Produsente kan vroeër stroop en natter mielies aan sommige van Senwes se silo's lewer.
"By silo's wat met droogoonde toegerus is, sal 'n beperkte hoeveelheid mielies teen 2% natter as die huidige maksimum van 16%, in ontvangs geneem word. Dit sal aan produsente die geleentheid bied om vroeër markgeleenthede te benut, deur vroeër te stroop," sê mnr. André Erasmus, assistent-hoofbestuurder: Graanbedryf van Senwes.
Die Senwes silo's wat nie droogoonde het nie, sal steeds mielies met 'n maksimum vogpersentasie van 14% ontvang.
Dié besluit is geneem as deel van 'n aksieplan wat deur Senwes Graan van stapel gestuur is om produsente wat hul graan aan Senwes silo's lewer, te help om die voorsiene kragkrisis die hoof te bied.
Die aksieplan behels die ontvangs van natter graan, verlengde werksure, die installering van kragopwekkers, ononderbroke kragvoorsiening en doeltreffende kommunikasie met produsente.
Volgens Erasmus sal kragopwekkers hierdie jaar by van die grootste silo's, en ook dié waar hoë volume oeste verwag word, geïnstalleer word. Produsente sal dus, in die geval van 'n kragonderbreking, die opsie hê om hul vrag by een van dié silo's te lewer. Die kragopwekkers sal silo's in staat stel om voort te gaan met ontvangsfunksies. Produsente wat in hierdie aftyd graan lewer, sal voorkeur geniet bo graanafnemers en vervoerkontrakteurs.
Die installering van ononderbroke kragvoorsiening (UPS) by die silokantore sal die silo's verder in staat stel om graderingsmasjiene, rekenaars en skale gekontroleerd af te skakel in die geval van kragonderbrekings. Dit beskerm sensitiewe elektronika sodat die ontvangsproses nie onderbreek word nie.
Werksure sal soos nodig by silo's verleng word om produsente te ondersteun tydens graanaflewering. Waar met silobestuurders gereël is, sal alle vragte wat teen 19:00 by 'n Senwes silo ontvang is, dieselfde aand afgelaai word.
Daar sal deurlopend met produsente gekommunikeer word, deur onder andere 'n SMS-stelsel, sodat die produsent bewus is van die tye wat beurtkrag toegepas word. Kennisgewings van die verwagte beurtkragtye sal ook by silo's aangebring word.
14 Maart 2008