Daar is min dinge wat 'n mens regtig moet doen, maar daar is heelwat dinge wat jou vreugde kan gee as jy dit wel doen. Grondbone val presies in hierdie kategorie. Daarom is dit nogal vreemd dat dié merkwaardige gewas die afgelope twee seisoene uit die kollig verdwyn het.
Grondbone het sy oorsprong in Suid-Amerika vanwaar dit die wêreld ingevaar het om as buitengewone voedselbron die wêreld te verryk. Sou 'n mens 'n vergelyking tussen grondbone en die gesogte pekanneut tref, het grondbone amper drie keer meer proteïen en dieselfde lae vlak van versadigde vette, wat baie wenslik in 'n gesonde dieet is.
Geen boer sal deesdae aan 'n boerderyvertakking vat as dit nie betalend is nie. Dis juis hier waar grondbone 'n verskil kan maak. Die gewas se produksiekoste kan heelwat van gebied tot gebied verskil. Dit is dus noodsaaklik dat die produsent die landboumaatskappy in sy gebied nader om hom van die gebied se produksiekoste te vergewis. Graan Suid-Afrika (GSA) se berekenings, wat ook op hul webwerf be-skikbaar is, is 'n goeie bron van inligting. Voeg daarby die afgelope seisoen se buitengewoon hoë pryse, met die vooruitsigte van nog goeie pryse gedurende die komende seisoen, dan word die produksie van grondbone 'n aanloklike opsie.
Grondboonpryse vir die komende seisoen is uiteraard nie bekend nie, soos wat dit trouens die geval met die meeste landboukommoditeite is, maar die plaaslike voorraad is volgens GSA nul en verwerkers voer tans grondbone in. Wêreldwyd is grondboonpryse besig om te styg.
Met al hierdie aspekte in die agterkop, is dit waarskynlik nie vergesog om te verwag dat grondbone die komende seisoen ook mededingende pryse vir boere sal behaal nie. Hierdie pryse sal uiteraard afhang van, uitgesonderd die mark, die persentasie keur- en ander grade. Die wisselkoers van die rand kan uiteraard ook 'n rol speel, maar dit geld alle gewasse.
Sou ons met hierdie inligting 'n som maak, kan grondbone reeds ekonomies die moeite werd wees waar 'n ton of meer op droëland geproduseer word. Onder besproeiing raak die hekkie hoër, maar hou in gedagte dat drie ton per hektaar binne die bereik van die meeste besproeiingsboere lê. Die bankbestuurder se glimlag sal nóg breër word indien in ag geneem word dat die beste grondbone ook uitgevoer kan word, met goeie winsvooruitsigte.
Die suksesverhaal van grondbone word verder beklemtoon deur die hooi wat 'n waardevolle stabiliseringsfaktor in 'n veekomponent is. Voeg hierby die uitstekende resultate wat dr. André Nel van die Landbounavorsingsraad se Instituut vir Graangewasse met sy langtermyn-wisselbou-proewe verkry het. Waar grondbone by 'n wisselboustelsel ingeskakel word, kan die opbrengs van mielies wat op grondbone volg, met tot 10% verhoog word. Sou 'n mens dus 'n werklike som maak om grondbone tot sy reg te laat kom, moet dit ook hierdie faktore insluit. Die welslae met grondbone hang baie nou saam met 'n paar basiese praktyke wat die boer nougeset moet uitvoer. Die belangrikstes wat hier volg, kan die boer baie help:
Dit sal die boer beslis loon om hom aan te sluit by 'n groeiende getal grondboonboere wat hierdie gewas benut om hul boerderye mee te stabiliseer deur hul risiko te versprei. Voeg hierby 'n uitstekende geleentheid om finansieel goed te vaar as die seisoen saamspeel, dan is grondbone 'n moet vir die komende seisoen.
Navrae: Tel. 018 299 6100.
Dr. Jan Dreyer is verbonde aan die Landbounavorsingsraad se Instituut vir Graangewasse op Potchefstroom.
Landbouweekblad, 05 Oktober 2007