Landbou
Meer sonneblomme verwag


Die verwagte oppervlakte onder sonneblomme kan in die komende somer met 52% styg, sê die Nasionale Oesskattingskomitee in sy jongste verslag.

Die voorlopige oppervlakskatting vir sonneblomsaad is 482 250 ha, wat omtrent 52,44% meer is as die 316 350 ha aangeplant die vorige seisoen.

Volgens die Oesskattingskomitee is die jongste besonderhede as volg:

Kommersiële mielies:
Die voorlopige skatting van die oppervlakte onder mielies beloop 2,786 miljoen ha, wat 9,17% meer is as die 2,552 miljoen ha wat verlede seisoen aangeplant is, en 1,16% meer as die tweede voornemens om te plant syfer van 2,754 miljoen ha soos vrygestel gedurende November 2007.

Die oppervlakte onder witmielies is 1,714 miljoen ha, wat 'n toename van 5,50% verteenwoordig vergeleke met die 1,625 miljoen ha die vorige seisoen. In die geval van geelmielies is die oppervlakskatting 1,072 miljoen ha of ongeveer 15,60% meer as die 927 000 ha geplant die vorige seisoen.

Die verhouding van witmielie- tot geelmielie-aanplantings is 62:38 teenoor die vorige seisoen se 64:36.

Die meerderheid van Suid-Afrika se mielies word in die Vrystaat, Noordwes en Mpumalanga Provinsies verbou. Mielie-aanplantings in die Vrystaat beloop 1,115 miljoen ha - 'n toename van 9,31% in vergelyking met 1,020 miljoen ha in 2006/07. Die verwagte aanplantings van mielies in Noordwes toon ook 'n toename van 5,84%, van 770 000 ha tot 815 000 ha, en in Mpumalanga met 13,83%, van 470 000 ha tot 535 000 ha, in vergelyking met die aanplantings in die 2006/07 seisoen.

Sonneblomsaad:
Die voorlopige oppervlakskatting vir sonneblomsaad is 482 250 ha, wat omtrent 52,44% meer is as die 316 350 ha aangeplant die vorige seisoen.

Ander gewasse:
Die geskatte oppervlakte beplant met sojabone is 165 000 ha, wat 'n afname van 9,84% verteenwoordig vergeleke met die 183 000 ha geplant die vorige seisoen.

Vir grondbone is die oppervlakskatting 47 100 ha, wat 15,53% meer is as die 40 770 ha geplant vir die vorige seisoen.

Die oppervlakskatting vir sorghum het gestyg met 19,13%, van 69 000 ha tot 82 200 ha teenoor die vorige seisoen.

In die geval van droëbone is die geskatte oppervlakte beplant 45 900 ha of 9,5% minder as die 50 725 ha die vorige seisoen geplant.

Wintergewasse - 2007 produksie-seisoen
Die oppervlaktes beplant met wintergrane is onveranderd gelaat.

Koring:
Die sesde produksieskatting vir koring is 1,812 miljoen ton, wat 2,21% of 39 100 ton meer is as die 1,773 miljoen ton van die vorige skatting. Die verwagte opbrengs is 2,87 t/ha teenoor 2,80 t/ha van die vorige maand.

Ander gewasse:
Die produksieskatting vir moutgars is 213 224 ton, wat 5,05% of 10 250 ton meer is as die 202 974 ton van die vorige skatting. Die verwagte opbrengs beloop 2,91 t/ha.

Die verwagte kanola-oes is onveranderd gelaat op 39 840 ton, met die verwagte opbrengs op 1,20 t/ha.

In die geval van soetlupine is die produksieskatting ook onveranderd gelaat op 13 300 ton en die verwagte opbrengs is 0,95 t/ha.

Volgens die Oesskattingskomitee word die finale produksieskatting vir wintergewasse vir 2007 en die hersiene oppervlak- en eerste produksieskatting vir somergewasse op 27 Februarie vrygestel.

24 Januarie 2008