Met die Suid-Afrikaanse Regering se keuse van suiker en suikerbeet as grondstof vir bio-etanol is die kollig opnuut op die haalbaarheid van dié bedrywe. Brasiliaanse ondernemings meen daar staan niks in Suid-Afrika se pad om genoeg bio-etanol uit suikerriet te vervaardig nie.
Sokkerondersteuners wat in 2010 met Suid-Afrikaanse "flex-fuel"- voertuie, gevul met Suid-Afrikaanse etanol, ry om na die eindstryd tussen Suid-Afrika en Brasilië te gaan kyk - dit is die wens van 'n Brasiliaanse vervaardiger van etanolaanlegte vir Suid-Afrika.
Die Dedini-groep,wat reeds 773 bio-etanolaanlegte en meer as honderd volledige suikermeulens met hul eie etanolaanlegte wêreldwyd opgerig het, raam dat Suid- Afrika, benewens etanolaanlegte by sy 14 bestaande suikermeulens, nóg vyf meulens sal moet bou as hy in 10% van sy brandstofbehoeftes uit suikerriet wil voorsien.
Twee ondervoorsitters van die groep, mnre. José Francisco Davos en José Luiz Oliverio, het al hul onderneming se hulp aangebied met die vervaardiging van etanol uit suikerriet. Hulle het ook 'n model voorgehou vir wat Suid-Afrika nodig het.
Brasilië het 81 jaar navorsingservaring in dié bedryf en is die wêreld se grootste vervaardiger van etanol uit suikerriet. Daar is meer as 350 meulens in die land in bedryf en meer as 420 miljoen ton suikerriet is verlede jaar verwerk.
"Daar is 'n leerkurwe in elke land, maar die Brasiliaanse ervaring kan Suid-Afrika 'n groot voorsprong gee," sê Davos. "Hy hoef nie die wiel van vooraf te ontwerp nie."Hy sê die koste van etanol vergeleke met petrol het sedert 1980 van $109/vat tot $30/vat afgeneem weens onder meer verbeteringe in tegnologie en opbrengs.
"Dit is ook nie die einde van ontwikkeling nie. Drie revolusionêre ontwikkelinge wat reeds aan die gang is, is die beter benutting van bio-elektrisiteit, die vervaardiging van etanol uit bagasse (uitgeperste riet), blare en toppe, en die integrasie van biodiesel- en bio-etanolaanlegte by dieselfde meulens."
Oor die Suid-Afrikaanse situasie sê hy in 2005/'06 is sowat 21 miljoen ton suikerriet op 330 515 ha geoes teengemiddeld66,4 ton/ha. Ter wille van sy model is onder meer aanvaar dat produksie op dieselfde vlak bly, die petrolverbruik teen 2010 sowat 12,6 miljard liter per jaar sal wees, 10% (E10) bio-etanol ingemeng sal word, dat bestaande meulens almal etanolaanlegte bou en dat grond vir uitbreiding beskikbaar is.
Daarvolgens moet bestaande meulens met hul etanolaanlegte jaarliks 2,5 miljoen ton suiker en 0,5 miljard liter bio-etanol produseer. Vyf nuwe bio-etanolmeulens sal nodig wees om 'n verdere 0,8 miljard liter bio-etanol te produseer. Daarvoor sal 'n bykomende 149 600 ha suikerriet aangeplant moet word. Die aanlegte sal ook bioelektrisiteit lewer.
"Die voordele vir die suikerbedryf sal legio wees. Die moontlikheid bestaan om meer suiker te produseer as die prys goed is, suiker van 'n hoër gehalte word geproduseer omdat die molasse nie uitgeput word nie, daar is 'n redelike hoeveelheid afloop wat as vloeibare kunsmis benut kan word en die suikeroorskot in die wêreld kan verminder word," sê Davos.
'n Groot voordeel is dat dit 85 000 regstreekse werksgeleenthede en 265 000 onregstreekse werksgeleenthede sal skep. Hy sê dit kan die aantal mense wat van die suikerbedryf afhanklik is, van sowat 'n miljoen tot 1,45 miljoen vermeerder. Dit is 22 keer goedkoper om 'n werksgeleentheid in die etanolbedryf te skep as in die petrochemiese bedryf. Hy sê in Brasilië kos dit sowat $10 000 teenoor $220 000.
Verskeie Brasiliaanse regeringsafgevaardigdes het al die versekering gegee dat dié land Suid-Afrika graag wil bystaan om biobrandstof te vervaardig. Die Sentrale Energiefonds (SEF) en die Brasiliaanse brandstofreus Petrobras het reeds 'n formele samewerkingsooreenkoms onderteken oor die uitruil van inligting en kundigheid.
Toekoms in Brasilië lyk stroopsoet
Daar sal altyd konflik en oorloë oor olie wees en die
prys sal bly wipplank ry. Dit verseker 'n rooskleurige
toekoms vir die bedryf om bio-etanol uit suiker te vervaardig,
sê mnr. Luiz Cunali Defilippi, direkteur van een
van die talle suikermeulens in die São Paulo-provinsie in
Brasilië.
Die Usina Ipiranga-meule en etanolaanleg by Macoca is 'n tipiese voorbeeld van só 'n onderneming in dié gebied waar die meeste van die wêreld se suikerriet geplant word. Sowat 65% van Brasilië se meer as 350 suikermeulens is in die São Paulo-provinsie en dit is ook die grootste konsentrasie van meulens ter wêreld.
By Usina Ipiranga, wat as 'n middelslag-meule gereken word, word 12 000 ha se suikerriet jaarliks verwerk. Mnr. Sebastiao Trentin, bedryfsbestuurder, sê 80% van die suikerriet word op die meule se grond gekweek en die res word van boere in die omgewing gekoop.
Daagliks word 7 000 ton suikerriet, met 'n herwinbare waarde van sowat 14,6%, verwerk om 10 500 sakke (50 kg) suiker en sowat 280 000 liter etanol te vervaardig. Die etanol word verdeel in 40 000 liter gehidreerde en 240 000 liter ongehidreerde etanol. Die gehidreerde alkohol is tussen 92,6% en 93,2% suiwer en word net só as brandstof vir voertuie gebruik.
Die ongehidreerde etanol bevat minder water (93,3% tot 99,9 suiwer) en word by die bestaande brandstofpoel in die land ingemeng. Meer as twee derdes van die voertuie in Brasilië (sogenaamde "flexfuel"- voertuie) kan met enige kombinasie van petrol en alkohol ry.
Etanol is gewoonlik aansienlik goedkoper, maar die gehalte is swakker as dié van die petrol/etanolmengsel (80:20). Motoriste betaal gewoonlik tussen R4,33/liter en R6,95/liter vir bio-etanol na gelang van die tyd van die jaar en tussen R9,53/liter en R10,70/liter vir die petrol-etanol-mengsel.
"Verbruikers se keuse bepaal dus in 'n groot mate die prys wat ons vir ons produkte kry," sê Defilippi. "As die etanolprys goed is, kan ons meer etanol en minder suiker vervaardig en ook andersom."
Pleks van duur pakhuise word die suiker op die plaas opgeberg in opblaasbare plastiekpakhuise wat vir die seisoen gehuur word. Lug word by die plastiekomhulsel van 100 m x 30 m ingeblaas om die vorm te behou. Dit kos die onderneming 'n skamele R11,90/m² per maand.
Brasilië is bekend daarvoor dat hy suiker die goedkoopste in die wêreld produseer. Daar word voortdurend gestreef om meer kostedoeltreffend te wees. Daarom word ou en nuwe tegnologie langs mekaar ingespan. Sowat 60% van Usina Ipiranga se suikerriet word nog met die hand gekap en die ander 40% met die mees moderne meganiese stropers.
Al die afvalstowwe van die suikermeule sowel as die etanolaanleg word ook benut, hetsy as veevoer, vloeibare kunsmis of brandstof om elektrisiteit op te wek.
Die bemarking van al die meulens se suiker word namens hulle deur 'n koöperasie, Copersucar, gehanteer. Sowat 25% van Usina Ipiranga se suiker word na Amerika en Japan uitgevoer.
Landbouweekblad, 29 Februarie 2008