Landbou
Sistemiese middels bevorder produksie
Deur JEAN LE ROUX

Swamsiektes by gars en saadgedraagde en blaarsiektes by koring en gars kan graangehalte en oesopbrengste lelik knou. Hierdie probleme kan egter hokgeslaan word deur die tydige gebruik van doeltreffende landbouchemiese middels wat vir hierdie doel beskikbaar is.

Plaaslik is die voorkoms van swamsiektes by gars een van die faktore wat optimale produksie die meeste belemmer. Daarvan is netvlek (Pyrenophora teres ), wat vir die voortydige afsterf van blare en swak graanontwikkeling verantwoordelik is, een van die grootste bedreigings.

Waar besmetting deur netvlek 'n houvas op gars gekry het, veroorsaak dit kleiner graankorrels en het dit 'n afgradering van die graan se brougehalte tot gevolg. Oesverliese van so hoog as 50% is al aangemeld.

Ander belangrike swamsiektes wat gars aanval en 'n beduidende invloed op hierdie gewas se opbrengsvermoë en graangehalte het, is blaarvlek (Rhynchosporium secalis ), bruinroes ( Puccinia hordei ) en poeieragtige skimmel ofmeeldou ( Erysiphe graminis ).

Met die bekendstelling van die middel Abacus® (reg.nr. L8048, Wet 36 van 1947) deur die landbouchemiese maatskappy BASF kan hierdie swamsiektes nou doeltreffend bekamp word. Die produk se formulasie bestaan uit twee aktiewe bestanddele, naamlik epoksikonasool (in die triasool-groep) en piraklostrobien (in die strobilurien-groep).

Dit is die eerste geregistreerde kombinasie vir die bestryding van swamsiektes by gars in Suid-Afrika.

Piraklostrobien is by uitstek vir die bestryding van netvlek geskik en besit die besonderse eienskap dat dit ook verskeie fisiologiese prosesse in die garsplant bevorder. Dit verhoog stikstof- en koolstofsuurgasopname sodat 'n toename in plantgroei en styselproduksie en gevolglik 'n opbrengsverhoging plaasvind.

Deur die produksie van etileen in die garsplant te onderdruk, word veroudering vertraag en bly blare langer groen en gesond, wat weer die plant in staat stel om die beskikbare vog beter te benut en weerstand teen siektes te bied.

Die verskillende sistemiese werkswyses van die twee aktiewe bestanddele bevorder 'n goeie verspreiding van die middels in die plant, wat 'n langdurige swamdodende effek tot gevolg het. Omdat dit 'n kombinasie van twee onverwante swamdoders met verskillende werkings is, vernietig die middel swamsiektes vanaf spoorontkieming tot en met die miselium-groeistadium.

Die gekombineerde gebruik van twee aktiewe bestanddele in die middel bring mee dat die moontlikheid baie gering is dat swamme weerstand daarteen kan ontwikkel.

Die maatskappy beveel aan dat bespuitings met Abacus® gedoen word sodra die boer besmettingsimptome waarneem. Waar die besmettingsdruk hoog is, moet 'n tweede behandeling drie weke tot vier weke later plaasvind.

BASF bemark ook 'n saadbehandelingsmiddel, Flite® (reg.nr. L4965, Wet 36 van 1947), vir gebruik by koring en gars. Dit is spesifiek vir die bestryding van swamme ontwikkel.

Saad is 'n uitstekende draer vir gewasbeskermingsmiddels. Deur saad te behandel, kan hoër opbrengste teen 'n laer koste behaal word. Saadbehandeling het ook min impak op die omgewing.

Saadbehandeling met Flite voorkom dat saadgedraagde siektes, soos bedekte, stink- en losbrand, asook blaarsiektes, soos blaarvlek, witroes, vaalblaar en streeproes, produksie belemmer. Hierdie middel, met die aktiewe bestanddeel tritikonasool, het 'n kragtige kontak- en sistemiese werking. Om saad te behandel, is 'n eenvoudige proses. Dit kan maklik op die plaas gedoen word deur die saad met die regte hoeveelheid middel in 'n mengdrom, sementmenger of 'n saadbehandelingsmasjien te bedek. Behandelde saad is rooi van kleur sodat dit maklik van onbehandelde saad onderskeibaar is.

Ná vermenging vorm die middel 'n beskermende laag om die saaddop. Wanneer die saad geplant word en dit ontkiem, neem dit die aktiewe bestanddeel op. Die middel versprei dan deur die plant. Na gelang van die dosis wat toegedien is, beskerm hierdie aksie plante teen 'n reeks blaar- en saadgedraagde siektes. Dit is veral doeltreffend teen bedekte, stink- en losbrand.

Landbouweekblad, 18 April 2008