Kanola-boere was verbyster oor landerye wat oornag skynbaar "verdwyn". Ná groot verliese en talle wetenskaplike studies blyk 'n eksotiese slak sonder natuurlike vyande een van die redes te wees.
In die huidige toestande kan kanola as die Aspoester in die graanfamilie uitgesonder word: Dit is nie 'n winsgewende gewas nie en boonop een met talle probleme. Was dit nie vir die uitstekende wisselbouvoordele nie, sou daar moontlik baie minder as 32 000 ha (sowat 3% van die totale wintergraan-aanplantings) kanola in die wintergraanstreke geplant word.
Mnr. Johan Lusse, verantwoordelik vir landbou-ontwikkeling by Overberg Agri, Caledon, sê dié hektare kan boonop vanjaar ongunstig beïnvloed word deur slak- en isopode-probleme wat produksie ernstig knou.
Jong landerye lag haasbek waar die saailinge morsaf gevreet is. In die ergste gevalle het tot die helfte van landerye bykans oornag verdwyn. Lusse skat 20% tot 30% van die landerye in die Overberg is geraak, maar die probleem strek oor die hele Suid-Kaap. Aanvanklik het net die westelike dele deurgeloop, maar dié seisoen het dit ook uitgekring na die Strandveld en Swellendam.
Dit is die tweede jaar sedert dr. Geoff Tribe van die Landbounavorsingsraad se Navorsingsinstituut vir Plantbeskerming (NIPB) aan boord gekom het om die oorsaak van die probleem te probeer bepaal.
"In sommige gevalle het ons vir die boere gevra: 'Is jy seker jy het geplant? ' of 'Was daar nie 'n probleem met jou saad nie? ', want geen plantjies het bo die grond uitgekom nie," vertel hy oor die (toe nog) onbekende plaag.
Ná baie kopkrap en navorsing is 'n kombinasie van eksotiese slakke en isopode (krimpvarkies) die enigste logiese antwoord. Sedert verlede jaar het die slakbevolking in die Caledon-omgewing dramaties en onverwags toegeneem. Isopode het met bykans 'n derde vermeerder en slakke het bykans sewentien keer toegeneem.
Tribe meen bewaringsbewerking het iets met die bevolkingsontploffing te doen.
"Daar was 'n revolusie in boerderymetodes," sê hy met verwysing na die stelsel om minimumbewerking toe te pas eerder as om te ploeg en diep te bewerk. Die grond word net 'gekrap' tydens saaityd en agterna word die stoppellande net so gelos (en nie gebrand nie). Dié metode verbeter nie net grondtekstuur en voginhoud nie, maar verbeter ook koolstofvlakke.
"Die voordele van bewaringsboerdery word wyd erken deur die boerderygemeenskap, maar die verandering na bewaringsbewerking het ook probleme meegebring wat nie in die verlede gesien is nie," sê Tribe.
Hy sê die slakke leef in erdwurmtonnels. Hierdie tonnels is in die ou dae gebreek wanneer die grondoppervlak omgeploeg word en daarmee saam is die slakeiers en -kleintjies ook vernietig. Diep bewerking stel ook die slakke aan die oppervlak bloot waar algemene roofvyande, soos tarentale, dit kan bykom.
"Nou bly die tonnels onaangeraak, die slakke kom in die nag uit en vreet in die voortjies waar die saailinge staan en die water die meeste is," sê Tribe.
Die slakke gaan bedags terug na die sentrale punt, daarom lyk die kaal sirkels asof dit al hoe groter word. Aangesien die slakke saam met die rye vreet, is die kaal lappies eerder langer as wyer en volg dit die kontoere.
Hy meen die slakke kom in die Swartland ook voor, maar klimaatstoestande is meer ideaal in die Suid-Kaap. Die enorme toename in naakslakke vanjaar het verras.
"Daar is 'n betekenisvolle verband tussen slakke se aktiwiteite en die minimum temperatuur. Die slakke is meer aktief as die temperatuur onder 6 °C is.
"Die skielike voorkoms van massiewe getalle slakke so vroeg in die seisoen dui op die minder geharde somertoestande. Meer slakke het die droë somermaande oorleef.
"Ons verwag dat voortplanting in die winter plaasvind wanneer genoeg voedsel beskikbaar is," het Tribe in Junie vir die kanola- en lupiene-werkgroep gesê.
Op die oomblik het die slakke, met hul oorsprong in die Mediterreense Kom in die Noordelike Halfrond, geen natuurlike vyande in die Suid-Kaap nie. Slakpille is dus nog die enigste manier om die plaag te beveg.
Hy beveel aan dat die pille in reekse uitgesit word, want volgens oorsese literatuur vrek net 50% van die slakke per toediening. Die uitdaging is om uit te vind wanneer die beste tyd is en hoeveel slakpille om toe te dien. Aangesien die plantjie al opgevreet kan word voor dit nog sy kop bo die grond uitgesteek het, is dit selfs moeiliker om die wanneer en die hoe vas te stel.
Tribe sê dieselfde probleem is in Australië ondervind. Die Aussies het meer roofvyande die omgewing laat inkom en ook meer oordeelkundig met chemiese stowwe omgegaan (sodat die getalle van roofvyande kan vermeerder).
Isopode aan die ander kant is inheems en afvalvreters. Dié insekte word jaarliks deur die eerste winterreën na die grondoppervlak gebring (in die Overberg het dit vanjaar ongeveer 30 mm gereën). 'n Droogtetyd van so twee tot drie weke volg gewoonlik op dié neerslag. Namate die temperatuur styg (Lusse sê dit was tot in Mei besonder warm), soek die krimpvarkies dringend na water. Die basis van die kanola-stam - waar baie watersakkies voorkom - word dan vir die isopode soos oases in die woestyn.
"Die skade wat hulle aanrig, lyk soos 'n uurglas, want hulle vreet die wande van die stammetjie. Die plant val om, verlep en word weggewaai," sê Tribe. Na gelang van die aantal isopode, kan 'n hele land in een nag opgevreet word. Sodra die winter-reënval dan begin, is daar genoeg water beskikbaar. Kanola kan dus met welslae herplant word.
Lusse sê 'n kombinasie van die slakke en snywurms het vanjaar ook hul koringlande aangeval. Sowat 10 % van die saailande het in die slag gebly. Anders as met koring, gars en hawer wat weer kan groei, druk die kanolaplant sy saadlobbe bo die grond uit. Sodra daardie reserwebron van voedsel afgevreet is, kan die plant nie oorleef nie.
Tribe sê in die toekoms sal die eerste veertien tot twintig dae ná saaityd kritiek wees.
"Dit is wanneer ons sal moet sien wat gebeur as ons slakpille tydens planttyd uitsit. 'n Ander plan is om te 'boor' en die pil saam met die saadjie te plant. In twee landerye het die saad glad nie opgekom nie; ons moet 'n manier kry om die slakke ondergronds uit te klop."
Boere was in die verlede laks met rekordhouding. Dit is Tribe se strewe om 'n dataprogram op te stel waarin neigings opgeteken en geïdentifiseer kan word.
"Van die begin af was sekere landerye meer aanloklik (vir die slakke) as ander. Klipperige gebiede verskaf meer wegkruipplek. Landerye met 'n hoër voginhoud is ook gewild."
Wat die isopode betref, werk insekmiddels nie altyd nie. Hulle het gevind die getal isopode kan verdubbel, want gifstowwe vernietig die natuurlike roofvyande.
Dit is 'n goeie plan om saaityd met drie weke uit te stel tot die winterreën begin val het. Isopode help om stoppels af te breek, so hulle is nuttig in bewaringsbewerking. Kanola vereis egter 'n lang groeityd en vir elke week wat verlore gaan, is daar 'n oesverlies van 5%.
Landbouweekblad, 28 September 2007.