Vanjaar se katoenoes is die kleinste in meer as 40 jaar, maar hierdie prentjie kan in die komende seisoen drasties verander. Peilings in die Noord-Kaap en Noordwes toon dat die katoenprys dermate verbeter het dat dit ander gewasse, soos mielies, koring, sojabone en sonneblomme, oortuigend op droëland en onder besproeiing kan klop.
Mnre. Pieter Potgieter van die plaas Welgemoed en Francois Cloete van Mooidam in die distrik Stella is twee van die boere wat hul somme gemaak het en vol vertroue is oor katoen se potensiaal.
Dié twee het in die jare sedert die prys in 2003/'04 ineengestort het, nooit opgehou om katoen te plant nie. "Een ding van katoen is dat dit jou nooit heeltemal in die steek sal laat nie. Selfs in die droogste jaar sien jy nie sommer 'n opbrengs van laer as 500 kg/ha nie. Dit is omtrent die gelykspeelpunt.
Al gaan dit ook hoe sleg sal jy waarskynlik altyd jou produksiekoste kan verhaal," sê Potgieter. Op lang termyn is die gemiddelde opbrengs van katoen in dié droë gebied 1,4 ton/ha. "Hoe nader 'n mens aan die afsnydatum van 10 November plant, hoe slegter is die oesvooruitsig."
Hy is oortuig dat katoen deel van 'n wisselboustelsel moet wees. "Ek het geen twyfel nie dat my mielies beter presteer as daar die vorige jaar katoen op die land was. Die opbrengs is hoër en plante is minder geneig om om te val."
Om te bewys dat katoen winsgewender as ander gewasse kan wees, maak hulle 'n sommetjie van hul produksiekoste per hektaar: Bemesting R660, bobemesting R280, diesel R330, herstelkoste R165, onkruiddoder R480, saadkoste R355, plukkoste R600, vervoer R150, versekering R350 en rente R255.Die totale produksiekoste per hektaar is R3 570.
Die verwagte prys teen Junie volgende jaar is R5 800/ton en teen 'n konserwatiewe opbrengs van 1,2 ton/ha is die potensiële marge R3 390/ha. 'n Soortgelyke som vir mielies dui op 'n marge van R500/ha en vir sonneblomme op 'n marge van R3 000/ha.
Dié prentjie stem ooreen met syfers uit die GWK-gebied in die Noord-Kaap. Volgens berekeninge van dié landboumaatskappy kan net aartappelmoere katoen vanjaar klop - en dít teen 'n katoenprys van net R3 360/ton. (Die verwagte gemiddelde prys vir volgende jaar is R5 800/ton).
Volgens GWK se berekenings is katoen se netto-marge vanjaar R9 440/ha, mielies se marge is R7 072/ha, vir grondbone is dit R6 700/ha, vir lusern R7 735/ha, vir aartappels R20 474/ha, vir koring R2 156/ha en vir gars R2 655/ha.
Maar alles is nie maanskyn en rosegeur nie. Tien jaar gelede is meer as 20 000 ha katoen in die Stella-omgewing geplant. Vanjaar is dit net 300 ha. Benewens die lae pryse van die afgelope paar jare is katoen in die verlede met die hand gepluk. Arbeidskoste en minimumlone maak dat dit nie meer haalbaar is nie.
Om dié probleem te oorbrug, gaan Stella se katoenboere en die pluismeule Vaalharts Katoen saamspan om 'n nuwe soort kantoenstroper (die eerste in die land) uit Amerika in te voer. Die stroper borsel die vesel en lobbe van die plant en het 'n eie skoonmaakaksie om die plantmateriaal van die vesel te skei. Dit is meer kostedoeltreffend as andermeganiese stropers en is ideaal vir droëlandomstandighede.
Nog 'n probleem wat katoenboere ondervind, is toegang tot produksiekrediet.
"Landboumaatskappye bevorder eerder graanverbouing omdat hulle daarna by die graanhantering ook betrokke kan wees. Die boere se eie pluismeulens het nie die vermoë om krediet te verskaf nie. Al wat die pluismeulens kan doen, is om vir die boere uitstel op die betaling van produksiekoste te beding," sê mnr. Stan Rudman, besturende direkteur van Vaalharts Katoen.
Die groot probleem met droëlandverbouing is dat 'n mens moeilik produksiekoste kan verminder, sê Potgieter. " 'n Mens moet soveel moontlik met bewerking bespaar."Daarom pas hy minimumbewerking toe. Hy laat oesreste op die land en ploeg glad nie. Hy ontblaar ook nie sy katoen nie en het sy eie werktuie ontwerp om die plant van sy blare te stroop nadat die eerste ryp toegeslaan het.
Cloete sê die feit dat boere toegang het tot die stapelgeen vir katoen wat terselfdertyd beskerming teen bolwurm bied en die bestryding van onkruid vergemaklik,maak die verbouing van katoen aansienlik makliker en goedkoper as in die verlede.
Puik gewas vir
wisselbou
Besproeiingsboere wat katoen deel van
'n wisselboustelsel maak, kan meer geld verdien met drie gewasse
in twee jaar as om vier opeenvolgende gewasse te probeer
plant. Mnr. Pieter van der Walt, tegniese katoenraadgewer
en Bayagro-verteenwoordiger in die Vaalhartsskema, sê katoen
het 'n heilsame uitwerking binne die wisselboustelsel. As dit
deel van die stelsel vorm, kan dit die opbrengs van mielies met
2 ton/ha verhoog en 1 ton meer koring per hektaar beteken.
Hy sê mielies en koring benut net die boonste 30 cm van die
grondlaag en katoen tot 'n meter of meer. Die katoen help ook
om siektes by die ander gewasse teen te werk.
Mnr. Stan Rudman, besturende direkteur van Vaalharts Katoen, sê die netto inkomste per hektaar wat uit drie oeste verkry word, is sowat R18 382/ha. Bykomende produksiekoste en verlaagde opbrengs veroorsaak dat die netto inkomste met vier oeste in twee jaar net R15 864/ha is.
"Die hoë ru-olieprys en die vraag na grondstowwe vir biobrandstof het die landbou-omgewing op sy kop gekeer. Pryse vir graan en katoen sal hoog bly en besproeiingsboere het nou die kans om na 'n gesonder wisselboustelsel oor te skakel."
Mnre. Paul en Rudolph Burger van Burgerbroers-boerdery by Vaalharts is oortuig van die waarde van katoen binne 'n wisselboustelsel. "Die afgelope paar jaar het ons koring en mielies afgewissel met grondbone of katoen. Noudat die prys weer beter lyk, sal ons bly by katoen.
"Ons betaal wel duur vir die stapelgeensaad en die tegnologie, maar die verhoogde opbrengs maak dit die moeite werd." Die Burgers plant 80 ha katoen waarvan 53 ha onder spilpunt- en die res onder vloedbesproeiing is.
Eie pluismeulens gee boere beter pryse
Pluismeulens wat in boere se eie besit is, kan meer waarde op plaasvlak toevoeg en
'n leemte vul wat gelaat word deur die onttrekking van internasionale maatskappye,
soos Clark Cotton en Cargill, aan die Suid-Afrikaanse katoenbedryf.
Mnr. Stan Rudman, besturende direkteur van Vaalharts Katoen, sê boerepluismeulens het die katoenbedryf radikaal verander. "Waar hulle voorheen van die internasionale maatskappye en hul pryse afhanklik was, kan die rand en sent nou by die boer uitkom. Hulle bly in besit van hul katoen tot dit by die spinproses kom en kan aansienlik beter pryse vir hul produk kry. Die internasionale maatskappye het vir hul aandeelhouers se sak gewerk. Ons beding vir die boere en die Suid-Afrikaanse bedryf."
Hy sê die pluismeulens lewer 'n alles-in-een-diens aan boere. Dit dien onder meer as kommunikasiekanaal met die bedryf, bemarkingsarm en inligtingsentrum vir die boer. "Geen boer produseer genoeg om manalleen sy oes sinvol te bemark nie. Die meule kan die katoen oor 18 maande in 'n poel bemark na gelang van wisselkoersveranderinge en prysskommelinge. Dit kan aansienlik beter pryse vir die boer realiseer.
Sowat 80% van die land se katoen word internasionaal verkoop en die res aan plaaslike eindverbruikers."
Volgens Rudman kan die meule ook vir uitgestelde betaling by verskaffers reël en kollektief vir gunstiger pryse van produksiemiddele beding. 'n Voorbeeld hiervan is premies van oesversekering wat van 19,5% van die oeswaarde tot 6% verlaag is sedert Vaalharts Katoen namens sy boere begin beding het.
Daarbenewens lewer die meule 'n voorligtingsdiens wat nie meer elders beskikbaar is nie. Boere word van tegniese raad bedien en gehelp wanneer hulle hulp nodig het. Vaalharts Katoen, waarvan 51 % deur boere besit word, benut in hierdie stadium maar 33% van sy kapasiteit en pluis net drie maande van die jaar katoen. Sowat 3 000 ha se katoen kan hanteer word.
Landbouweekblad, 2 Mei 2008