Landbou
Meer koring-hektare verwag
Deur MARLEEN SMITH

Washington, DC.- As Moeder Natuur saamspeel, kan die wêreld se leë koringskure in die komende produksiejaar met welkome nuwe voorrade aangevul word.

Amerika se departement van landbou (USDA) voorspel dat wêreld-koringproduksie in 2008/'09 rekordvlakke kan haal - mits weerstoestande normaal is.

Bakkers en verbruikers ly al maande onder hemelhoë koringpryse - die gevolg van die skrapste opgehoopte voorrade in dekades.

Verligting kan om die draai wees, want behalwe dat die hoë koringprys meel en brood al hoe duurder maak, spoor dit boere aan om meer te plant.

Amerikaanse boere beplan om in die komende jaar 6 persent meer koring as in 2007 te plant, sê die USDA. Vooruitsigte vir hoër produksie in die res van die wêreld, onder meer die Europese Unie, Oekraïene en Australië, lyk ook gunstig, lui die departement se koring-vooruitskouing vir 2008/'09, waarvan 'n opsomming pas bekend gestel is.

Nog beter nuus is dat 'n verwagte 8 persent meer lentekoring en 22 persent meer durum-koring - die hoofbestanddele van stapelvoedsel soos brood en pasta - op Amerikaanse plase geplant gaan word.

Amerika is die wêreld se grootste koringprodusent, en maak normaalweg op sowat 'n kwart van die wêreldmark aanspraak. Dié aandeel het die afgelope tyd skerp toegeneem nadat talle ander regerings uit vrees vir binnelandse tekorte maatreëls ingestel het om hul eie koring-uitvoere te beperk of stop te sit.

Die USDA beraam dat dié land se koring-uitvoer vir 2007/'08 bykans 'n derde meer as in die vorige boekjaar gaan wees. Terselfdertyd behoort uitvoer-totale vir Kanada, die Europese Unie en Australië - wie se oeste die afgelope produksieseisoen erg deur ongunstige weer geknou is - aansienlik kleiner te wees, sê die departement.

Uitgebreide koring-aanplantings in Amerika sal ten koste van mielieproduksie wees. Mielie-aanplantings behoort so 8 persent minder as in 2007 wees, beraam die USDA. Mielie-hektare sal nie net deur koring verplaas word nie, maar ook deur sojabone, wat met 'n verwagte 18 persent gaan toeneem.

Die USDA skryf dié verskuiwings aan hoë insetkoste vir mielies, wisselbou-oorwegings, en hoë koring- en sojaboon-pryse toe. Desondanks sal mielie-aanplantings steeds op van die hoogste vlakke ooit en die mielieprys hoog bly, meen die departement. Dit is in groot mate vanweë voortgesette groei in etanolproduksie.

3 April 2008