Landbou
Tegnologie gee geld in die sak


Die stelsel het hom bewus gemaak van gebreke in sy bemestingsprogram; dit is moontlik om jou opbrengs meer eenvormig oor die hele land te kry; dit is aansienlik makliker om probleme reg te stel; en, die inligting is so volledig dat die boer met sekerheid voorkomend kan optree en moontlike probleme vinnig kan regstel.

Só beskryf besproeiingsboere in die Noord-Kaap die waarde van 'n unieke diens waardeur die voordele van hoë tegnologie aan hulle gebied word. Die diens is deel van GWK van Douglas se betrokkenheid by sy lede om 'n groot verskeidenheid inligting tot voordeel van die boere te gebruik.

Met die projek word veranderlikes, soos grondchemie en -fisika, plantfisiologie, die klimaat en die ekonomie, in ag geneem.Die maatskappy maak dan aan besproeiingsboere aanbevelings op plaasvlak rakende bestuursake, soos skedulering, bemesting en bewerking, wat 'n ingrypende verskil aan hul opbrengste maak.

Mnr. Dup Haarhoff, bestuurder van produsentedienste by die maatskappy, sê die afdeling het sowat drie jaar gelede op 'n individuele grondslag begin fokus op aspekte wat 'n invloed op die besproeiingsboere se opbrengs en die gehalte van hul oeste het.

Die stelsel wat ontwikkel is, Hoëtegnologie- boerdery (HTB), waarvan 59 boere reeds deel is, neem soveel as moontlik veranderlikes in ag wanneer aanbevelings oor die bestuur van die boerdery gedoen word.

Die grondchemie word in CAL Labs getoets met monsters wat op 'n ruitpatroon van 100mx 100m geneem word. Altesame 22 chemiese kaarte of verhoudings daarvan word gebied met opsionele opsies soos kleipersentasie, geleiding en weerstand. Die boer kan chemiese regstellings self doen of die dienste gebruik van 'n kunsmisverskaffer wat by die projek betrokke is. Die maatskappy verskaf voorskrifkaarte wat deur 'n selfaangedrewe kunsmistoediener gebruik word om die kunsmis variërend op die lande toe te dien. Só word die chemiese regstellings akkuraat volgens behoefte doen.

Om die grond.sika te bepaal, word penetrometers gebruik op grond met minder as 15% klei om vas te stel of enige verdigting voorkom en wat die aanbevole bewerking vir die volgende seisoen moet wees. Waar die klei-inhoud hoog is,word profielgate gemaak om bewerkingsaanbevelings te doen.

Haarhoff sê besproeiingskedulering word op al die lande toegepas met neutronvogmeters. Hierdie stelsel bestaan reeds meer as twaalf jaar en gedetailleerde dreineringskurwes word gedoen om die stelsel te rugsteun. Sy maatskappy se ervaring wys metings op die oorspronklike plek is die beste metode om waterhouvermoë te bepaal.

Weeklikse stikstofmetings word gedoen op die blare om seker te maak dat die voedingstatus van die plante op peil is. Twee maal per seisoen word NDVI-beelde (verwerkte satellietbeelde) van die betrokke lande met die boere bespreek.

Binne die seisoen kan regstellings gemaak word. Die nut van die stelsel is dat probleme geïdentifiseer kan word terwyl die plante nog groei.

Omdat die klimaat so 'n belangrike rol speel, versamel temperatuursensors uurliks data op strategiese plekke op die land om seker temaak wat die invloed van temperatuur op die opbrengs was.

Aan die einde van die seisoen kan verskeie sinvolle afleidings gemaak word uit opbrengskaarte. Dit word gebruik vir die opstel van ekonomiese kaarte en 'n ekonomiese verslag wat saam met die boer deurgegaan word.

Haarhoff sê geweldig baie inligting is tot dusver ingesamel. Dit is sy maatskappy se uitgangspunt om hierdie inligting in waarde vir die boer om te skep. "Talle boere sê hulle wil nie net mooi kaarte hê nie, maar hulle wil dit ook gebruik. Gelukkig het die maatskappy genoeg personeel om individueel na die boere wat deel van die pakket is, om te sien en só op 'n volhoubare manier wetenskaplik saam met die boer te groei."

Die ervaring is dat groot waarde toegevoeg kan word deur eers op die basiese dinge te konsentreer. As die boer se spilpuntpakket byvoorbeeld nie reg is nie, help dit nie om moeite met besproeiingskedulering te doen nie.

Daarvoor het die maatskappy 'n kenner wat pakkette vir boere ontwikkel wat by hul grond pas. Een van die belangrike waarnemings is dat chemie 'n geringe rol speel in die totale prent van presisieboerdery. As bewerking en skedulering nie geoptimaliseer word nie, word die opname van voedingstowwe erg belemmer.

Die eerste keer kan nou grafies gesien word hoe die verskillende gebiede binne die maatskappy se bedieningsgebied chemies en fisies van mekaar verskil. Standaardbemesting en -bewerking kan daarom nie meer soos in die verlede gevolg word nie. Die meeste aanbevelings is tans op plaasvlak, maar dit verander vinnig in die rigting van spilpunt-vlak.

'n Groot voordeel van die HTB-benadering is dat dit met geheel-plaaskaarte werk. Die algemene eienskappe van die plaas kan só geëvalueer word. Die verskillende grondeienskappe vertel gewoonlik 'n storie van die plaas. Die papieroorlog van jare gelede is ook iets van die verlede.

Die bevinding is dat die totale bestuur van boerderye op 'n hoër vlak is ná die projek - moontlik omdat daar meer oë op die plaas gevestig is as voorheen.

Haarhoff sê 'n paar belangrike wenke is om veranderlikes sover as moontlik konstant te hou. Laboratoriums se herhaalbaarheid is gewoonlik baie goed. Deur nie van laboratorium te verander nie, sal dieselfde standaard behou word.

As monsters op lande herhaal moet word, moet dit aan die hand van dieselfde GPS-verwysings as voorheen wees. Veldwaarnemings is die sukses van die hele projek. Waarnemings moet op die plaas volgehou word. Dit help oor 'n tydperk om ingeligte aanbevelings te doen.

Haarhoff sê goeie data, soos opbrengsdata, is nodig om die projek met sukses te bestuur. Dit is belangrik dat die hele plaas, werkers ingesluit, deel is van so 'n projek. Net dan kan almal optimaal bydra tot die sukses daarvan en ook verantwoordelikheid aanvaar vir sekere aspekte binne die boerdery.

'n Holistiese benadering moet gevolg word, want probleme is selde te wyte aan een enkele faktor.

Goeie grondkundige en akkerboukundige kennis is nodig vir die suksesvolle bestuur van die stelsel. Die personeel wat betrokke is, moet ten volle toegewyd wees, sê Haarhoff.

Sy maatskappy gaan al hoe meer op individuele lande fokus en die ekonomie daarvan (die betalendheid van sekere produkte op spesifeke lande) aan die boere gee, want teen sekere produkpryse kan nie op alle lande ekonomies geproduseerword nie. Dit help om die boer se arbeidsmag by die hele projek te betrek. Dit kan vir 'n boer baie beteken om die verantwoordelikheid vir 'n spilpunt aan een mens te gee. Dié werker word dan betrek wanneer waarnemings op die spesifeke spilpunt met die boer bespreek word.

Die maatskappy het ook 'n burodiens wat aan die HTB-projek gekoppel gaan word. Dit sal die geleentheid bied om sekere insette tussen plase te evalueer. Mnr. Bart van Bergen van Greenfield, Douglas, sê die waarde van die projek vir hom is dat dit hom "wakker" gemaak het oor tekorte in sy bemestingsprogram. Sy eie grondmonsters het nie duidelik aangetoon wat die tekorte is nie. Nadat hy die inligting van die maatskappy gekry en sy bemesting volgens die aanbevelings aangepas het, was sy opbrengs tot 2 ton mielies per hektaar meer.

Die grootste voordeel is dat die verskille in grondtipes selfs onder dieselfde spilpunt op verskillende maniere bemes kan word. Die monitor op die stroper in strooptyd het nog verskille uitgewys wat hy gaan opvolg om die opbrengs meer eenvormig oor die hele land te kry.

Boere wat deel van die projek is, is nou sekerder van hul bewerking,want hulle bespreek die resultate onder mekaar. Met die skedulering word akkurater water gegee. Die hele pakket maak besluite en bestuur makliker.

Mnr. Hein Mülke van Zoutpansdrift, Douglas, sê hoewel hy lankal met opbrengskaarte werk, was dit nie altyd moontlik om die fout in die lande op te spoor en te identifiseer nie. Met dié stelsel is dit makliker om probleme reg te stel. Die inligting is so volledig dat die boer met sekerheid voorkomend kan optree en sy probleem vinnig regstel.

Dit stel boere ook in staat om hul begroting beter te versprei omdat hulle geld wat op een aspek bespaar word, vir 'n ander kan aanwend.

Landbouweekblad, 2 Mei 2008