Die dae toe boere sonneblomme net geplant het wanneer dit te laat is om mielies in die grond te kry, is lank reeds verby. Hoë opbrengste, siekteweerstand en deesdae se uitstekende pryse het hierdie oliesadegewas 'n permanente plek in die saaiboer se gewasspan besorg.
Mnr. Bertus Mostert van die plaas Driepalm by Ottoosdal in Noordwes is een van die boere wat sonneblomme nie meer as 'n vanggewas plant nie. Sy hoofgewasse is mielies en sonneblomme, waarvan hy elke jaar omtrent ewe veel plant, asook koring onder besproeiing en akkerbone as voergewas vir sy beeste. Hy verbou al die laaste 15 jaar sonneblomme. Deesdae plant hy sowat 300ha sonneblomme op droëland, asook 30ha onder besproeiing.
Mostert sê dit is deesdae die moeite werd om met sonneblomme te boer, want kultivars het aansienlik verbeter. As 'n boer hierdie gewas reg bestuur en veral korrek bemes, is dit lonend - veral in die lig van die goeie pryse wat kopers nou betaal.
"My boeresom wys dat ek 2,8 ton mielies per hektaar moet oes om met 'n sonneblomopbrengs van 1,5 ton per hektaar tred te hou," sê hy. Dit is vir hom boonop makliker om1,5 ton sonneblomme per hektaar te oes as om2,8 ton mielies per hektaar af te haal.
Hy beskou dit as haalbaar om teen 1,5 ton sonneblomme per hektaar 'n wins van R4 500/ha te maak. 'n Groot voordeel van sonneblomme is dat die boer dit al in Maart kan oes as hy in November plant.
Dan is daar genoeg tyd om koring op daardie land te plant. As hy mielies plant, selfs al is dit in November, kan hy eers omstreeks Junie oes, wat dan druk op 'n tydige koring-aanplanting plaas. Hy wen dus tyd en inkomste deur sonneblomme te plant. Nog 'n voordeel is dat daardie grond die water van die laat reëns kan opgaar, wat tot voordeel van die koring is. Selfs al lê die grond braak nadat die sonneblomme geoes is, is daardie opgegaarde vog tot die beskikking van die volgende mielie-oes.
Sommige mense hamer steeds op die ou storie dat sonneblomme die grond uitput. Mostert sê dit is slegs die geval as die gewas nie korrek bemes word nie; met ander woorde as die boer roofbou toepas.
Hy is een van die boere wat die nuwe kultivar AGSUN 5671 vanjaar kommersieel beproef het. Met Landbouweekblad se besoek wou hy nie 'n opbrengs-voorspelling waag nie, maar daar was beslis 'n belowende oes op die land. Hy het die nuwe baster onder besproeiing geplant. Weens die milde reën het hy min besproei. Hy is veral in sy skik met die roesverdraagsaamheid, wat vir hom reeds 'n paar honderd kilogram saad per hektaar werd is.
Mostert is beslis as hy sê die sonneblombedryf moet die boodskap hard uitbasuin dat olie afkomstig van kultivars met 'n hoë oleïensuurinhoud tot voordeel van die mens se gesondheid is. Verbruikers is uiters gesondheidsbewus. Daarom gebruik hulle ondermeer olyf- en kanola-olie.
"Die bedryf moet die boodskap wyd verkondig dat daar sonneblomolie is wat net so gesond is. Dit sal punte vir die bedryf op die telbord plaas. Boonop word dit plaaslik geproduseer en nie oorwegend ingevoer soos sommige ander olies nie," sê Mostert.
Hy stel voor olie uit kultivars met 'n hoë oleïensuurinhoud moet onder 'n eie etiket bemark word, sodat mense kan sien dit is gesond, word plaaslik geproduseer en is goedkoper as ander olies."Omdat dit plaaslik geproduseer word, ís dit mos moontlik om dit goedkoper as ingevoerde olyfolie te verkoop," is sy mening. "Die gebruik daarvan moet as 'n lewenswyse bemark word."
Opbrengs-deurbraak met hoë oleïensuur
Deur ANDRIES WESSELS
Die tradisionele agterstand wat kultivars met 'n hoë oleïensuurinhoud altyd met opbrengs
gehad het, is nou met verbeterde kiemplasma en seleksiemetodes uitgewis, dermate dat
hierdie basters selfs beter as konvensionele sonneblomkultivars presteer.
Dié sonneblomme is nie 'n nuwe toevoeging tot die sonneblommark nie, want die geen vir 'n hoë oleïensuurinhoud is reeds sedert die 1970's wêreldwyd deel van sonneblom-teelprogramme. Danksy die groot vordering wat egter in die jongste tyd met veral opbrengs gemaak is, is daar nou verskeie nuwe voordele vir die boer en verwerker in hierdie tipe sonneblomme opgesluit.
Agricol betree hierdie nismark met 'n nuwe baster, AGSUN 5671. Die kultivar spog met goeie verdraagsaamheid teen bruinroes en blomdatums vanaf 61 dae tot 68 dae. Die kultivar is binne 130 dae tot 140 dae oesgereed en toon goeie weerstand teen stam- en wortelsiektes. Die nuweling het die afgelope seisoen op verskeie plekke die eerste plek in sonneblomproewe behaal.
Vir verwerkers, wat in die verlede opbrengspremies aan boere moes betaal om die produksie van kultivars met 'n hoë oleïensuurinhoud te regverdig, is hierdie opbrengspremies nou iets van die verlede, aangesien hierdie kultivars se opbrengste goed met konvensionele basters vergelyk en selfs beter is. Vir boere lê die potensiaal in hoër opbrengste en 'n sonneblomkultivar waarvan die oliesamestelling gunstig is vir dieetaanbevelings waarin voorkeur aan gesonde olies gegee word.
Om die belangrikheid van kultivars met 'n hoë oleïensuurinhoud te begryp, moet die samestelling van plantaardige olies verstaan word. Natuurlike sonneblomolie beskik oor 'n ligte, helder kleur en meer vitamien E as enige ander plantaardige olie. Hierdie plantaardige olie bestaan uit vetsure, maar meer spesifiek 'n kombinasie van drie tipes vetsure, naamlik polionversadigde, mono-onversadige en versadigde vetsure.
Tradisionele sonneblomkultivars se vetsuursamestelling is van so 'n aard dat die poli-onversadigde vetsure die grootste deel (69%) daarvan uitmaak. Die vetsuursamestelling van kultivars met 'n hoë oleïensuurinhoud verskil egter aansienlik van die tradisionele linoliensuurkultivars. By hierdie kultivars is die gesonder mono-onversadigde gedeelte aansienlik hoër (minstens 77%) om aan produkvereistes te voldoen. Hierdie gesonde sonneblomolie se gehalte is wesenlik beter as olyfolie, wat tans die markleier in standaarde vir gesondheidsolies is.
Dié sonneblomolie se gesondheidsvoordele strek verder as 'n laer risiko vir hartsiektes en hoë cholesterolvlakke. Verbruikers kan ook voordeel trek uit 'n langer gebruikslewe van die olie weens beter stabiliteit.
Verbruikers in Europa kan reeds getuig van die gesondheidsuksesse van hierdie olie. Hoë oleïensuurolie is ook by uitstek die voorkeurbestanddeel in die vervaardiging van biodiesel.
Verhoogde belangstelling in hoë-oleïensuurolies word deur dieetaanbevelings aangespoor, wat voorkeur aan hoër vlakke van mono-onversadigde vetsure en laer vlakke van versadigde vetsure gee.
Landbouweekblad, 25 April 2008