Mielie-vooruitsigte vir bestaansboere mik sterk opwaarts luidens die jongste verslag van die Nasionale Oesskattingskomitee: Die oppervlakte styg met bykans 45% en 117% meer mielies word op dié grond verwag.
Volgens 'n verklaring van die Oesskattingskomitee is die oppervlakte beplant met mielies in die bestaanslandbou-sektor op 497 980 ha geskat, wat 'n toename van 44,2% verteenwoordig in vergelyking met die 345 266 ha van die vorige seisoen. Weens gunstige produksietoestande is die verwagte mielie-oes in dié sektor 464 069 ton, wat 117,1% hoër is as die 213 738 ton van die vorige seisoen.
Kommersiële mielies:
As gevolg van gunstige produksietoestande is die grootte van die verwagte kommersiële mielie-oes verhoog met 2,16% van 10,765 miljoen ton na 10,998 miljoen ton. Die oppervlakte beplant is onveranderd gelaat op 2,799 miljoen ha, terwyl die verwagte opbrengs verhoog is na 3,93 t/ha.
Die oppervlakte onder witmielies is 1,737 miljoen ha en vir geelmielies is dit 1,062 miljoen ha. Die verhouding van wit- tot geelmielie-aanplantings is 62:38 teenoor die vorige seisoen se 64:36.
Die produksieskatting van witmielies is 6,525 miljoen ton, 1,50% meer as die 6,429 miljoen ton van die vorige skatting. Die opbrengs van witmielies is 3,76 t/ha teenoor die 3,70 t/ha van die vorige skatting. In die geval van geelmielies is die produksieskatting 4,473 miljoen ton wat 3,15% meer is as die 4,336 miljoen ton van die vorige maand. Die opbrengs van geelmielies is 4,21 t/ha teenoor die 4,08 t/ha van die vorige skatting.
Sonneblomsaad:
Die produksieskatting vir sonneblomsaad is 785 880 ton, wat 2,18% meer is as die 769 080 ton van die vorige skatting. Die geskatte oppervlakte beplant met sonneblomsaad is opwaarts aangepas na 564 300 ha. Die verwagte opbrengs is 1,39 t/ha.
Ander gewasse:
Die produksieskatting van sojabone is 302 250 ton, wat 1,68% meer is as die 297 250 ton van die vorige skatting. Die oppervlakte beplant met sojabone is is opwaarts aangepas na 174 400 ha. Die verwagte opbrengs is 1,73 t/ha.
Die verwagte grondbone-oes is 82 185 ton wat 1,90% hoër is as die 80 650 ton van die vorige skatting. Vir grondbone is die oppervlakteskatting onveranderd gelaat op 54 200 ha. Die verwagte opbrengs is 1,52 t/ha teenoor die 1,49 t/ha van die vorige skatting.
Die produksieskatting van sorghum is onveranderd gelaat op 255 995 ton. Die oppervlakskatting vir sorghum is onveranderd gelaat op 89 800 ha. Die verwagte opbrengs is 2,85 t/ha.
In die geval van droëbone is die produksieskatting sowel as die oppervlakte beplant onveranderd gelaat op onderskeidelik 58 975 ton en 43 800 ha. Die verwagte opbrengs is 1,35 t/ha.
Wintergewasse:
Die syfers vir koring verteenwoordig die totale aantal hektare wat werklik beplant gaan word vir graan, uitgesluit alle hektare wat beplant gaan word vir groenvoer en weiding.
Volgens vraelyste ontvang vanaf 'n steekproef van produsente is die verwagte oppervlakte met koring beplant vir die 2008-produksieseisoen 750 000 ha.
Die opname wat deur die Departement van Landbou onderneem is, weerspieël kommersiële boere se voornemens om wintergewasse te plant soos teen die middel van April 2008.
Die opname toon dat produsente van voorneme is om 118 000 ha (18,7%) meer koring te plant as in 2007. Die grootste produserende gebiede is in die Wes-Kaap, met 347 500 ha (46%) wat 6,9% hoër is as die vorige seisoen, gevolg deur die Vrystaat met 293 500 ha (39%) wat 36,5,% hoër is as die vorige seisoen.
Die produsente het aangedui dat die toename in verwagte aanplantings van koring hoofsaaklik toegeskryf kan word aan beter pryse en voldoende grondvog in die meeste produksiegebiede. Verskeie faktore kan egter nog tot planttyd 'n invloed op hierdie voornemens uitoefen.
Die verwagte aanplantings van moutgars toon 'n afname van 7,1% en die verwagte aanplantings van kanola toon ook 'n afname van 0,6%.
24 April 2008