Amptelike regeringsyfers toon hoe laag katoen op boere se voorranglys van gewasse is. In 2005 was katoenproduksie se bruto waarde in Suid-Afrika minder as 2% van dié van mielies, 28% van tabak en 67% van grondbone.
Ons sien 'n soortgelyke prentjie as ons kyk na die oppervlakte wat aan verskillende gewasse afgestaan word. In 2007 is mielies op 2,5 miljoen hektaar (Sagis-syfers) geplant, terwyl katoen op 'n skamele 17 000 hektaar (volgens die Amerikaanse departement van landbou) aangeplant is.
Die hoofrede vir die daling in katoenproduksie is die prys van katoen in vergelyking met dié van ander gewasse, veral mielies. Dit as sodanig kan egter nie die daling in katoenaanplantings ten volle verklaar nie, aangesien lande met soortgelyke kostestrukture en boerderymetodes, soos Brasilië en Australië, nie dieselfde ommeswaai ondervind het nie.
As 'n mens dieper delf, moet daar tog sekere strukturele kwessies wees wat die boere van plan laat verander het. 'n Mens kan beweer dat die katoenooreenkoms wat in 2004 verstryk het, nie 'n doeltreffende meganisme voorsien het om billike en deursigtige pryse te kommunikeer nie en - nog belangriker - boere die geleentheid ontsê het om hul prysrisiko's te verminder.
In teenstelling daarmee was die bekendstelling van landbou-termynkontrakte op Safex in 1995 die voertuig wat deregulering by ander gewasse aangevuur het. Kommer is ook uitgespreek oor hoe moeilik dit is om katoen te verbou, asook oor die onvoorspelbare wisseling in opbrengs en gehalte van jaar tot jaar.
Hoewel hierdie bekommernisse geldig is, het onlangse vooruitgang in saadtegnologie die betroubaarheid van katoenboerdery drasties verbeter, veral onder besproeiing.
In die lig hiervan is dit billik om te vra of daar 'n toekoms vir katoen in Suid-Afrika is. Diegene met aansienlike beleggings in die katoenbedryf se infrastruktuur, soos Cargill Cotton, hoop en glo dat die antwoord "ja" is.
Suid-Afrika het 'n aantal pluismeulmaatskappye van wêreldgehalte, soos Cargill, wat lewerings van boere oral in die land op 'n kundige wyse kan hanteer en verwerk. Die vesel wat geproduseer word, word 100% deur 'n HVI-masjien geklassifiseer, wat die bemarking daarvan binnelands en in die buiteland maklik maak. Cargill beraam dat Suid-Afrikaanse katoen graad vir graad teen 10% meer as die gemiddelde van Afrika-soorte verkoop.
Dit is amper vanselfsprekend dat meer katoenboere al is wat benodig word om 'n sukses van die Suid-Afrikaanse katoenbedryf te maak. In 'n poging om die boerderygemeenskap te oorreed om na katoen terug te keer, het Cargill sy kontrakte hersien om dit "meer boervriendelik" te maak.
Veranderende omstandighede in die internasionale kommoditeitsmarkte, wat die mededingendheid van katoen in verhouding met ander gewasse verhoog het, het in die jongste tyd voorgekom. Hierdie veranderinge word hieronder bespreek.
Prys. Katoentermynkontrakte word in New York verhandel en uiteraard in Amerikaanse dollar aangedui. Die prys wat in Suid-Afrikaanse rand betaal word, is dus 'n funksie van die internasionale prys en die rand-dollar-wisselkoers. Van sy laagtepunt in Julie 2006 tot sy hoogtepunt in Julie 2007 het die prys van naby-katoentermynkontrakte met byna 40% gestyg.
Hoewel die mark intussen effens teruggesak het, het pryse met die skryf van die artikel met 20% toegeneem vergeleke met 'n jaar gelede. In dieselfde tydperk het die wisselkoers van R7,00/dollar tot R7,25/dollar beweeg, wat die katoenprys in rand met 'n verdere 3,5% laat toeneem het.
Benewens die algemene verhoging in nabypryse vir katoen is 'n verdere positiewe punt dat die vooruitmark vir katoen in 'n toestand van verlenging is - met ander woorde die pryse vir latere lewerings is hoër as vir kontantlewerings. In vergelyking daarmee beleef die Safex-mieliekompleks 'n steil omgekeerde situasie: Die prys vir lewering in Julie 2008 is sowat R400 per ton (22%) laer as die prys vir lewering in Desember 2007.
Die afgelope jaar het heelwat onstabiliteit in valuta- en kommoditeitsmarkte voorgekom. Daar is dus 'n mate van subjektiwiteit verbonde aan die keuse van die beste tydperk om prysvergelykings tussen katoen en mielies te tref. Ons kan egter objektief verklaar dat, gegrond op huidige markparameters en konserwatiewe opbrengsskattings, 'n tipiese besproeiingsboer in Suid-Afrika 'n hoër bruto marge sal behaal deur katoen pleks van geel mielies te plant. Met die skryf van die artikel was dit 64% meer as met geel mielies en 89% meer as wit mielies. In gunstiger groeitoestande, soos katoenboere in 2007 ervaar het, kan die inkomste uit katoen 125% hoër as uit geel en wit mielies wees.
Risikobestuur. Die eenvoudigste verskansingstrategie is om 'n oes teen 'n vasgestelde prys vooruit te verkoop. Dit bied ongetwyfeld sekerheid oor die uitkoms en sodoende beskerming teen die giere van onstabiele markte. Aan die ander kant skep onstabiliteit ook geleenthede en Cargill probeer om boere van die risikobestuursinstrumente te voorsien om voordeel uit markswaaie te trek of aan die veilige kant te bly as hulle dit verkies. Die kontrakteringsmodel stel boere in staat om 'n volume saadkatoen tot een jaar vooruit te verbind.
Aanvanklik is hierdie kontrak nie vasgestel nie en die boer kan na goeddunke kies wanneer om die prys vas te stel. Omdat katoentermynkontrakte op 'n internasionale beurs verhandel word, het die boer die interessante opsie om die dollarprys van die kommoditeit afsonderlik van die rand-dollar-wisselkoers vas te stel.
Talle katoenboere het dié seisoen reeds groot winste op hierdie wyse gemaak. Een van die gevolge van die moontlikheid om die kommoditeit en wisselkoers op verskillende dae vas te pen, was dat 'n aantal versiende boere 'n 2008-verkoopprys van meer as R4 500 per ton vir saadkatoen behaal het, al was die beste gekwoteerde en alles insluitende prys op enige gegewe dag net R4 248 per ton.
Daar is ook ingewikkelder verskansingstrategieë, wat beskerming teen prysdalings en vooruitkontraktering van tot twee jaar insluit, wat die norm in verskeie ander katoenproduserende lande is.
Opbrengs/gehalte. Die afgelope twee jaar is 86% van alle katoen met 'n vesellengte van 11/8 duim en langer met 70% in die twee topgrade (DEAL of DIRK) geklassifiseer. Hierdie resultate kan boere verras wat jare gelede al die handdoek met katoen ingegooi het, maar die gehalte-uitslag getuig van die vordering wat maatskappye met die ontwikkeling van betroubaarder saad gemaak het.
Verskeie boere in Suid-Afrika het vanjaar opbrengste van meer as 5 ton saadkatoen per hektaar gekry, soortgelyk aan enige ander katoenproduserende land ter wêreld en twee keer produktiewer as die deursnee-boer in Amerika.
Wisselbou. Talle boere is dalk ongeneë om 'n grootskeepse omskakeling van hul gevestigde gewasse na 'n nuwe terrein te oorweeg. Katoen se verhoogde inkomsteprojeksies maak dit egter die ideale wisselbougewas op moeë landerye.
Die voordele van wisselbou is verbeterde grondvrugbaarheid, die voorkoming van gronderosie en verbeterde insek-, siekte- en onkruidbestryding. In die geval van katoen verminder die toediening van 'n ander familie onkruiddoders die chemiese oorblyfsels op landerye wat normaalweg met mielies en graan beplant is.
Nog 'n belangrike oorweging vir boere wat hul gewasportefeulje wil uitbrei, is die droogtebestandheid van katoen.
Die katoenplant het 'n diep en uitgebreide wortelstelsel, wat die grond tot 'n diepte van 1 800 mm kan binnedring en die plant in staat stel om water in die droogste toestande te vind. In die lig van bogenoemde moedig ons boere aan om hul plantopsies te hersien. Dit is belangrik om die regte besluit op grond van huidige markfaktore te neem en nie deur die wanopvattings van die verlede beïnvloed te word nie.
Mnr. Colin Iles is verbonde aan Cargill Cotton.
Landbouweekblad, 2 November 2007