Landbou
Wette skaad verhoudinge
CHRIS JOOSTE

Wedersydse vertroue, billikheid en doeltreffende kommunikasie is die belangrikste elemente in die verhouding tussen boere en hul werkers. Die jongste arbeidswetgewing het egter hierdie sake 'n knou gegee, het navorsers vasgestel.

Boere moes ná die verkiesing in 1994 feitlik oornag aanpas by 'n veranderde omgewing en spesifiek by 'n geformaliseerde arbeidsomgewing. Dit het belangrike sake, soos vertroue en lojaliteit tussen hulle en hul werkers, in gedrang gebring en sommige boere het bedreig gevoel deur dié veranderings.

Dr. Herman Linde en prof. Jan Visagie van die Universiteit van Noordwes (Potchefstroom) het met die samewerking van Vrystaat Landbou 'n verslag opgestel na aanleiding van 'n vraelys wat in 2003 op die jaarlikse kongres van Vrystaat Landbou onder boere versprei is.

Die teikengroep was geaffilieerde lede van Vrystaat Landbou. Daar kan aanvaar word dat die reaksie wat verkry is, die gevoel van Vrystaatse boere weerspieël. Enkele vergelykings is getref met soortgelyke navorsing wat in 2001 in Noordwes gedoen is om te kyk of eenstemmigheid bestaan tussen boere oor veranderings in arbeidsverhoudinge in die landbou.

Van die 86 respondente is 35 (40,7 %) 50 jaar en ouer. Nie een is jonger as 20 jaar nie, wat daarop dui dat die bevolking uit ouer, gevestigde boere bestaan. Dit wek kommer dat net 23 (26,7 %) respondente jonger as 39 jaar is.

Meer as die helfte (57 %) het aangedui dat hulle 16 jaar en langer boer, wat beteken dat die meeste aktief geboer het voor die verkiesing van die ANC-regering in 1994. Die groep was dus in 'n stadium nie blootgestel aan die formele arbeidsomgewing, gereguleer deur wetgewing, soos vandag nie. Dit is dié groep boere wat in die transformasieproses aanpassings moet doen om in pas te kom met die arbeidsomgewing.

Altesaam 61,6 % het 'n gemengde boerdery. Net 9,3 % van die boere het 31 en meer permanente werkers, terwyl 55,8 % 10 en minder het. 'n Gevolgtrekking kan gemaak word dat boere begin het en besig is om hul arbeidsmag te verminder. Altesaam 73,3 % van die boere het opleiding of kursusse in arbeidsverhoudinge gehad. Byna die helfte (47,7 %) het 'n deeglike kennis van arbeidsverhoudinge, 51,2 % 'n oorsigtelike kennis en 1,2 % het geen kennis nie.

Die meeste (53,5 %) voer onderhoude voordat hulle permanente werkers aanstel. Altesaam 74,4 % was ten gunste van 'n dienskontrak, 22,1% neutraal daaroor en 3,5% daarteen. 'n Meerderheid van 91,9 % gebruik wel 'n geskrewe dienskontrak. Dit kan toegeskryf word aan die Wet op Basiese Diensvoorwaardes (Wet 75 van 1997) en die Wet op Arbeidsverhoudinge (Wet 66 van 1995). Net 8,1 % meen dit is nie noodsaaklik om 'n geskrewe dienskontrak te hê nie. Naastenby dieselfde persentasie (90,7 %) het 'n formele aantekeningstelsel van permanente plaaswerkers.

Byna 99 % is ten gunste van 'n dissiplinêre prosedure, hoewel dit net by 57 % skriftelik gedoen word. Die Wet op Arbeidsverhoudinge (Wet 66 van 1995) bepaal dat die dissiplinêre proses deel vorm van die versoeningsmeganismes. Die afleiding kan dus gemaak word dat 43,1 % van die boere nie aan die bepalings van die wet voldoen nie.

Net 33,7 % gebruik 'n skriftelike grieweprosedure. Altesaam 59,3 % het 'n mondelinge grieweprosedure, terwyl 7 % geen grieweprosedure het nie. Dieselfde wetlike vereistes as vir dissiplinêre optrede geld, wat beteken dat boere hieraan aandag moet gee om aan die bepalings van die wet te voldoen.

Net 22,4 % van die boere gebruik werkerrade op plase om kommunikasie met wer-kers te bevorder. Altesaam 77,6 % gebruik geen werkerrade nie.

'n Groot groep (60 %) het "dikwels of soms" onenigheid met hul werkers sedert nuwe arbeidswetgewing ná 1994 in die landbou in werking gestel is. Net minder as die helfte (40 %) het geen probleme nie.

Oor die invloed van vyf arbeidswette op arbeidsvrede meen net 10,7 % dat die wette arbeidsvrede in die hand sal werk, wat geen twyfel laat nie dat boere arbeidswetgewing as nadelig sien.

Dit wek kommer dat 44,12 % sê werkloosheid in die landbou weens die wette gaan toeneem. Dit beteken dat boere hul werkers gaan verminder om blootstelling te verklein.

Nie een boer voel dat die Wet op Sekerheid van Verblyfreg arbeidsvrede sal verseker nie, terwyl 86,1 % sê dat die wet arbeidsonrus en werkloosheid gaan meebring. Net 15,1 % is positief teenoor die vyf wette in die landbou.

Net 14 % het gesê hulle het nie genoeg kennis om self die nuwe arbeidswette toe te pas nie, 20,9 % het genoeg kennis en 65,1 % het 'n redelike kennis. Daaruit kan afgelei word dat 79,1 % nie genoeg kennis het om arbeidswetgewing toe te pas nie.

Byna die helfte (45,9 %) het aangetoon dat hulle buite-instansies gebruik om te help met die toepassing van wetgewing. Net 29,4 % gebruik soms buite-instansies, terwyl 24,7 % geen hulp gebruik nie.

Dit stem ooreen daarmee dat 57,8 % aan 'n werkgewersorganisasie behoort, terwyl 42,2 % negatief geantwoord het op die vraag.

Die meeste (75,3 %) boere meen dit sal een tot drie jaar vir 'n boer duur om nuwe wetgewing op sy plaas toe te pas. Dit bevestig die vermoede dat boere wegskram van wetgewing en die moontlike implikasies daarvan.

Altesame 55,3 % van die boere meen dat die nuwe wetgewing uitvoerbaar is op plase. Net 3,5 % sê "beslis ja", terwyl 41,2 % sê die wetgewing "moontlik nie" en "definitief nie" uitvoerbaar is nie.

Byna die helfte (40 %) het gesê hulle sal "indien genoodsaak" versoeningsmeganismes van die Wet op Arbeidsverhoudinge (66 van 1995), soos die Kommissie vir Bemiddeling en Arbitrasie, gebruik.

Dit laat geen twyfel nie dat, hoewel boere negatief is oor arbeidswetgewing, hulle tog daarmee saamleef. Dit wek egter kommer dat 15,3 % gesê het hulle is onbekend met die meganismes van die wette.

Klik op die skakel bo-aan die artikel om die volledige verslag wat aan Vrystaat Landbou gelewer is, te lees.

18 Maart 2004