In 'n verslag van die department landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat word Suid-Afrika se graanbedryf gewaarsku om, indien hy mededingend wil bly, kennis te neem van die jongste neigings ten opsigte van geneties gemodifiseerde (GM) mielies, anders sal die bedryf agter raak.
Die aard van die wêreld se landbouproduksie en handel het 'n aansienlike gedaanteverwisseling ondergaan met die ontwikkeling van die biotegnologie, waarvolgens organismes geneties gemodifiseer of aangepas kan word. In teenstelling met die gul ontvangs van dié nuwe tegnologie deur die bedrywe in sommige lande, het ander lande op hul beurt hul teenkanting daarteen duidelik laat blyk.
Die algemene doel van die navorsing was om vas te stel wat die moontlike uitwerking van die handel in GM mielies op die Suid-Afrikaanse mieliebedryf sou hê. Om dít vas te stel, is 'n algemene ewewigsmodel (die GTAP-model) gebruik.
Sedert 1996 het die gebied waarin GM gewasse verbou word, sesvoudig toegeneem. GM gewasse is verlede jaar deur 10,3 miljoen boere in 22 lande op 102 miljoen hektaar verbou. En van dié 102 miljoen hektaar was 57% sojabone, 25% mielies, 13% katoen en 5% kanola.
Amerika is die grootste verbouer van GM gewasse, gevolg deur Argentinië en Brasilië. Suid-Afrika is agtste op dié lys. Suid-Afrikaanse boere het verlede jaar GM gewasse op 48,3% van die mielieproduksiegebied, 75% van die sojaboongebied en 92% van die katoengebied verbou.
Die verslag beveel aan dat die Suid- Afrikaanse owerhede moet voortgaan om nuwe GM mieliekultivars vir algemene vrystelling goed te keur. Die land se mieliebedryf moet ook 'n poging aanwend om die voedselveiligheidseienskappe van produkte van GM mielies sterker by die binnelandse verbruiker tuis te bring.
Die Suid-Afrikaanse owerheid en mieliebedryf behoort ook ander lidlande van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap te help met die opstel en inwerkingstelling van beleid en regulasies oor GMprodukte. Die owerheid moet sorg dat alle ingevoerde mielies vir die teenwoordigheid van GMO's by aankoms in die land hertoets word voordat die vrag ontskeep word.
Die verslag beveel aan dat die handelsvloei tussen lande, soos vervat in die databasis wat dieGTAP-model gebruik, deeglik ondersoek word vir korrektheid, veral vir lande wat 'n kleiner rol speel in die internasionale handel van landbouprodukte. Die rede is dat hierdie projek aangetoon het dat inligting oor handelsvloei nie altyd akkuraat in die databasis weergegee word nie en dit kan tot verkeerde resultate lei.
Die navorsers het vasgestel dat die aanvaarding van GMO's in die lande waarvandaan mielies na Suid-Afrika ingevoer word, vinnig toeneem. Die land se hoofvennote in mieliehandel huldig uiteenlopende menings oor GMO's, wat kan verander na gelang van die ontwikkeling en aanpassing van internasionale handelsooreenkomste.
Die ontwikkeling van die beleid oor GM sal volgens die verslag ongetwyfeld die internasionale vraag na Suid-Afrikaanse mielies beïnvloed, asook die voorsiening daarvan plaaslik en derhalwe ook die toekomstige winsgewendheid van plaaslike mielieproduksie.
Die resultate van die studie toon dat die beleidsmaatreëls wat die land se toegang tot nuwe GM kultivars aan bande sal lê, tegelykertyd die plaaslike produsent en die binnelandse verbruiker sal benadeel.
Die model toon ook in besonder dat die voortgesette goedkeuring en aanvaarding van nuwe GM mieliekultivars in belang is van Suid-Afrika. Die wêreld se voortgesette aanvaarding van tegnologie vir GM sal wêreldpryse onder druk plaas en die invoermededinging van Suid-Afrikaanse boere verhoog.
Die beste teenvoeter hiervoor is, luidens die verslag, dat plaaslike boere tot dieselfde tegnologie toegang verkry.
As die plaaslike verbruiker voedselprodukte met 'n basis van GM mielies heeltemal verwerp, sal die uitwerking daarvan op die land en die plaaslike mieliebedryf nie aansienlik wees nie. Die gevolglike verlies in tegniese doeltreffendheid aan die produksiekant van die ekonomie sal vergoed word deur die aansienlik laer koste om nie-GM mielies van die ander te onderskei en afsonderlik op te berg.
Boere plant dan nie GM wit kultivars nie, maar sal voortgaan om GM geel kultivars te verbou aangesien dit vir die veevoerbedryf om't ewe is watter kultivar hulle gebruik.
As die verbruiker voedselprodukte en bier met 'n basis van GM mielies ten volle aanvaar, sal dit die land in die geheel én die mieliebedryf aansienlik bevoordeel.
Volgens die verslag is dit belangrik vir die plaaslike mieliebedryf dat die mielieuitvoer na die lande van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap in stand gehou en ook uitgebrei word. As dié vraag taan, kan die binnelandse mielieproduksie metmeer as 7% daal.
Landbouweekblad, 2 November 2007