
Boere wat kleingraan onder besproeiing verbou, moet fyn let op blaarmynerskade en versigtig wees met die chemiese bestryding daarvan. Geen middel is teen dié insek geregistreer nie. Goeie resultate is wel met middels in proewe verkry, maar een van dié middels het die insek se voortplanting versnel.
Blaarmyners het die afgelope jaar graanboere weer hoofbrekens besorg deur 'n nuwe gasheer, naamlik gars, in die besproeiingsgebiede van Douglas en Prieska te besmet. Hoewel dié insek elke jaar op sowat 10 000ha koring in dié gebied bestry word, is wetenskaplikes steeds onseker oor die ekonomiese uitwerking wat blaarmyners op oeste het.
Dr. Goddy Prinsloo, 'n entomoloog verbonde aan die Kleingraaninstituut op Bethlehem, sê die instituut gaan binnekort begin met navorsing oor dié aspek.
"Min is nog bekend oor die werklike omvang van skade wat blaarmyners aan gewasse aanrig. Ek het al in 'n koringland gestaan wat erg deur die blaarmyner besmet is. Nogtans was die koring vol in die aar. Hierdie verskynsel is van die aspekte wat ons wil ondersoek."
Van September tot einde Oktober laas jaar was die besmetting in besproeiingskoring betreklik erg, sê Prinsloo.
Die blaarmyners kan die koring- en garsplant in verskillende groeistadiums besmet. Wanneer die larwe die blaar verlaat om 'n papie te vorm, hou die skade aan die blaar net daar op. Verdere skade kan slegs aangerig word indien 'n ander wyfie weer eiers in die blaar kom lê en die proses herhaal.
Wanneer 'n jong plant aangeval word, tonnel die larwe net in 'n klein deel van die jong blare voordat dit die blaar verlaat en 'n papie vorm.
Die vlagblaar en die tweede blaar moet beskerm word, omdat dit 'n rol in die voeding van die aar speel.
Volgens Prinsloo is in 2006 bevind dat baie onderste blare van die gars sowel as die vlagblaar en die tweede blaar van bo deur die vlieg gemyn is. Die dele van die blare wat gemyn word, verdroog. Al sou 'n bespuiting die larwe in die blaar doodmaak, kan die skade aan 'n blaar nie omgekeer word nie.
Aangesien die vlagblaar en die tweede blaar 'n groot rol in die vulling van die aar speel, was skade by dié gars te wagte. Dieselfde skade is in sommige koringlande gevind.
Die blaarmyner ( Agromyza occularis ) word sedert 2000 gereeld op koring onder spilpuntbesproeiing in die omgewing van Prieska en Douglas aangetref. Die vliegie is die eerste keer in 1959 in die omgewing van Ceres versamel en weer tussen 1961 en 1963 onderskeidelik in die omgewing van Giant's Castle in die Drakensberg en Maseru in Lesotho opgemerk.
Die eerste voorbeelde, wat tot onlangs die enigste was, is met 'n veegnet in gras versamel. Dit is nog nie bekend wat die vliegie se gasheerplantreeks is nie.
Die volwasse vlieg is swart en ongeveer 2 mm groot. Die wyfie boor 'n gaatjie in die blaar waarin sy 'n eier lê. Die eier word meestal aan die bopunt van die blaar gelê, maar soms ook in die middel van die blaar. Die larwe vreet 'n tonnel binne in die blaar en vernietig die bladgroen sover dit gaan. Dit laat 'n tipiese tonnelpatroon in die blaar, wat aanvanklik soos 'n vrot streep of kol lyk.
As die blaar teen lig bekyk word, kan 'n klein geel larwe in die tonnel gesien word. Wanneer die larwe gereed is om 'n papie te vorm, breek dit uit en val op die grond. Die volwasse vlieg kom uit hierdie papie te voorskyn om die lewensiklus te herhaal.
Die blaarmyner het in die verlede net sporadies as 'n plaag by koring voorgekom. Sedert dit by Douglas en Prieska posgevat het, word probleme elke jaar ondervind en ongeveer 10 000 ha word bespuit.
Prinsloo sê daar kan heelwat bespiegel word oor hoekom die blaarmyner in dié gebied gevestig het. "Slegs deeglike navorsing sal 'n antwoord hierop verskaf."
Sowat 90% van die papies wat in 2001 in die Oos-Vrystaat versamel is, is deur 'n wesp geparasiteer, wat daarop dui dat dit in natuurlike toestande biologies bestry word. "Met die verandering in habitat wat deur die landbou teweeg gebring word, kan van die natuurlike gasheerplante van die blaarmyner, sowel as die parasietwespe in die slag bly. Dit laat die blaarmyner toe om ongehinderd aan te teel op die mees toeganklike gewas in die omgewing.
Geen middel geregistreer
Min is oor die blaarmyner bekend. Daarom beoog die Kleingraaninstituut 'n navorsingsprojek
met die samewerking van die Universiteit van die Vrystaat om meer te wete te kom
oor die biologie en ekologie van die insek. Die navorsing sal hopelik lei tot die identifisering
van die swakste skakel in die biologie van die insek sodat die verskillende bestrydingsmoontlikhede
daarop toegespits kan word, sê dr. Goddy Prinsloo.
Indien bespuiting teen blaarmyners wel nodig blyk te wees, moet in gedagte gehou word dat kontakdoders ondoeltreffend is omdat die larwes binne die blaar voed waar hulle beskerm word. Sistemiese insekdoders wat deur die plant opgeneem word, behoort doeltreffender te wees.
"Volwasse vlieë beweeg baie rond. Ons is nie seker wanneer hulle meer aktief is en presies waarvandaan hulle kom nie. Dit is dus nie moontlik om die vlieë met 'n bespuiting te bestry nie. Daar is ook geen verbouingspraktyke bekend waarmee die plaag in toom gehou kan word nie."
Omdat daar geen middel geregistreer is vir die bestryding van blaarmyners op kleingraan nie en moutgars geproduseer word, is beswaar gemaak teen die gebruik van ongeregistreerde middels met lang onthoudingstydperke.
Griekwaland-wes-koöperasie het al 'n paar middels op gars getoets. Een is gevind wat die larwe in die blaar doodmaak en dus die skade kan beperk. Noodregistrasie vir die middel is aangevra.
In die toetsproses van die verskillende middels het dit geblyk dat een van die middels nie die larwes gedood het nie, maar hulle gestimuleer het om vinnig papies te vorm. Papies is in die blare gevorm en het in redelike getalle op die grond gelê. Van hierdie papies was dood, maar ander het uitgebroei en kon dus onmiddellik weer eiers lê. Sodoende kon die probleem vererger.
Landbouweekblad, 29 Februarie 2008