie kan onveranderd met welslae in Suid-Afrika gebruik word. Omdat die bewerkingstoestande in Brasilië baie nader aan dié in Suid-Afrika is en ons die geleentheid kry om bydraes te lewer oor die werking van die werktuie van Kuhn Metasa, kry ons werktuie wat groot voordele vir ons boere inhou, " sê Coetzee.
Hiermee stem mnr. Mario Wolvaardt, bedryfsbestuurder van Wesmeg by Suidwes-Landbou op Leeudoringstad, saam. Dié jong onderneming is reeds 'n wêreldleier in die vervaardiging van werktuie vir 'n stelsel van geenbewerking.
Die vervaardiging van werktuie is op 'n hoë vlak en dit verbeter steeds, wat meebring dat die boere goeie waarde vir hul geld kry.
Mnr. Dries Roos, bestuurder van meganisasie en motors by OVK op Ladybrand, sê hy is baie beïndruk met die gekoördineerde poging van navorsers, werktuigvervaardigers en bemestingondernemings wat saamspan om boere in 'n wenposisie te plaas.
Hy glo 'n soortgelyke poging met die nodige dryfkrag en wat by Suid-Afrikaanse toestande aangepas is, kan die landbou hier 'n hupstoot gee wat op die lang duur tot almal se voordeel sal wees.
Mnr. Piet van Zyl, bestuurder van meganisasie by NWK op Lichtenburg, sê sy indruk is dat Kuhn Metasa 'n vooruitstrewende onderneming is wat besef tradisionele boerderymetodes is in Brasilië iets van die verlede en wat die nuwe tegnologie omarm het vir die toekoms.
In die manier waarop die talle kleinboere in dié land gehanteer word, lê waarskynlik 'n les opgesluit wat Suid-Afrika kan gebruik om sy opkomende boere na kommersiële landbou te lei. Dit is in wese om meganisasie bekostigbaarder te maak en die gaping tussen groot en kleinboere te vernou.
Landbouweekblad, 21 September 2007