'n Span Amerikaanse navorsers het daarin geslaag om die mielie se genoom, wat tot enkele jare gelede nog as te kompleks vir kartering beskou is, te ontrafel.
Dit open die deur vir drasties vinniger ontwikkeling van kultivars wat hoër opbrengste per hektaar lewer.
Die aankondiging is as 'n deurbraak verwelkom in 'n tyd waarin die wêreldvraag na mielies ongekend groei en hoër produksie-doeltreffendheid dringender as ooit nodig is.
Dit het navorsers van verskeie instellings drie jaar en rondom $30 miljoen gekos om die voorlopige kartering, wat 95% van die genoom weerspieël, te voltooi. Die Amerikaanse regering se National Science Foundation en die departemente van energie en landbou het dit gefinansier. Die span sal die kartering nou verfyn totdat dit volledig is.
Ontrafeling van die mielie se genetiese kode was niks minder nie as 'n formidabele taak. Die mielie-genoom is omtrent net so groot en kompleks soos die menslike genoom. Dit bestaan uit 2,5 miljard DNS-basispare, vergeleke met die mens se 2,9 miljard. Die rys-genoom, die enigste ander gewas waarvan die genetiese kode al ontsyfer is, het maar 430 miljoen basispare.
Boonop het die mielie tussen 50 000 en 60 000 gene, omtrent dubbel soveel soos die mens.
"Dit was soos om 'n 1 000-stuk-legkaart te bou, met baie blou lug en baie blou water en net 'n paar klein seilbootjies op die horison," sê dr. Richard Wilson van die Universiteit van Washington, wat die projek gelei het.
Met die nuwe genetiese bloudruk sal wetenskaplikes nou kan vasstel watter gene bepaalde eienskappe in 'n mielieplant verseker, soos gene wat weerstand teen droogtes en spesifieke siektes verseker. Hulle sal dit ook kan gebruik om kultivars te ontwikkel wat vir verskillende eindmarkte geskik is, soos vir etanol, versoeters of veevoer.
Voorts kan die kartering navorsers beter begrip geen van hoe genetika basterkrag in hibriede bepaal.
Wilson en sy span het die B73-kultivarlyn ontleed, wat aan Amerika se Iowa State University ontwikkel is en wyd in kommersiële kultivar-ontwikkeling, ook in ander lande, gebruik word. Hulle het hul kartering vir ander navorsers en die publiek beskikbaar gestel, onder meer via die webblad www.maizesequence.org.
Amerikaanse boere produseer meer as 40% van die wêreld se mielies. Hul gemiddelde opbrengs per hektaar het volgens die landbou-departement die afgelope veertig jaar verdubbel.
Volgens Vincent Andrews, 'n ontleder van Morgan Stanley, is die gemiddelde Amerikaanse opbrengs 153 skepels per akker, teenoor die res van die wêreld se 70 skepels per hektaar.
20 Maart 2008