Landbou
Kontrakteurs laat werkers ly
LUCILLE BOTHA

Hoewel die meeste arbeidkontrakteurs in die landbou voorheen plaaswerkers was, keer dit hulle nie om plaaswerkers se regte uit te buit, hulle minder as die minimum loon te betaal en in haglike omstandighede te laat bly nie.

Onlangse navorsing deur die Sentrum vir Landelike Regstudies en Women on Farms toon daar is talle skuiwergate in arbeidswetgewing. Dit maak nie voorsiening vir seisoenale en migrasiewerkers - veral in die Wes-Kaapse sagtevrugtebedryf - nie.

Ál die kontrakteurs wat bekyk is, was eers plaaswerkers en 75% het erken hulle dra nie veel kennis van arbeidswetgewing en werknemersregte nie.

"Hulle kan nie regtig die skuif maak na 'n bestuurder nie," het me. Anthea van der Burg van die sentrum gesê.

Sowat 67% van die kontrakteurs sê hulle betaal die plaaswerkers sowat R50 per dag, maar neem R10 tot R15 vir hulself. Die plaaswerkers word dus minder as die minimum loon betaal. Daar word ook nie voorsiening vir werkloosheidsversekering en die Vergoedingsfonds gemaak nie.

Dit is meesal vroue van tot so ver as Transkei wat deur die kontrakteurs genader word vir werk.

"Een kontrakteur het aangedui dat die werkgewer vir die vervoer betaal, maar dit word dan van die werkers se salarisse aftrek sodra hulle begin werk," lui die verslag.

Die werkers moet meestal op matrasse in hostelle slaap. Min boere vereis betaling vir dié verblyf. 'n Plaaswerker—vrou wie se man 'n kontrakteur is, het vertel hoe die tydelike werkers "in twee hokke" agter haar huis moet bly. Hulle moes beddens en matrasse leen.

Volgens Van der Burg is 'n standaard&-werkverhouding dié tussen 'n werkgewer en 'n werknemer. Ten opsigte van tydelike werknemers het dit egter drie vlakke, naamlik die werknemer, die arbeidkontrakteur en die boer.

Volgens haar verduidelik die wet nie wie die werkgewer in dié geval is nie. Dit is ook onseker waar die verantwoordelikheid lê.

"Die wet is geskryf vir mense in 'n standaard&-verhouding met 'n werkgewer. Dit is waarom tydelike werkers so sukkel, want dit is nie geskryf vir 'n drievlak-verhouding nie," het me. Fatima Shabodien van Women on Farms gesê.

Van der Burg het 'n beroep op die Departement van Arbeid gedoen om voorsiening te maak vir dié drievlak—arbeidsverhouding. Die wet moet ook tydelike werkers in ag neem, "want hulle is weens die onsekere aard van hul indiensneming selfs meer weerloos as heeltydse plaaswerkers".

Vir die navorsing in Grabouw is 107 seisoenale werkers, 12 kontrakteurs en vyf boere geraadpleeg.

Landbouweekblad, 18 April 2008