Stygings in die pryse van insette en die effek daarvan op die produksiekoste van grane, soos koring en mielies, is ongelooflik, sê mnr. Neels Ferreira, voorsitter van Graan SA.
Die jongste kostebegrotings vir die produksie van koring, wat gedurende die volgende paar maande aangeplant gaan word, toon dat die veranderlike kostekomponent met gemiddeld 63% toegeneem het. Veranderlike koste sluit onder andere die koste van saad, kunsmis, chemiese middels vir onkruid en plaagbeheer, brandstof (diesel), herstelwerk en onderdele, bemarkingskoste en rente op produksiekrediet in.
Ferreira sê in 'n nuusverklaring hoewel al die kostekomponente groot stygings toon, is dit veral kunsmis (98%), gekoopte saad (24%), diesel (55%) en rente op produksiekrediet (63%) wat op ʼn jaar-op-jaar-basis (Maart 2007 tot Maart 2008) die meeste gestyg het.
Wat die somergrane betref, is ʼn groot deel van die kostes reeds in die huidige produksieseisoen geabsorbeer maar toon die begrotings vir die komende produksieseisoen, wat in Oktober 'n aanvang neem, dat produksiekostes van die verskillende gewasse met tussen 30% en 50% (Oktober 2007 tot Oktober 2008) gaan toeneem. Ook hier is dit kunsmis (58%), diesel (33%), onkruiddoders (42%) en rente op produksiekrediet (30%) wat die grootste stygings toon. Verder is daar nog onsekerhede oor watter stygings nog vanaf Maart tot Oktober met planttyd gaan plaasvind.
Wat oorhoofse of vaste koste betref, speel die rentekoers die grootste rol en word bereken dat hierdie kostekomponent met tussen 1,5% en 16,5% gaan styg.
Ferreira sê verder dat die effek van hierdie stygings in insetkoste op die winsgewendheid van graanproduksie weliswaar tans deur hoër graanpryse gebuffer word, maar sal enige volgehoue verlaging in graanpryse groot risiko vir graanprodusente inhou. Die pryse van meeste insette toon selde verlagings en moet aanvaar word dat huidige prysvlakke hier is om te bly terwyl graanpryse baie meer volatiel is en geen waarborge bestaan dat dit hoog sal bly nie.
Omdat produsente prysnemers aan die inset- sowel as die uitsetkant is en daarom nie veel aan insetpryse kan doen nie, sal maniere gevind moet word om insette optimaal aan te wend. Nuwe produksiepraktyke wat op die beginsels van minderbewerking of bewaringsbewerking-aspekte geskoei is, vind tans wêreldwyd al hoe meer toepassing. Om hierdie rede is ʼn groep graanprodusente, onder leiding van Graan SA se voorsitter, op besoek aan Suid-Amerika om suksesse wat alreeds daar behaal is te ervaar en idees vir verdere navorsing op plaaslike vlak terug te bring.
14 Maart 2008