Die Nasionale Oesskattingskomitee het pas sy jongste verslag bekend gestel.
Kommersiële mielies: Die grootte van die verwagte kommersiële mielie-oes is op 10,765 miljoen ton gestel, wat 1,74% hoër is as die vorige skatting van 10,581 miljoen ton. Die hoofrede vir die styging in die skatting van die mielie-oes is dat die oppervlakte beplant, soos deur die LNR-geleide Konsortium gerapporteer, daarop gedui het dat die oppervlakte vir die Vrystaat voorheen onderskat is en daarom opwaarts aangepas na 1,170 miljoen ha wat die totale aanplantings van mielies op 2,799 miljoen ha te staan bring.
Die oppervlakte onder witmielies is 1,737 miljoen ha en vir geelmielies is dit 1,062 miljoen ha.
Die verhouding van witmielie- tot geelmielie-aanplantings is 62:38 teenoor die vorige seisoen se 64:36.
Die produksieskatting van witmielies is 6,429 miljoen ton, 1,98% meer as die 6,304 miljoen ton van die vorige skatting. Die opbrengs van witmielies is 3,70 t/ha teenoor die 3,68 t/ha van die vorige skatting. In die geval van geelmielies is die produksieskatting 4,336 miljoen ton wat 1,38% meer is as die 4,277 miljoen ton van die vorige maand. Die opbrengs van geelmielies is 4,08 t/ha teenoor die 4,14 t/ha van die vorige skatting.
Sonneblomsaad: Die produksieskatting vir sonneblomsaad is 769 080 ton, wat 11,96% meer is as die 686 920 ton van die vorige skatting. Die geskatte oppervlakte beplant met sonneblomsaad is opwaarts aangepas na 549 300 ha. Die verwagte opbrengs is 1,40 t/ha teenoor die 1,29 t/ha van die vorige skatting.
Ander gewasse: Die produksieskatting van sojabone is 297 250 ton, wat 5,79% meer is as die 280 970 ton van die vorige skatting. Die oppervlakte beplant met sojabone is is opwaarts aangepas na 171 800 ha. Die verwagte opbrengs is 1,73 t/ha teenoor die 1,69 t/ha van die vorige skatting.
Die verwagte grondbone-oes is 80 650 ton - 2,66% hoër as die 78 560 ton van die vorige skatting. Vir grondbone is die oppervlakteskatting opwaarts aangepas na 54 200 ha. Die verwagte opbrengs is 1,49 t/ha teenoor die 1,52 t/ha van die vorige skatting.
Die produksieskatting van sorghum is 255 995 ton - 8,77% hoër as die 235 360 ton van die vorige skatting. Die oppervlakskatting vir sorghum is opwaarts aangepas na 89 800 ha. Die verwagte opbrengs is 2,85 t/ha teenoor die 2,83 t/ha van die vorige skatting.
In die geval van droëbone is die produksieskatting 58 975 ton, 3,35% meer as die 57 065 ton van die vorige skatting. Die geskatte oppervlakte beplant is onveranderd gelaat op 43 800 ha. Die verwagte opbrengs is 1,35 t/ha teenoor die 1,30 t/ha van die vorige skatting.
27 Maart 2008