Landbou
Sertifisering noodsaaklik vir moerbedryf
Deur NEELS MARAIS

Suid-Afrikaanse aartappelboere plant jaarliks ongeveer 9 000 hektaar aartappels vir die produksie van aartappelmoere. Nagenoeg 5 miljoen sakkies moere (van 25 kg) van 'n groot verskeidenheid kultivars word jaarliks geproduseer.

'n Onafhanklike sertifiseringskema kontroleer die standaard in die moerbedryf. Sodoende word aartappelmoere volgens streng vereistes gesertifiseer. Moere word vir bakteriese en virussiektes getoets en moet aan neergelegde verdraagsaamheidvereistes voldoen.

'n Aantal koöperasies, private maatskappye en mense behartig die bemarking en verspreiding van aartappelmoere op 'n agentskap- of handelaarsbasis.

Al hierdie organisasies, wat ook 'n tegniese voorligtingsdiens verskaf, word onder een vaandel, naamlik die Moerhandelaarsforum van Suid-Afrika, saamgesnoer.

Die lede voldoen aan reglementbepalings en onderteken 'n gedragskode wat onder meer minimum vlakke van kennis bepaal ten einde te verseker dat hulle 'n professionele diens aan die bedryf lewer. Die lede verbind hulle om slegs handel te dryf met aartappelmoere wat ingevolge die bepalings van die Suid-Afrikaanse Aartappelmoer-sertifiseringskema gesertifiseer is.

Die gebruik van gesertifiseerde aartappelmoere is noodsaaklik vir die suksesvolle verbouing van aartappels. Aartappels is 'n duur en hoogs gespesialiseerde gewas om te verbou. Daarom sal dit vir ervare sowel as beginnerboere wys wees om spesialisbemarkers en tegniese voorligters te gebruik.

Laat verlede jaar is daar in die media berig oor 'n voorstel dat alle moerproduksie voortaan ingevolge 'n verpligte skema moet plaasvind. Dit is deur die Moerkwekersforum ter tafel gelê. Tans is die Aartappelmoer- sertifiseringskema vrywillig. Sowat 80% van alle aartappelaanplantings word met gesertifiseerdemoere gedoen.

Die Moerkwekersforum het 'n paar voorstelle gemaak om die Regering te steun in enige stappe wat hy mag doen. Dié voorstelle sluit in dat alle plaaslike instansies wat by die vermeerdering van mikroplante betrokke is, by die Onafhanklike Sertifiseringsraad vir Aartappelmoere geakkrediteer word. Verder moet almal wat miniknolle in Suid-Afrika produseer, ingevolge die skema geregistreer word. Wat betref die vermeerdering van alle plantmateriaal (ook ingevoerde materiaal) stel die Moerkwekersforum verpligte registrasie vir die eerste twee opeenvolgende generasies voor.

Mnr. Neels Marais is die voorsitter van die Moerhandelaarsforum van Suid-Afrika.

Landbouweekblad, 4 April 2008