Landbou
Bie, koop en verkoop lusern op internet


Die Nasionale Lusern-organisasie van SA het pas die eerste internet-verhandelingskamer vir lusernhooi in Suid-Afrika bekend gestel.

Dit bied vir die eerste keer 'n geleentheid aan lusernhooi-produsente om lusernhooi-lotte deur middel van die organisasie (NLO) se nuwe aanlyn-verhandelings kamer, per internetveiling te koop aan te bied.

Verkopers en kopers van lusernhooi kan aanlyn registreer op die NLO se webblad en verkopers kan dan lusernhooi-lotte registreer vir verkoop per veiling deur middel van hierdie aanlynverhandelingskamer.

Slegs lusernhooi wat deur die NIR-instrument ontleed en gegradeer is, sal deur middel van hierdie verhandelings kamer bemark word. Geregistreerde kopers kan dan deur die webblad aanlyn op hierdie lotte bie en sodra die bie-tydperk van die lusernhooi lot verstryk, word die aanbod gesluit. Indien die suksesvolle bieder se aanbod aanvaar is, word die transaksie deur middel van die NLO afgesluit. Die suksesvolle koper betaal die verkoper daarna deur middel van die NLO, en die twee partye reël self die aflewering van die betrokke lusernhooi-lot. Die koper is ook verantwoordelik vir die koste van vervoer.

Hierdie nuwe diens van die NLO sal produsente in staat stel om markverwante pryse vir hul lusernhooi-produkte te behaal. Volgens mnr. Derick Engelbrecht van die NLO belowe dié stelsel om 'n belangrike diens aan lusernhooi-produsente sowel as vir lusernhooi verbruikers te lewer. Die gradering volgends die NIR metode sal ook as waarborg dien van die gehalte van die lusernhooi.

Die prosedure om aan die verhandelingkamer deel te neem, is kortliks:
1. Gaan na die NLO-webwerf by www.lusern.org
2. Registreer as lid.
3. Indien 'n verkoper van lusernhooi is, teken aan ná registrasie en registreer die lotte wat u wil verkoop. Die lusernhooi moet volgens die NIR-metode gegradeer wees. Die lotte sal dan op die webblad se verhandelingskamer gelys word.
4. Kopers wat geregistreer het, kan dan op die webblad aanteken en op die lusernhooi-lotte bie.
5. Na sluiting van die veiling periode, word die lot vir aanbiedinge gesluit en die transaksie tussen die suksesvolle bieder en verkoper afgehandel.

  • Kontakpersoon: Mnr. Derick Engelbrecht, NLO, Tel. 044 272 8991, Oudtshoorn.

    Epos adres: admin@lusern.org

    10 Maart 2008