Landbou

Mnr. Manoel Pereira wys hoe die grond op sy plaas lyk.
Soortgelyk
Vader van geenbewerking pluk nou vrugte
Deur NICO VAN BURICK (nvburick@landbou.com)

In 1975 was mnr. Manoel Henrique Pereira, of senhor Nonô soos hy internasionaal bekend geword het, 'n moedelose boer. Hy het in daardie stadium reeds vyf jaar lank in die Paranagebied in die suide van Brasilië geboer en jaar ná jaar aanskou hoe sy plaas weens gronderosie onder hom wegspoel.

"In daardie stadium het almal oesreste verbrand en konvensioneel geploeg. Om die ernstige gronderosie te probeer bekamp, is keerwalle gegooi en terrasse geskep. Met 'n gemiddelde reënval van 1 900mm per jaar het tonne grond steeds weggespoel. Opbrengste op die vlak sanderige grond was ook laag en ek het besef ek sou my eie oplossings moes vind om te oorleef," vertel hy.

Sonder inligting, die geskikte toerusting of enige kennis het hy besluit om oor te skakel na 'n stelsel van geenbewerking waar die grond so min moontlik versteur word en soveel oesreste moontlik op die landerye gelaat word. Pereira het self 'n bestaande planter aangepas om dit moontlik te maak om in die oesreste te kon plant. Hy en van sy medeboere het voortgegaan om te eksperimenteer. "My aangepaste planter, hawer as dekgewas en die eerste glifosaat-onkruiddoder vir die bestryding van onkruid was op die ou einde die begin van geenbewerking vir my. Die onkruiddoder (Roundup) was baie duur (R175 per liter),maar namate dekgewasse en oesreste op die lande met onkruidbestryding begin help het, is die gebruik van onkruiddoder tot 2 liter per hektaar verminder."

Die fokus het ál meer na geenbewerking begin skuif. Navorsers het hulle toenemend daarop toegespits, saadmaatskappye het met voorligtingsdienste begin en vervaardigers het begin om werktuie vir geenbewerking te vervaardig.

Pereira sê teen 1979 was daar steeds twyfel in baie boere se gemoed oor geenbewerking en baie het nog terug geneig na konvensionele bewerking. "Dit was net natuurlik om te twyfel oor verandering. Vir my het die bekamping van gronderosie egter die deurslag gegee."

Mettertyd het die resultate mense begin oortuig. Waar 'n opbrengs van 3 ton mielies per hektaar aanvanklik met konvensionele bewerking die norm in Parana was, het dit ná vyf jaar van geenbewerking op 4 ton/ha gestaan. Hy sê vandag is dit 7 ton/ha.

Die opbrengs op sojabone het verbeter van gemiddeld 2 ton/ha tot 3,6 ton/ha, terwyl die gebruik van kunsmis met die helfte verminder het. Waar hy aanvanklik 400kg kunsmis per hektaar gebruik het om 1,8 ton/ha te stroop, is dit nou 200 kg kunsmis vir 3,6 ton/ha.

In alle opsigte was daar jaarliks 'n verbetering, ook in die gehalte van die grond.

Hy sê die benutting van fosfor het dramaties verbeter en die hoeveelheid organiese materiaal in die grond het van 1% tot 5% vermeerder - selfs meer as die 3% wat in natuurlike grond voorkom.

Daarbenewens was daar ook besparings op arbeid, brandstof en ander chemiese middels. Die ekonomiese resultate het daartoe gelei dat bykans alle boere in Parana - en meer as die helfte in die hele Brasilië - deesdae geenbewerking toepas.

"Die omskakeling was nie maklik nie. Dit het 'n totale kopskuif geverg. Ons het in die verlede die aarde heeltemal te aggressief bewerk. Ons moes leer hoe om die natuur te herstel en opnuut die rol van byvoorbeeld insekte besef. Namate biologiese bestryding toegeneem het, het ons chemiese bestryding verminder."

Hy sê daar was, behalwe die probleme met die omskakelingsproses, geen nadele nie. "Daar is maar altyd nuwe plae en siektes wat kom en gaan. Dit is 'n dinamiese proses wat altyd met ons sal wees. Daar is egter niks wat 'n mens spesifiek aan geenbewerking kan toeskryf nie." Pereira boer op 1 600 ha en volg 'n wisselboustelsel met mielies, sojabone en dekgewasse, soos hawer.

Ter nagedagtenis aan die omskakeling na geenbewerking is daar 'n museum op sy plaas waar van die eerste werktuie, toerusting, foto's en ander gedenkwaardighede oor bewaringsbewerking uitgestal word.

Op sy plaas is ook 'n gedenkteken vir geenbewerking in 2001 opgerig. Die bewoording op die gedenksteen lui: "Hier is die stelsel van geenbewerking in November 1976 ingestel. Danksy die ywer en deursettingsvermoë van boere, werkers, landboukundiges en navorsers laat die stelsel toe dat hierdie geslag en toekomstige geslagte die grond kan benut".

Pereira sê boere word doelbewus eerste op die gedenksteen genoem omdat hulle die voortou met die nuwe ontwikkeling geneem het. "Eers nadat die navorsers gesien het hoe belowend dit lyk, het hulle bygekom en ook met verdere ontwikkelingswerk gehelp."

Die jongste neiging is dat kleinskaalse boere ook na geenbewerking oorskakel. Hy sê Parana is een van die grootste gebiede in die wêreld waar derduisende kleinskaalse boere tot in die mees afgeleë gebiede voorkom. Spesiale planters is ontwikkel wat maklik deur een mens en 'n trekdier gehanteer kan word en die meeste kleinboere het die afgelope tien jaar na geenbewerking oorgeskakel.

Me. Eliza de Azevedo, 'n bemarkingsbestuurder van John Deere, sê deesdae is omtrent alle nuwe planters in Brasilïë op geenbewerking gerig. "Dit word as 'n erkende en bestaande praktyk beskou - nie meer as 'n groeiende een nie. Die fokus is ten volle daarop."

Die maatskappy se jongste reeks planters - die 2100-reeks - is van die gevorderdste presisie-planters wat met die grootste noukeurigheid tussen 9 rye en 26 rye in enige omgewingstoestande kan plant.

Mnr. Antonio Ferreira, bestuurder van tegnologie-ontwikkeling by Monsanto in Curitiba, Parana, sê vir die meeste boere in Brasilië is die tydperk toe die aarde met ploeë omgedolwe is, 'n vergete era. Namate die tegnologie ontwikkel, raak die voordele van geenbewerking vir hulle al hoe meer.

"Die volgende stadium waarna die meeste boere uitsien, is om gemodifiseerde RoundupReady- gewasse te plant om onkruidbestryding verder te vergemaklik," sê hy.

Hoewel regulasies oor bioveiligheid al drie jaar gelede goedgekeur is, is daar nog baie teenkanting teen biotegnologie. Die politici in Parana wil die provinsie GM-vry hou.

In Rio Grande do Sul, 'n provinsie suid van Parana langs die grens met Argentinië, plant boere al jare lank RoudupReady-sojabone wat hulle onwettig uit Argentinië ingebring het. 'n Nuwe ontwikkeling in Brasilië was die kommersiële goedkeuring verlede jaar van YieldGard-mielies, wat die geen bevat om stronkboorders te bestry.

Ferreira meen dit is net 'n kwessie van tyd voor al die bekende GM-gewasse oral algemeen geplant sal word.

Nico van Burick se besoek aan Brasilië was deel van die John Deere-prys vir landboujoernalistiek wat hy verlede jaar gewen het.

Landbouweekblad, 22 Februarie 2008