Toe mnr. Thom Steyn, landboukundige by Monsanto op Bethlehem, onlangs op 'n boeredag vra "hoeveel mielieboere het hulself al die vraag gevra hoeveel minder geld hulle in die komende seisoen in hul sak gaan steek", kon jy 'n speld hoor val.
Steyn het op 'n Sentrum van Uitnemendheid-boeredag van Monsanto op die plaas van die Rossouw-groep naby Delmas gesê stygende produksiekoste, veral brandstof en kunsmis, dwing boere as't ware om wéér 'n slag te kyk na Roundup Ready gedrewe tegnologie én na die sinergie tussen verminderde bewerking en geneties gemodifiseerde mielies. In die praktyk beteken dit dat dit nie meer nodig is om vir stronkboorder te spuit nie, terwyl dit nuwe alternatiewe vir meganisasie (bewerking) bied.
Die onkruiddodertegnologie pak die probleem van onkruidbestryding in verminderde bewerking. Die bedekking van die grond met plantmateriaal benadeel kontak met die grond en loging in die grond in. Formulasies vir onkruiddoders wat glifosaat bevat, die aktiewe bestanddeel van Roundup® Ready Plus, word op die onkruid self gespuit en het nie grondkontak nodig nie.
Breëspektrumbestryding en die potensiaal van tenkmengsels is ongeëwenaard ten opsigte van doeltreffende onkruidbestryding. Met Roundup Ready-gewasse kan die onkruiddoder enige tyd toegedien word. Regstellende bespuitings is dus moontlik, dit het die potensiaal van wisselbou (of oorplant) met ander gewasse én dit het geen nawerking in die grond nie. Daarby verlaag dit meganisasiekoste terwyl opbrengs gehandhaaf word, sê Steyn.
Onder die besware wat dikwels teen verminderde bewerking geopper word, is die inwerk van voedingstowwe, soos kalk, natuurlike grondverdigting, waterinfiltrasie, oesreste as voedingsbron, die opbou van siekte-innokulum in die grond, winderosie en opslag.
Met verminderde bewerking is die biologiese aktiwiteit in die grond soms genoeg om kalk en ander voedingstowwe in die grond in te werk. Op sandgrond kan hierdie voedingstowwe ingewerk word wanneer die situasie diepbewerking vereis.
Steyn sê die beweiding van oesreste op lande kan grondverdigting veroorsaak en dit verwyder uiteraard ook die plantmateriaal. As 'n alternatief kan drukbeweiding ('n hoë veelading vir 'n kort tydperk) oorweeg word omdat die hoë voedingswaarde van die plantmateriaal benut word terwyl die minimum kompaksie plaasvind. Om siekteprobleme teen te werk, kan wisselbou met sonneblomme, sojabone en grondbone oorweeg word. Dit is belangrik dat die regte teelmateriaal gekies word, soos kultivars wat weerstand bied teen diplodia en fusarium. "Wanneer die situasie dit vereis, begrawe of verbrand die innokulum," beveel Steyn aan.
Steyn sê boere is waarskynlik reeds bewus van prysstygings van produksiemiddele, soos 'n skottelegbewerking wat R145,43/ha per keer in 2006 gekos het teenoor die R210/ha per keer wat dit in die komende seisoen gaan kos. Dan is daar die prysstygings van saad, soos CRN3505 wat van R948/ha in 2006 gestyg het tot R1 114/ ha vanjaar.
Maar die grootste prysskokke is waarskynlik dié van bemesting en brandstof.
Die eenheidskoste van stikstof (N) het van 2006 tot 2008 toegeneem van R7/ha tot R13/ha, van fosfaat (P) van R13/ha tot R40/ha en dié van kalium(K) van R6,50/ha tot R13/ha.
Die bygaande tabel toon die volledige vergelyking van die koste van produksiemiddele vir 2006 met dié van 2008.
![]()
|
Steyn sê as jy die 2006-seisoen se somme en 2008 se berekeninge gemaak het, sien jy dat die wins per hektaar in 2006 bó die gespesifiseerde koste vir konvensionele bewerking R8 298 was teenoor die R6 165 wat vir 2008 voorsien word.
Die winssyfers vir geenbewerkte lande was R8 851/ha vir 2006 en sal 'n geskatte R6 625/ha vir 2008 wees. Dit kom neer op 'n kleiner wins van R2 133/ha vir konvensioneel bewerkte lande en R2 226/ha vir geenbewerkte lande. "En dit is hierdie drasties kleiner winssyfers waarop boere hulle vir die 2008-seisoen moet voorberei," waarsku Steyn.
Landbouweekblad, 2 Mei 2008