Boere sê maklik kanola lewer 'n ton per hektaar, of jy dit nou goed behandel of nie. Heelparty boere in die suidelike deel van die Wes-Kaap bewys egter die afgelope paar jaar dat opbrengste van tot 2 ton per hektaar moontlik is.
Goeie kanola-opbrengste is geen toeval nie. 'n Mens moet met kanola bóér en dit met dieselfde respek as ander kontantgewasse behandel as jy welslae wil behaal, sê mnr. Abrie de Wet van die GVA-boerdery, buite Caledon.
Hy het verlede jaar se Suid-Kaapse kanolakompetisie met 'n opbrengs van 2,1 ton per hektaar op 'n land van 25 hektaar gewen. Die gemiddelde opbrengs op sy ander lande was 1,8 ton per hektaar. Teen 'n gemiddelde prys van R3 450 per ton en 'n bruto marge van R2 273 per hektaar word dié wisselbougewas dus 'n nuttige bron van kontant.
De Wet meen stikstof- en fosfaatbemesting is ononderhandelbaar en onkruidbestryding moet goed wees. Aan die einde van die seisoen moet kanola op die regte tyd geoes word.
Die GVA-boerdery plant jaarliks 1 300 hektaar graan- en weidingsgewasse. Hulle volg 'n langrotasie-wisselboustelsel, met ses jaar tot sewe jaar lusern, gevolg deur koring, gars, kanola, koring, gars en lupiene of hawer.
Die kanola-jaar begin met goeie grasbestryding en skoon lande. Aangesien raaigras die grootste probleem is, spuit De Wet glifosaat voor planttyd en atrasien vier weke tot vyf weke ná opkoms.
Vir grondvoorbereiding doen hy 'n ligte tandbewerking teen middel-Maart. Hy bandplaas die 3,5 kg saad per hektaar met 'n Simplicity Seeder. Hy gebruik kanolasaad wat met Gaucho, 'n insektemiddel, en Soygro, 'n entstof vir die bestryding van plantsiektes, behandel is.
"Ek probeer om nie later as 25 April te saai nie. As dit op 1 April reën, sal ek saai. Hoe vroeër, hoe beter."
Verlede jaar het hy in droë grond geplant, maar die naweek daarna het dit gereën. Hy kry 300mm tot 350mm reën per jaar.
Die kanolakultivar wat De Wet die afgelope twee jaar gesaai het, is Thunder TT.
De Wet dien 80 kg stikstof deur die seisoen toe - 'n derde met saaityd, 'n derde 30 dae ná opkoms en 'n derde met blomtyd. Hy dien 15 kg fosfaat met saaityd toe.
Die slak- en isopodaprobleme wat verskeie kanola-oeste op ander plase in sy streek geknou het, is nie by hom 'n probleem nie. Hy gooi nie slakpille as 'n praktyk nie.
Die enigste land waar dié plae wel probleme gegee het, was op die grond wat hy in die omgewing huur. Hy vermoed dit is omdat dié kamp teen 'n koeler suidelike helling geleë is, waar sy ander kanola-kampe teen noordelike en westelike hellings is. Dit is juis dié kamp wat sy gemiddelde kanola-opbrengs tot 1,8 ton per hektaar afgebring het.
Om luise, wat ook kanola-opbrengste kan knou, te bestry, spuit hy in die blomstadium met dimetoks en supermetrien.
As oestyd kom, kan kanola nie wag nie, sê De Wet. Hy sny plat en oes dan. Interessant genoeg, hy het verlede jaar die wenkamp begin platsny, maar ná een draai besef dit is nog nie reg nie. Hy het vier dae gewag en toe platgesny. Hy meen die goeie opbrengs wat behaal is, het ook met die voginhoud te doen. Dit is ideaal om teen 'n voginhoud van 11,5% te stroop. "As kanola te droog is wanneer dit geoes word, kan die pitte uitwaai en 'n mens laer opbrengste besorg."
Hy sê die een wat platsny, moet weet wat hy doen. "Dit is beter om hoog te sny sodat die windrye kleiner is. Ons probeer soggens en saans oes sodat die pitte nie so uitspring nie."
Kanola is deeglik in die Suid-Kaapse wisselboustelsels gevestig, veral by die boere wat met onkruidweerstand sukkel. Boonop maak die prys van kanola dit nou moontlik om met grane mee te ding, sê mnr. Charl van Rooyen, landbouvoorligter van die Wes-Kaapse departement van landbou op Caledon. "Teen die heersende prys kan 1,4 ton kanola per hektaar vergelyk word met 2,8 ton gars per hektaar."
Van Rooyen se jare lange betrokkenheid by die Suid-Kaapse kanolakompetisie toon dat daar nog vele gebiede is waarop boere kan verbeter om hoër opbrengste te kry. Wanneer kultivars gekies word, moet die potensiaal en reënvalpatroon, die mate van onkruidweerstand en die onkruidgeskiedenis van die kamp in berekening gebring word.
'n Vroeë saaidatum kan 'n beter opbrengs verseker, dog isapoda-skade kan boere in die toekoms dwing om te wag totdat 75mm reën geval het voordat hulle saai. Daar is nog nie 'n bevredigende landbouchemiese oplossing vir dié probleem nie. Kampe moet deur die seisoen gereeld geïnspekteer word, ook vir die bestryding van slakke.
Van Rooyen sê navorsing by Overberg Agri se Roodebloem-proefplaas toon dat 'n kombinasie van metaldehied en karbaril hierdie twee plae doeltreffend bestry het. Plantdigthede van 2,25 kg per hektaar tot 4,8 kg per hektaar was verlede jaar algemeen. Die gemiddelde plantdigtheid was 3,5 kg saad per hektaar. Volgens Van Rooyen wissel die saadgrootte van sekere kultivars. Volgens homsal dit vir boere van groot hulp wees as saadverskaffers - soos by koring - die duisendkorrelmassa op die saadsakkies kan aanbring.
Met vlakker bewerkings kom die werk gouer klaar, maar vir 'n goeie stand kanola moet die grond dieper deurdringbaar wees as vir graangewasse. Van Rooyen stel 'n dieper tandbewerking voor saaityd voor of dat boere hul planter se tande dieper stel.
Nog 'n knelpunt by kanolaverbouing is stikstofbemesting, wat in sommige gevalle steeds laag is. Van Rooyen wys daarop dat 'n besparing op stikstof in die kanolajaar 'n lae proteïen-inhoud tot gevolg kan hê in die koring wat daarna geplant word.
Pryse kan selfs hoër
Die prys wat boere vir kanola kry, volg in
die voetspore van plaaslike en internasionale
koringpryse. Dit het van R2 100 per
ton in die 2006-seisoen tot R3 500 per
ton in die afgelope seisoen gestyg. Suid-
Afrikaanse boere kan boonop verdere
prysstygings - tot by R4 300 per ton
- verwag.
Mnr. Kellie Becker, besturende direkteur van die maatskappy Southern Oil Limited (Soill) op Swellendam, sê die vraag-en-aanbodsituasie is wêreldwyd baie knap, met lae pyplynvoorrade by alle oliesade. "Raapsaad in Europa is op groot skaal vir biodiesel gebruik, maar teen die heersende pryse begin dit onekonomies raak. Dit laat die aanbod van raapsaad in verhouding tot ander oliesade verbeter. Die internasionale sonneblomvoorraad is besonder laag en sonneblomme behaal ongekende premies vergeleke met ander oliesade."
Becker sê die plaaslike kanolamark het van 'n lae basis gegroei, met die plaaslike aanbod wat tradisioneel genoeg was om in die vraag te voorsien en die surplus wat in alternatiewe plaaslike markte verkoop is. Verbruikers kyk gewoonlik na die prys van kanola- en sonneblomolie voordat hulle besluit wat om te koop.
"Onlangse prysverwikkelinge het meegebring dat raapsaadolie uit Europa, wat as alternatief tot kanola na Suid-Afrika ingevoer word, tot $480 per ton (sowat R3 739 ton) goedkoper as sonneblomolie is. Dit het die plaaslike prys van kanolaolie, vergeleke met dié van sonneblomolie, onder druk geplaas. Die vraag daarna het toegeneem en nou word raapsaadolie uit Europa ingevoer, aanvullend tot die plaaslike kanolaproduksie."
Suid-Afrika, met sy jaarlikse produksie van sowat 39 000 ton kanola, is maar 'n klein spelertjie in die mark vir kanola en raapsaad. Die voorste kanolaproduserende lande in 2006/'07 was Kanada (8,513 miljoen ton), Amerika (632 000 ton) en Australië (0,5 miljoen ton). Die Europese Unie (15,991 miljoen ton), China (12,7 miljoen ton), Indië (5,8 miljoen ton) en Rusland (0,525 miljoen ton) was die voorste produserende lande van raapsaad.
Becker sê die plaaslike vraag na kanola-olie is 12 000 ton tot 20 000 ton per jaar. Dit word sterk deur die relatiewe pryse van eetbare olies beïnvloed.
Hoewel Suid-Afrikaanse verwerkers genoeg kanola-olie vir die plaaslike mark kan produseer, kry hulle nog nie genoeg kanolasaad van boere nie.
In Suid-Afrika is die herwinning van olie uit kanolasaad 38% tot 39% weens die laer olie-inhoud van die saad. Internasionaal is die syfer 41% tot 42%.
Soill het 'n oplosmiddel-ekstraksie-aanleg geïnstalleer, wat meebring dat die residuele olie (die olie wat in die oliekoek agterbly) minder as 2% is.
Landbouweekblad, 18 April 2008