Landbou
Garskontrakte: Wees katvoet
AMELIA GENIS

Die Suid-Kaapse garsbedryfskomitee het aanbeveel dat boere nie kontrakte teken om SAB Bpk. se prysaanbod vir moutgars te aanvaar nie. Teen 'n gemiddelde prys van R3 011,22 per ton is dit 11% laer as die jongste koringprys op Safex.

Die aanbod wat SAB aan Suid-Kaapse garsboere gemaak het, behels 'n gelewerde prys by SA Barley Maltsters op Caledon van R3 519,30 per ton.

Voortspruitend uit dié prys is die afgeleide gemiddelde netto produsenteprys vir die Overberg ongeveer R3 011,22/t. Die prys hang af van die silo waarby die gars gelewer word.

Die gemiddelde produsenteprys van R3 011,22/t word bepaal uit 'n basisprys van R2 801,01/t plus 'n gehalte-aanpassing van R210,21/t (6,1 % van die netto produsenteprys).

Toe mnr. Leon Groenewald, voorsitter van die nasionale en Suid-Kaapse garsbedryfskomitee, die prysaankondiging by Overberg Agri se voorsaai-inligtingsdag gemaak het, was die garsprys gemiddeld 11% laer as die koringprys vir Desember 2008 op Safex. Dít ná aftrekkings vir gradering reeds in berekening gebring is.

Nadat Groenewald SAB se aanbod aan garsboere voorgehou het, het hy gesê hoewel die garsbedryfskomitee nie aan boere kan voorskryf oor die prysaanbod nie, kan hulle in die lig van die huidige koringprys en die feit dat die goedkoopste invoerpariteitsprys (R3 919,30/t vir Australiese moutgars in Kaapstad geland) nie aanbeveel dat produsente die aanbodkontrakte vir moutgars teken nie. Die vaste prys-opsie verdiskonteer nie die werklikhede in die mark, solank die bestuurbare "koring afgeleide formule" uitstaande is nie.

"Die wortel wat SAB voor ons neus hou, is net te klein in vergelyking met die risiko's verbonde aan garsverbouing."

Groenewald sê hulle hoop dat SAB mettertyd die werklikhede in die mark sal eerbiedig en 'n markverwante aanbod sal maak.

Aan die vooraand van die wintergraanseisoen is daar aanduidings dat boere selfs minder gars wil plant. Mnr. André Uys, hoofbestuurder van produkte by Overberg Agri, het by navraag gesê garssaadverkope is vanjaar sowat 24% laer. Ramings wat dáárvolgens gemaak word, dui daarop dat die oppervlakte wat met gars beplant gaan word, van 41 000 hektaar tot ongeveer 35 000 ha kan daal.

Landbouweekblad, 28 Maart 2008