Weens die skommelinge in die weerstoestande moet grondboonboere bedag wees op simptome van blaarsiektes. Dit is noodsaaklik om grondbone se blaredak in stand te hou, want dit het 'n regstreekse invloed op die gehalte van die oes.
Die blaredak van die grondboonplant is die fabriek wat werk om die peule te vul. Dit is daarom noodsaaklik dat die blare deur die hele groeityd tot met oestyd optimaal moet funksioneer.
Tydens die oesproses is die blare belangrik, omdat dit noodsaaklik is vir hopies pak en selfs as die boer sy gewas meganies hanteer. Die hoeveelheid gesonde blare met oestyd toon 'n groot ooreenkoms met die gehalte van die grondbone wat gelewer word.
Blaarsiektes is die groot skobbejak as dit by blaarverliese kom. Simptome van blaarsiektes begin gewoonlik aan die binnekant van die blaredak en is nie altyd met die eerste oogopslag merkbaar nie. Dit is nodig om die plant oop te maak om sodoende te bepaal watter siektes teenwoordig is.
Elke blaarsiekte het sy unieke simptome wat hul maklik van mekaar onderskei. Dit sal die grondboonprodusent baat om gereeld deeglike inspeksies te doen.
Voorsorg is beter as nasorg. Vroegtydige waarneming van die beginstadiums van enige blaarsiekte is noodsaaklik. 'n Goeie wisselbouprogram - waarvolgens grondbone slegs elke derde of vierde jaar op dieselfde stuk grond verbou word - kan siektes ook verminder.
'n Goed geskeduleerde bespuitingsprogram dra baie daartoe by om 'n grondboonoes van goeie gehalte van die land te haal.
Die plaaslike chemiese verteenwoordiger kan van groot hulp hiermee wees. Die geregistreerde middels werk in die algemeen goed en kan met vertroue gebruik word.
Grondbone is 'n hoogs betalende gewas. Met die korrekte bestuur en verbouingsmetodes kan die boer bank toe lag.
Mev. Loureine Salomon is verbonde aan die
Landbounavorsingsraad se Instituut vir Graangewasse
op Potchefstroom.
Navrae: Tel. 018 299 6100
Landbouweekblad, 28 Maart 2008