Landbou
Konsolidasie red tabakbedryf
Deur ANDRIES GROENEWALD (agroenew@landbou.com)

'n Gawe prysverhoging het tabakprodusente vanjaar te beurt geval danksy 'n konsolidasie-proses wat onder meer meegebring het dat die totale oes deur een enkele verwerkingsaanleg gehanteer is.

Mnr. Louis Smit, direkteur van Afgri, sê tabakboere het vanjaar 'n gemiddelde prys van R18,50 per kilogram gekry teenoor die R16,00 per kilogram wat hulle verlede jaar in die sak gesteek het. Dit beteken 'n verhoging van 15% wat deels te danke is aan 'n besparing van R20 miljoen teenoor verlede jaar omdat die totale oes van sowat 12 miljoen kilogram in minder as 20 weke deur slegs één verwerkingsaanleg gehanteer is.

Daar heers optimisme in die bedryf en boere word aangemoedig om die komende seisoen meer tabak te plant om te voldoen aan die verwagte plaaslike vraag asook aan bestellings uit China.

Die voorsiening van goeie tabak hou wêreldwyd 'n ernstige bedreiging in vir sigaretvervaardigers, deels omdat kommersiele produksie in die meeste produksielande stelselmatig vervang word met kleinskaalse produksie. Hierdie situasie dreig met 'n mate van onsekerheid oor faktore, soos die verbouingstandaarde wat toegepas word, die chemiese middels wat op die tabak gebruik word, ontbossing, kinderarbeid én ongereelde voorsiening.

Hoe dit ook al sy, reken Smit, ontwikkelinge op die plaaslike sowel as internasionale markte voorspel 'n blink toekoms vir die huidige en opkomende kommersiële tabakprodusente. In Zimbabwe en Zambië het pryse vanjaar onderskeidelik met 15% en 20% gestyg. Die vraag na sigarettabak behoort wêreldwyd die aanbod in 2008 te oorskry en alles dui daarop dat die vraag na goeie tabakmerkwaardig sal groei in die nabye toekoms met 'n verwagte styging in die dollar-pryse.

Hoewel die herstruktureerde plaaslike tabakbedryf tans in 'n goeie posisie is om voordeel uitdie huidige vooruitsigte te trek, was dit tot onlangs 'n kwynende bedryf.

Die Suid-Afrikaanse tabakbedryf het oor ses verwerkingsaanlegte landwyd beskik wat saam die vermoë gehad het om meer as 100 miljoen kilogramtabak jaarliks te verwerk.Afgesien van hierdie geweldige vermoë, het die bedryf slegs eenmalig meer as 40 miljoen kilogram geproduseer en dit was in 1993. Die gevolg was onderbenutting van die nasionale verwerkingsvermoë oor baie jare. Die bedryf was egter in staat omdié situasie vol te hou danksy beheerde bemarking, kwantitatiewe invoermaatreëls, minimale tabakwetgewing en die totale afwesigheid van onwettige tabakhandel.

Met die afskaffing van die Bemarkingswet in 1994 hetdie situasiedramaties verander. Boere het ewe skielik te kampe gehad met die beginsels van die vrye mark wat hulle blootgestel het aan wêreldmarkte en -pryse, strawwe en dikwels onregverdige mededinging met produsente in sommige Europese lande wat die voordele van regeringsubsidies geniet het. Voeg daarby die feit dat die plaaslike Regering oor die afgelope 13 jaar die aksynsreg op sigarette met meer as 750%verhoog het,wat onder meer weer gelei het tot 'n geweldige groei in onwettige handelspraktyke. Dit geskied meestal deur gesmokkelde produkte, wat meegebring het dat diemark vir onwettige tabakprodukte met 20% gegroei het, terwyl die mark vir wettige tabakprodukte met 30% gekrimp het. Volgens Smit het hierdie faktore bygedra tot 'n afname in die nasionale tabakoes vanmeer as 60%oor die afgelope 10 jaarmet 'n gevolglike styging in verwerkingskoste weens die laer volumes wat aan al die verwerkingsaanlegte gelewer is.

Vir oorlewing was die bedryf genoodsaak om sy verwerkingsaanlegte te rasionaliseer en te konsolideer. Ná onderhandelinge is besluit om slegs één van die ses verwerkingsaanlegte naamlik, Limpopo Tabacco Processors (LTP) op Rustenburg, te behou vir die verwerking van die nasionale tabak-oes. Die keuse het op LTP geval omdat dit sentraal geleë was ten opsigte van die oorblywende tabakproduksiegebiede en ook omdat dit in daardie stadium toegerus was met die gevorderde toerusting beskikbaar.

Die resultaat van die konsolidasieproses was dat die totale Suid-Afrikaanse tabakoes vir die eerste keer vanjaar deur slegs een verwerkingsaanleg gehanteer is. En in die praktyk het dit 'n totale besparing van R20 miljoen (bykans R3 per kilogram) beteken. LTP word ondersteun deur die landboudienstemaatskappy Afgri Operations Limited. Laasgenoemde finansier die aankope en die verwerking van die tabak sowel as die bemarking van die totale Suid-Afrikaanse oes aan die plaaslike en internasionale markte. Afgri voorsien nie net produksiekapitaal aan tabakprodusente nie, maar ook produksiemiddele en masjinerie deur 'n uitgebreide netwerk verskaffers regdeur die produksiegebiede.

Suid-Afrika se tabakboere is opgelei en ervare genoeg om goeie tabak in moeilike omstandighede te produseer. En hulle word dekades lank reeds ondersteun deur Suid-Afrika se grootste sigaretvervaardiger, BritishAmerican Tobacco (BAT),wat sowat 90% van die plaaslike oes koop teen pryse gelyk aan invoerpariteit.

China, die wêreld se grootste verbruiker van sigarettabak, het vanjaar klein hoeveelhede van die Suid-Afrikaanse oes aangekoop en aangedui dat hulle belang stel om nog plaaslike tabak oor die langer termyn teen mededingende pryse aan te skaf.

"Al hierdie rooskleurige faktore het gelei tot die produsenteprysverhoging van 15% vanjaar en 'n goeie vooruitskouing vir die plaaslike tabakbedryf," sê Smit.

  • Navrae: Mnr. Louis Smit, tel 012 643 8000 of sel 082 800 1161.

    Landbouweekblad, 26 Oktober 2007