Landbou
Voorsaai-inligtingsdae hier
Deur AMELIA GENIS

Biologiese boerdery, bewaringsbewerking en nuwe kultivars is van die onderwerpe wat in die soeklig geplaas word op Skog en Overberg Agri se voorsaai-inligtingsdae wat eersdaags op Moorreesburg en Bredasdorp gehou word.

By Skog se inligtingsdag op Dinsdag, 11 Maart, in die Jan Bassonsentrum op Moorreesburg is mnr. HF de Wet die genooide spreker. Hy gaan praat oor die uitwerking van biologiese boerdery op winsmarges in 'n bewaringsbewerkingstelsel.

Ander onderwerpe wat bespreek gaan word, is die invloed van bewerking op grondeienskappe, opbrengs en groei van kontant-gewasse, terugvoering oor proewe op Langgewens en nuwe koring-, lupien-, voergraan- en weidingskultivars.

Dr. Ken Flower van die Universiteit van Wes-Australië en 'n navorser by WANTFA (Western Australian No-till Farmers' Association) praat oor bewaringsbewerkingstelsels by Overberg Agri se voorsaai-inligtingsdag wat op Dinsdag, 18 Maart, in die opleidingslokaal op Bredasdorp gehou word. Mnr. H.F. de Wet gaan oor plantvoeding praat, en mnr. John Tolmay oor die kernbegrippe van bewaringsboerdery. Wisselbounavorsing en die kwessie van slakke en insekte in graan sal ook bespreek word.

Die inligtingsdae begin om 09:00 en word afgesluit met 'n middagete om 13:00.

  • Vir navrae oor die Skog-voorsaai-inligtingsdag kan Gert Conradie by 083 652 6615 gekontak word, en vir die Overberg Agri-inligtingsdag kan Johan Lusse by 083 310 2362.

    29 Februarie 2008