Landbou
Boer nader aan die natuur
Deur LUCILLE BOTHA (lbotha@landbou.com)

Om die skoene van 'n baanbreker-pa vol te staan, sit nie in enige seun se broek nie. Maar hierdie jong man staan in eie reg op die voorpunt wat biologiese en presisieboerdery betref.

Niemand sou mnr. Jacobus Human van die plaas Eerstekop, naby Heidelberg (Wes-Kaap), verkwalik het as hy bloot met sy pa, Jack, se minimumbewerkingstelsel voortgeboer het nie. Die voordele wat mens en natuur uit bewaringsbewerking trek, is legio en reeds oor en oor bewys. Human sr. en sy broer Kobus (hulle boer saam) was boonop voorlopers op dié gebied, so Human jr. kon vir geen beter leermeesters vra nie.

Maar pa én seun het besef die nuwe era bring ook nuwe uitdagings en eie aan die Humans se aard isHuman jr. vandag op die voorpuntmet biologiese boerderymetodes.

"My pa en sy broer het die grond met oesreste en minimum bewerking opgebou. Daarmee het ons baie voordele gekry," sê hy met verwysing na onder meer stikstoftoediening en vogbewaring. Human jr. hoef twee derdes minder stikstof toe te dien as wat sy pa-hulle destydsmoes gedoen het.

"Die grootste voordeel wat ons steeds ervaar, is seker die lae kunsmisrekening. Met 'n koringprys van R2 100 speel ons gelyk met 'n opbrengs van slegs 0,85 ton per hektaar (veranderlike sowel as vaste koste ingesluit)."

Human jr. se uitgangspunt is steeds om die produksiekoste te bestuur sodat die risiko - veral in hul streek waar droogtes soms voorkom - baie laer is. Hy het twee jaar gelede "die duistere pad van biologiese boerdery" aangedurf deur aan organiese kunsmis te "voel-voel" en die Albrecht-stelsel vir volhoubare grondvrugbaarheid op die plaas te implementeer. "As 'n mens wil wegkom van chemiese middels in spuitstowwe, moet jy die grond balanseer," vat hy die Albrechtstelsel saam.

Human jr. dien tans 'n kombinasie van organiese en chemiese kunsmis toe. Dit stel hom in staat om die kopbemesting later in die produksiejaar heeltemal uit te skakel. "Die organiese kunsmis word oor 'n langer tydperk vrygestel. Die chemiese kunsmis staan die plant in die begin van die groeityd by, maar die organiese kunsmis werk eers later. Daardeur probeer ons die kopbemesting heeltemal uitskakel."

Hy sou graag die chemiese kunsmis heeltemal wou omseil, maar dit bly belangrik vir plantvoeding. "Met organiese kunsmis voed jy nie die plant nie, maar die grond. Die plant moet egter ook gevoed word en chemiese kunsmis is ryker aan voedingstowwe. Voordat die grond nie genoegsame voeding lewer nie, kan jy nie wegbeweeg van chemiese kunsmis nie.

"Op lang termyn sal ons die chemiese stowwe heeltemal wil uitfaseer. Saam met die Albrecht-stelsel behoort ons die pad te kan stap."

Hy beskou dit as 'n uitdaging om die plaas op die voorpunt te hou en nie net te doen wat sy pa gedoen het nie. Om biologies te boer, stem egter ooreen met die beginsels wat sy pa hom reeds van kindsbeen af geleer het."

Ons het die voordele wat my pa getrek het, gesien. Dit is hoe die natuur werk. Die natuur is volmaak. Hoe nader ons aan die natuur kan kom, hoe nader is ons aan die waarheid."

Human is egter realisties oor die omgewingsgerigte benadering. "Jy moet ekonomies boer. Jy kan nie net organiese kunsmis gebruik en hoop vir die beste nie. Dit is 'n uitdaging om 'n manier te vind om dit op jou plaas te gebruik.

"Die hoofsaak van wat ek wil doen, is om organiese kunsmis te gebruik en die grond te balanseer sodat ek spuitstowwe kan beperk. 'n Mens spuit te veel van plae se natuurlike vyande dood en skiet jy jouself eintlik in die voet."

In die eerste jaar van sy wisselbousiklus saai hy koring. In die tweede jaar is dit kanola of koljander, in die derde jaarweer koring, in die vierde jaar gars en in die vyfde jaar kanola en lusern (die lusern groei saam met die kanola). Die land het dan lusern vir vyf jaar lank.

Die koljander se wisselbouvoordele stem ooreen met dié van kanola. Aangesien hy die breëblaar-onkruid tussenin kan doodspuit, is dit 'n "lekker gewas om 'n probleem-landmee skoon te maak".

Hy het vanjaar 150 hektaar koljander gesaai. Die saad word teen sowat R6 000 per ton verkoop. Hoewel die koljander geneig is om vatbaar vir alternaria te wees, fnuik Human-hulle dié siekte deur eers later te plant. Die gewas is ook droogtebestand - 'n eienskap wat hulle "soos 'n handskoen pas". Selfs met die huidige hoë graanpryse bly koljander se winsmarges aantreklik.

Human jr. se omgewingsgerigte benadering word ook deur presisieboerdery ondersteun. Hy het onlangs in 'n modern planter belê waarmee hy die opbrengskaarte vanaf stropers kan gebruik om produksiemiddele te bestuur volgens die behoeftes van spesifieke dele in die land.

"Veronderstel ek mik na 'n langtermynopbrengs van gemiddeld 2,2 ton per hektaar. As daar kolle in my land is wat minder as dit lewer, weet ek vog was nie die beperkende faktor nie, maar wel voeding. Volgende jaar kan ek dan daar meer kunsmis gee. Waar ek tevrede is met die opbrengs, handhaaf ek die toediening. Grond met 'n hoër potensiaal kan dus 'n groter oes lewer. As die produksiemiddele só bestuur word, sal my opbrengs verbeter."

Hy erken die aanvanklike kapitaaluitgawe is groot en dat jy dit nie kan wegredeneer nie, maar die gros voordele wat met dié boerderybenadering saamkom, moet nie uit die oog verloor word nie. Hulle plant byvoorbeeld nou net die helfte van die saad wat hulle voorheen nodig gehad het. "Omdat die saadplasing meer presies is, is die opkoms beter."

Met die nuwe planter kan die grond ook dieper losgemaak word en alle saad word ewe diep geplant. Die plante se wortelstelsels is groter, wat hulle in staat stel om voedingstowwe beter uit die grond op te neem en droogtes beter te deurstaan.

Human jr. is een van die min boere wat nog nie 'n probleem het met grasse wat weerstandig teen spuitstowwe is nie. Hy wil egter nie onverhoeds betrap word nie en meen dit is beter om voorkomend te boer. "Deur die planter se vooropkomsmiddels by koring met die tradisionele na-oes-middels af te wissel, meen ek ek kan weerstandigheid uitstel of heeltemal voorkom."

Danksy die nuwe planter is Human se boerdery deesdae ook meer vaartbelyn. Hy het voorheen met tweemasjiene (elk 12meter wyd) gesaai, maar kon net 16 uur-skofte werk. Met die Ausplow (18,3meter wyd) saai hulle reg deur die dag en nag, hoewel elke werker se skof net 12 uur lank is. Vanjaar het hulle gemiddeld 190 hektaar in 24 uur geplant.

Human jr. erken hy bou voort op die fondamente wat sy pa gelê het. "Ek kan nie net verkondig almal moet ons stelsel volg nie. As jou grond nie 'n sekere status het nie, gaan jy jou vingers lelik verbrand.

"As ek môre 'n organiese produk kry met genoegsame voeding, gebruik ek net dit. Ek voel 'n mens moet nader aan die natuur beweeg. Hoe meer grondlewe jy het, hoe minder produksiemiddele het jy nodig en hoe beter lyk jou syfers. Hoe nader jy aan die natuur kan boer, hoe goedkoper en meer rooskleurig is jou toekoms."

Landbouweekblad, 14 Desember 2007