Tegnologie wat biometriese inligting gebruik om mense elektronies te identifiseer, is nou binne die bereik van kleinerondernemings, soos boerderye.
Die gebruik van unieke eienskappe, soos vingerafdrukke, om 'n mens elektronies te identifiseer, kan boere help met personeelbestuur én veiligheid. Biometrika, soos hierdie tegnologie bekend staan, is plaaslik beskikbaar en meer bekostigbaar as wat baie mense dink.
Mnr. Johan Grobler van International Business Data (IBD), 'n Kaapstadse onderneming wat biometriese produkte vir personeelbestuur verskaf, sê dié onderneming se betrokkenheid by korporatiewe ondersoeke het hom oortuig dat biometrika die beste manier is om tydverlies te beperk.
Volgens hom verloor 'n onderneming wat 'n werknemer R2 500 per maand betaal, jaarliks R2 080 per werknemer as só 'n werknemer daagliks 'n halfuur van die werkgewer se tyd mors. 'n Onderneming wat 50 werknemers het, betaal dus elke jaar R104 000 vir tyd waarvoor nie gewerk is nie. Daarteenoor kos die stelsels wat sy maatskappy bemark van R7 500 tot R17 500.
Mnr. Grobler sê die stelsels wat vir tyd- en aanwesigheidsbestuur bemark word, kan volgens die boer se behoeftes aangebring en aangepas word. Hierdie stelsels het 'n ingeboude toegangsbeheerfunksie, maar daar is ook stelsels beskikbaar net vir toegangsbeheer. Mobiele eenhede wat gebruik kan word om stukwerkers te bestuur, kan ook voorsien word.
Die voordeel van biometrika bo ander stelsels is dat dit 'n mens sonder twyfel identifiseer. 'n Afstandbeheerder om 'n hek oop te maak, kan gesteel word, en wagwoorde en sleutelkodes van gewone stelsels kan onderskep word. Werknemers verloor ook hul inklok- of toegangsbeheerkaarte, of gebruik iemand anders se kaart om toegang te kry. In teenstelling hiermee kan biometriese inligting nie vervals of onderskep word nie.
'n Probleem met tradisionele stelsels is dat 'n werkgewer foute kan maak met die aantekening van teenwoordigheid en die berekening van die werklike ure wat iemand gewerk het. Op betaaldag lei dít dikwels tot ontevredenheid onder werknemers. Boonop moet hierdie inligting met die hand uitgewerk word, wat tydrowend is.
Mnr. Grobler sê hul stelsels gebruik vingerafdrukke as identifikasie. As iemand sy vinger op die vingerafdrukskandeerder druk, word die afdruk vergelyk met dié wat in die databasis opgeberg is. Identifikasie vind byna onmiddellik plaas.
Die program identifiseer nie net die vingerafdruk nie, maar kan ook sien of die persoon geregtig is om op daardie tydstip toegang tot die perseel te kry. Die toestel kan só gestel word dat iemand nie buite sy werksure toegang tot 'n perseel kan kry nie. Alle regmatige én onregmatige pogings om in te kom, word in die databasis opgeberg.
Wat personeelbestuur betref, kan die boer die stelsel vir verskillende vertakkinge van sy boerdery gebruik. Só kan hy bepaal waar probleemgebiede is.
Ander kenmerke van dié stelsels sluit die volgende in:
'n Stel van vier vingerafdrukke van een persoon word in die databasis opgeberg om die kans op en spoed van herkenning te verhoog.
Op grond van die besonderhede wat outomaties vasgelê word, kan die werkgewer verskillende verslae skep, byvoorbeeld oor oortydwerk, af-wesigheid en laatkommery. Die werkgewer kan voor betaaldag 'n uitdruk hiervan maak en die werkers daarby laat teken. Só word dispute oor vergoeding op betaaldag voorkom. Inligting wat deur die stelsel versamel word, kan regstreeks in personeelbestuurprogramme oorgelaai word.
Navrae: Mnr. Johan Grobler, tel. 021 949 4497 of sel 083 500 8887.
23 Januarie 2004