Landbou
Koring: Onthou 1996-lesse!
Deur JEAN DU PREEZ

Met wêreldkoringvoorrade op sy laagste vlak in meer as 30 jaar begin die internasionale fokus nou toenemend skuif na tradisionele groot koringproduserende lande, soos Australië, en is die groot vraag: Wat gaan die komende winter oplewer, en kan koringboere terugbons?

Terselfdertyd word produsente gemaan om nie die koringlesse van 1996 te vergeet nie. Toe het pryse ook so dramaties gestyg, net om daarna te tuimel.

Wat die huidige situasie egter anders maak, is dat insetkoste net so dramaties gestyg het. Kenners meen produsente se vermoë om stygende insetkoste te bestuur, gaan bepaal tot watter mate hulle voordeel gaan trek uit die huidige hoë koringpryse.

Klimaatstoestande in Australië gaan van nou af deurslaggewend wees vir wêreldkoringvoorrade. 'n Rampdroogte het verlede jaar hul koringproduksie dramaties ondermyn. Tog reken Gerry Bange, die voorsitter van die VSA-landboudepartement se vooruitskattingsraad, dat Australië se koringoes vanjaar sal herstel. Hy sê La Nina-toestande word tans ondervind, wat vir die westelike koringproduserende dele van Australië voordelig kan wees.

"Die koringseisoen begin uiteraard eers werklik in April en vroeg Mei, maar ons sal met groot belangstelling volg hoe die weerstoestande oor die volgende paar maande ontvou," sê Bange.

Intussen waarsku kenners dit is van deurslaggewende belang dat boere in die huidige omstandighede 'n manier vind om produksie-, koste- en prysrisiko's te balanseer.

"Nou is die tyd om met jou landboukundige, graanmakelaar, konsultant en bankier te praat oor hoe om hierdie risiko's te bestuur," sê een van Australië se senior landbou-ekonome, Justin Smirk van die maatskappy Westpac.

Hy sê die 10% daling in internasionale koringpryse die afgelope tyd is 'n waarskuwing dat dit nie verskansing is nie, maar spekulasie om die kruin van die koringmark te probeer bepaal.

"Diegene wat kan onthou: Die laaste keer - in 1996 - toe ons rekordhoogtes in die internasionale koringprys gesien het, was dit 'n wrede les in wisselvalligheid. Koringpryse het in die jaar tot April 1996 verdubbel, net om 40% in die volgende 12 maande te tuimel. Teen 1999 was al die voordele uitgewis.

"Destyds was dit 'n styging van 10% in internasionale wêreldproduksie wat die mark laat ineenstort het.

"Hoewel ons hierdie keer nie so 'n groot toename in wêreldproduksie verwag nie, sê die geskiedenis vir ons dit sou kortsigtig wees om die moontlikheid van so 'n herhaling te ignoreer."

  • Bron: The Land, Australië

    25 Maart 2008